Mnr. Nick Serfontein, voorsitter van die Sernick-groep, skryf dié verbetering onder meer daaraan toe dat vleispryse in die afgelope jaar met sowat 35% gestyg het. Daar was ook ’n styging in die prys van speenkalwers en teeldiere vir kuddebou ná die droogte.

“Indien net die verwagte bevolkingsaanwas van Suid-Afrika in ag geneem word, sal meer as 30% meer vleis in die volgende dekade gelewer moet word," sê hy.


Goeie nuus vir landbou

“Beperkte hulpbronne, soos grond en water, sal oordeelkundig aangewend moet word om volhoubare voedselproduksie te verseker. Maar dié uitdaging beteken goeie nuus vir die vleisbedryf en die landbou.”

Hy het op die Aldam-veeskool gesê voerkrale sal hul sokkies moet optrek om ekonomies lewensvatbaar te bly, veral ten opsigte van groei en die residuele voerinname van beeste waaroor nog baie navorsing gedoen moet word.

Volgens Serfontein sal voerkrale se winsgewendheid toenemend afhang van die vleisbeesbedryf se suksesvolle verbetering van voeromsetting. “Die huidige voeromsettingsverhouding van 1 kg liggaamsgewig vir elke 6 kg voer sal tot 4,5 kg voer moet verbeter, anders sal die voerkrale nie kan voortbestaan nie.”