Deur inteling kan kuddes se produksie en oorlewingsvermoë gaandeweg afneem, genetiese afwykings kan voorkom en ’n seleksie-perk word bereik. Só word dit verhoed.

Verskeie skoubeoordelaars glo steeds in eenvormigheid en die waarde van inteling van bloedverwante om ’n groep beeste of skape te teel wat soortgelyk aan mekaar is wat vorm en grootte betref. Eeue gelede is hierdie selfde intelingsbeginsels op families van toepassing gemaak. Veral die Europese adel het daaraan geglo, maar om ander redes.

Volgens rekords was die adel destyds besorg oor die “suiwerheid van hul bloed” en hulle het familielede aangemoedig om te ondertrou sodat die adellike bloed nie met dié van gewone mense meng nie (en natuurlik om die familieskatte te bewaar).

Eers toe genetiese afwykings meer gereeld opgeduik het, is familielede aangespoor om eerder met adellikes uit ander huishoudings en lande, of selfs gewone mense, te trou. ’n Onlangse studie bewys dat hoë vlakke van inteling vir die ondergang van die Spaanse Habsburg-familie verantwoordelik was. Koning Karel die Tweede was fisiek en verstandelik gestrem en onvrugbaar. Hy was meer aangebore as in ’n broer-susterverhouding. Met sy dood in 1700 het die vorstehuis se hele manlike lyn uitgesterf.

Net so het heelwat stoetkuddes in onbruik verval weens hoë vlakke van inteling. Toe die Britse wetenskaplike Robert Bakewell (1792) voorgestel het dat een bul by ’n groep koeie gebruik word en dus deur die “selektiewe gebruik van ’n bul” die kudde verbeter, was min nog bekend oor die invloed wat selektiewe inteling op ’n kudde sal hê.

Tot vandag toe is die voordeel dat gunstige teelmateriaal maklik gemanipuleer kan word. Die nadeel is egter die skadelike invloed wat inteling op die kudde kan hê. In hierdie vroeë stadium is dit egter eerder as ’n voordeel as ’n nadeel gesien, want “soortegte” diere het só ontstaan.

Nadele van inteling

Daar word dikwels na inteling verwys as die dief in die nag, want dit beïnvloed gewoonlik ’n kudde se vrugbaarheid en oorlewingsvermoë. Hierdie kenmerke word nie maklik waargeneem nie en die kudde word dus gaandeweg minder produktief.

Teen ’n intelingsvlak van 25% (dit kom maklik voor in ’n kudde wat opsetlik ’n beleid volg dat bloedverwante diere toegelaat word om te teel, want die vlak van inteling neem toe met verloop van tyd) is die resultaat ’n afname van minstens 10% in die kalfpersentasie. Sowat twee tot drie uit elke honderd kalwers is doodgebore.

Inteling word eenvoudig beskryf as die paring van pare wat geneties na aan mekaar verwant is. Jy en jou suster is byvoorbeeld 50% verwant, net soos wat jy met jou ma of pa is (dis ’n algemene wanopvatting dat julle 100%-verwant is). ’n Suster x broer-paring in diere sal dus lei tot ’n 25%-inteling. Net so sal ’n pa x dogter-paring ’n inteelvlak van 25% hê. Deur volle neefs en niggies met mekaar te paar, ontstaan inteling van 6,25%. In diereteelt mik genetici daarna om ’n kudde se intelingsvlak onder 5% te hou.

Die ander nadelige invloed is natuurlik die verwoestende genetiese afwykings wat voorkom. In ’n natuurlike bevolking sal hierdie gene gewoonlik min invloed op die dier se prestasie hê, maar in ’n ingeteelde bevolking word die prestasie gekompromitteer.

Laastens sal ’n ingeteelde bevolking nie dieselfde mate van reaksie op genetiese seleksie toon nie. ’n Seleksie-beperking word bereik, wat beteken dat enige seleksie vir ekonomies belangrike kenmerke, soos groei, doeltreffendheid en voortplanting, beperk sal wees. In die jongste dekade het ’n skuif na saamgestelde rasse, veral in vleisbeeste, plaasgevind. Daarmee saam het die behoefte aan variasie ontstaan om die reaksie op seleksie vir ekonomiese belangrike kenmerke te verbeter.

Selfs binne ’n ras selekteer boere nou vir bulle (of ramme) wat aan verskillende markvereistes voldoen. Bulle kan byvoorbeeld gekies word om eerder by verse gebruik te word, vir kruisteeldoeleindes, vir speenkalfproduksie of selfs om nageslag te produseer wat meer geskik is vir os- of veldproduksie. Genoeg genetiese variasie moet binne ’n ras (suiwer of saamgestel) bestaan om bulle te verkry wat aan al die verskillende markbehoeftes voldoen.

Praktiese wenke

Verhoed inteling deur met elke nuwe generasie van jou bulle of ramme te vervang. Moet nooit ’n bul met sy dogters paar nie en probeer selfs oupa x dogter-parings of parings tussen neefs en niggies vermy. Kuddebestuurs- en internet-sagteware is beskikbaar waarmee die paring van bloedverwante vermy kan word.

Kortom:

¦ Teen ’n intelingsvlak van net 25% kan die kalfpersentasie met sowat 10% afneem.

¦ In ’n ingeteelde bevolking sal die seleksie vir ekonomies belangrike kenmerke, soos groei, doeltreffendheid en voortplanting, beperk wees.

¦ ’n Kudde se intelingsvlak moet verkieslik minder as 5% wees.

  • Dr. Michael Bradfield het die graad BSc (hon) aan die Universiteit van die Vrystaat, MSc by Edinburgh en Ph.D. in diereteelt in Armidale, Australië, verwerf.