Dr. Michael Bradfield, organiseerder van die geleentheid wat jaarliks met die samewerking van Landbouweekblad by Aldam gehou word, sê die Lewendehawe-registrerende Federasie (LRF) het besluit om kontinuïteit te behou en die veeskool eerder oor die internet aan te bied as om dit vanjaar oor te slaan.

Die tema is “Lewendehaweproduksie, Terug na die Basiese Beginsels”. Die oorspronklike datums van 14 tot 16 Oktober word behou. Lesings word daagliks van 09:00 tot 12:00 aangebied. Landbouweekblad, wat al verskeie virtuele konferensies sedert die uitbreking van Covid-19 gehou het, en Brand Republic, wat die tydskrif se televisieprogram Landbouweekliks vervaardig, span saam met die LRF om die veeskool virtueel aan te bied.

“Dit stel ons ook in staat om méér mense die geleentheid te bied om na die wêreld se voorste veekenners te kyk en te luister, vanuit die gerief van hul huise. Dit is ook baie goedkoper omdat daar nie reis-, verblyf- en maaltydkoste betrokke is nie,” sê Bradfield.

Dit kos net R300 per persoon vir mense wat voor 16 September registreer en betaal om na al drie dae se lesings te luister. Daarna bedra die koste R500.

Oorsese kenners en sommige plaaslike deskundiges sal hul lesings regstreeks vanuit hul huise lewer, terwyl van die veekenners hul lesings vanuit Brand Republic se ateljee sal lewer.

’n Nuwe program is saamgestel om die kleiner getal lesings te huisves. Elke lesing sal ’n halfuur duur. Ná elke dag se lesings sal ’n vraesessie gehou word waar deelnemers hul vrae virtueel aan die sprekers kan rig.

14 Oktober

Tema: “Die beginsels van ’n winsgewende veeboerdery”

Sprekers: 

Dr. John Purchase (Agbiz Suid-Afrika): Wat veeboere gedurende die volgende vyf jaar kan verwag. 

Prof. Kevin Kirkman (Universiteit van KZN): Wisselweiding wat vir die omgewing geskik is. 

Dr. Bob Weaber (Colorado-staatsuniversiteit, Amerika): Die ideale koeigrootte vir die  omgewing. 

Prof. Dietmar Holm (Universiteit van Pretoria): Wanneer verse gepaar en die ideale kalfseisoen beplan moet word. 

Prof. Eddie Web (Universiteit van Pretoria): Produksie- en reproduksiedoeltreffendheid in ’n winsgewende veeboerdery. 

Mnr. Martin Seyfferdt (interrasbeoordelaar) en prof. Frikkie Neser (Universiteit van Vrystaat): Bul- en koeiseleksie.

15 Oktober

Tema: “Fokus op die belangrike aspekte wat ’n volhoubare veeboerdery verseker”

Sprekers: 

Prof. Frikkie Maree (Universiteit van die Vrystaat): Internasionale markte en hul vereistes. 

Mnr. Danie Slabbert (boer): Herlewingslandbou in veeboerdery. 

Dr. Chantelle Erwee (Zoetis): Sleutelaspekte wat ’n onmiddellike uitwerking op dieregesondheid het. 

Mnr. Johan Mouton (Molatek): Die basiese beginsels van optimale voedingkundige vereistes. 

Me. Cheri-Lynn Steyn en prof. Frikkie Maree (Universiteit van die Vrystaat): Aanpassing van vee vir meer wins.

16 Oktober

Tema: “Tegnologiese beginsels wat op veeproduksie toegepas kan word om internasionaal mededingend te word”

Sprekers: 

Me. Izaan du Plooy (LRF) en prof. Frikkie Neser (Universiteit van die Vrystaat): Die waarde van seleksie, gebaseer op beraamde teelwaardes ná twintig jaar se resultate. 

Dr. Paul Arthur (Nieu-Suid-Wallis se departement van primêre nywerhede, Australië): Die waarde van seleksie vir voerdoeltreffendheid in voerkrale en op natuurlike weiding. 

Dr. Matt Wolcott (eenheid vir diereteelt en -genetika, Australië): Reproduksietegnologie in Australië met Bos indicus-beeste as voorbeeld. 

Dr. Mario Beffa (Zimbabwe) en mnr. Jaco Maas (BKB): Diere-identifikasie, naspeurbaarheid en blokkettingtegnologie. 

Mnr. Christian Duff (Angus-genootskap van Australië): Kan genomika die lewendehawebedryf hervorm, met die Australiese Angus in voerkrale as voorbeeld. 

Besprekings is deur Quicket. Klik hier om jou bespreking te maak.