Botha het gesê een van die beste aanduidings dat Suid-Afrika weer op die herstelpad is ná die chaotiese tydperk onder oud-pres. Jacob Zuma, is die sterk groei in kapitaalvorming.

“Kapitaalvorming is die aankoop van daardie toerusting wat nodig is om produksie te laat groei. In die  landbou is dit byvoorbeeld die aankoop van trekkers, of in die boubedryf werktuie soos sementmengers of vragmotors,” het Botha gesê. ’n Sterk herlewing in kapitaalvorming het een van die sterkste pilare gevorm na ’n positiewe bruto binnelandse produk-groeikoers. “Hierdie sleutelaanwyser, wat met toekomstige BBP-groei geassosieer word, het in reële terme met meer as 18% gegroei gedurende die tweede kwartaal van 2019,” het Botha gesê.

Hy het egter gewaarsku om dié groei te bly verseker, moet daar nie aan eiendomsregte geraak word nie. “Wanneer privaat eiendomsreg weggeneem word, vind kapitaalvorming net nie plaas nie. Suid-Afrika staan midde-in ’n debat oor grondonteiening en kan dit nie bekostig om grondhervorming verkeerd toe te pas nie,” het Botha gesê.

Hy het beklemtoon Suid-Afrika is nie Zimbabwe of Venezuela nie. “Dit is die grootste gediversifiseerde ekonomie in Afrika met een van slegs twaalf geldeenhede ter wêreld wat gebruik word om die FTSE-aanwysers te bepaal. Ons het deur ’n tydperk van geen beleid nie beweeg na ’n nuwe tydvak met sinvolle planne van mnr. Tito Mboweni, minister van finansies. Terselfdertyd bly pres. Cyril Ramaphosa benadruk dat geen produktiewe grond onteien sal word nie, terwyl die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) weer bekyk sal word om sektor-spesifieke beleid te bepaal om die ekonomie te herstel,” het Botha gesê.

Twee strategieë is volgens hom nodig om dit te bewerkstellig. “Die openbare sektor moet meer kundigheid en bevoegdheid verkry, en die struikelblokke tot groei in elke sleutelsektor van die ekonomie moet uit die weg geruim word.

“In die lig van die nouer samewerking tussen die privaat sektor en die regering, politieke verandering met ’n president wat internasionale handel verstaan, en die verwydering van strukturele beperkinge, is dit onmoontlik vir ’n objektiewe ekonoom om nie optimisties oor Suid-Afrika se toekoms te wees nie,” het Botha gesê.