So nie kan hulle ’n onaangename verrassing kry.

Mnr. Ryno van der Merwe, voorsitter van die Namibiese Landbou-unie (NLU), het op die tiende Aldam-veeskool by Ventersburg, aangebied deur Landbouweekblad, die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) en Breedplan, gesê hulle het besluit om by grondhervorming betrokke te wees. “Ons leef en produseer in ’n dinamiese, veranderende omgewing. Ons het soms ons eie opvattings wat nie op feite gegrond is nie en skenk aandag aan aspekte waaraan ons niks kan doen nie,” het hy gesê.

Veranderings veroorsaak onsekerhede en ’n mens kan maklik só verlore raak in jou opvattings dat dit lyk of daar geen hoop is nie. Sodoende verwoes mense hul drome.

Die belangrikste veranderings is op maatskaplik-ekonomiese vlak. Die politieke omgewing en sentimente het verander om die onregverdighede van die verlede te verander. Hierdie prosesse is nie noodwendig reg of verkeerd nie, maar gaan oor politieke strewes versus die ekonomiese werklikhede. Die probleem is om ’n balans tussen die twee te vind.

Van der Merwe het gesê die landbou en grondhervorming is deel van die politieke veranderings. “As jy sê dis nie die waarheid nie, gaan jy ’n groot verrassing kry. Wil ek die Regering ignoreer of deel van die toekoms wees? Anders sal die Regering besluite namens ons maak,” het hy gesê. Dit gaan gepaard met frustrasies en harde werk. Dit gaan nie oor “gatkruip” nie, maar om deel van ’n proses te wees om ’n goeie toekoms te verseker.

Mense moet dus bereid wees om te deel; nie noodwendig rykdom nie, maar ook kennis, vaardighede en ondervinding om ’n voordelige bydrae te lewer. Dit verg ’n keuse: links of regs. Daar is niks tussen-in nie. “Wil jy jou eie slagoffer wees of gaan jy die werklikhede erken? Gaan jy ander mense blameer of aanspreeklikheid aanvaar? Dis skrikwekkend hoe sommige mense ander mense blameer pleks van die werklikheid te aanvaar. As jy die uitslag wil verander, verander jou benadering, nie jou doelwit nie,” het Van der Merwe gesê.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.