Dierewetenskaplikes spot dikwels dat die benutting van genetiese verbetering deur boere omgekeerd eweredig is aan hul status in die gemeenskap. Dink bietjie – bo-aan die lys ’n halfeeu gelede was die gesiene bees- en skaapboere. Onderaan die lys was gewoonlik die hoender- en varkboere. Hoe het dinge nie verander nie! Nou skyn dit presies die teenoorgestelde te wees.

As wetenskaplikes kan ons waarskynlik die aanspraak maak dat die grootste deel van hierdie verandering in status aan die wetenskap van veeteelt en die gevolglike genetiese verbetering in eienskappe van ekonomiese belang toegeskryf kan word. Uiteindelik is dit geld en winsgewendheid wat dikteer.

Soos die wêreld ryker word, sal proteïenverbruik toeneem

In my rubriek gaan ons ’n aantal van die begrippe ondersoek wat verband hou met veeteelt en wat tot voordeel van alle boere van alle veerasse in Suider-Afrika sal wees. ’n Basiese begrip van teelbeginsels sal vir die hele bedryf miljarde rande werd wees.

Groeiende, ryker bevolking

Die grafiek toon die toename in bevolkingsgetalle sedert die jaar nul. Terwyl daar in 1350 sowat 370 miljoen mense ná die Groot Hongersnood en die Swart Dood was, het dit in minder as 600 jaar tot ’n massiewe 7 miljard mense aangegroei. Teen 2050 sal dit na verwagting op 9 miljard staan.

genetikakan groterbevolkingvoedgrafiek

Die jaar 2050 word dikwels gebruik as ’n aanduider van wanneer die wêreld oorbevolk en die omgewing onder kwaai druk sal wees. Nege miljard monde is baie om te voed, en alle voorspellings deur die Voedsel- en Landbouorganisasie (VLO) van die Verenigde Nasies toon dat die produksie van melk en beesvleis sal moet verdubbel om in die verwagte vraag te voorsien. Hoenderproduksie sal na verwagting met 800% styg.

Daar is ook ’n regstreekse verband tussen proteïenverbruik en welvaart. Soos die wêreld ryker word, sal proteïenverbruik toeneem. Die Westerse wêreld verbruik gemiddeld meer as 80 kg vleisproteïene per kop per jaar, vergeleke met die ontwikkelende wêreld wat minder as 10 kg per kop per jaar verbruik. China het byvoorbeeld in minder as 30 jaar ’n toename in proteïenverbruik van 10 kg per kop tot meer as 30 kg per kop beleef.

’n Soortgelyke toename in proteïenverbruik word in ander ontwikkelende lande verwag soos die welvaart in dié lande verhoog. Afrika is geen uitsondering nie. ’n Onlangse artikel in The Economist toon dat die Internasionale Monetêre Fonds voorspel dat Afrika-lande die topsewe van die toptien lande met die vinnigste groei in proteïenverbruik sal uitmaak. Tans is die toename in proteïenverbruik hoofsaaklik in die Oosblok-lande.

Daar bly meer mense in die gedeelte bestaande uit China, Indië, Pakistan, Korea en Indonesië as daarbuite. Waarop dit neerkom, is dat Suid-Afrika se stoet- en saadvoorraadbedryf daarop moet begin klem lê om verhoudings met nywerheidsvennote in hierdie lande (en Afrika) te vestig, soortgelyk aan wat Brittanje, Amerika, Australië en Nieu- Seeland oor die laaste dekade gedoen het.

Bedrywe raak doeltreffender

Die toename in die vraag na proteïene sal ongelukkig nie noodwendig ’n toename in die produsenteprys meebring nie. Die werklikheid is dat die hoender- en varkbedryf steeds doeltreffender raak. Minder graan is nou nodig om meer kilogram vleis te produseer. Die bees- en skaapbedryf sal in hul voetspore moet volg om te verseker dat hul produkte op die supermark se rakke bly. Melkboere regoor die wêreld kan meer doeltreffende ’n produk lewer danksy ’n groter benutting en begrip van tegnologie en veeteelt.

Kortom:

*Veeteelt en genetiese verbetering hou ekonomiese voordele in.

*Afrika gaan teen 2050 een van die grootste proteïenverbruikers wees.

*Die stoetbedryf moet strategiese verhoudings met nywerheidslande vestig.

  • Dr. Michael Bradfield het diereteelt aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer en sy M.Sc. in diereteelt aan die Universiteit van Edinburgh in Skotland behaal. Hy het sy Ph.D. in Australië gedoen.