Die Namibiese vee-en-vleiswaardeketting is ’n eenvoudige vennootskap waarin die boer hom daarop toespits om vee van goeie gehalte na die smaak en voorkeur van die verbruikersmark te lewer, terwyl die verwerkers, verspreiders en bemarkers daarop konsentreer om produkte te verwerk en aan hoëwaardeklante te bemark teen die bes moontlike pryse wat die hele waardeketting tot voordeel strek. 

Só het die Namibiese megaboer mnr. Mecki Schneider op die jaarlikse Aldam-veeskool gesê.

Schneider sê die regering se rol in die rooivleisbedryf is bloot om ’n gunstige boerdery- en handelsomgewing te skep deur goeie beleid, die toepassing van strategië en goeie dienslewering ten opsigte van veeartsenydienste en handelsooreenkomste. “ ’n Regering moenie ’n belang hê in die waardeketting deur byvoorbeeld slagplase te besit nie.”

Wat veeartsenydienste betref, sê Schneider Namibië is baie bevoorreg om die eerste Afrikaland te wees wat amptelik deur die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid bestempel is as ’n land met ’n “weglaatbare” risiko vir BSE (malbeessiekte).

Dit, saam met die land se aggressiewe bemarking van sy ekstensiewe weidingstelsels vir beesvleisproduksie, het Namibiese vleis onder die handelsnaam “Nature’s Reserve” ’n gesogte produk in Europese en Afrika-markte gemaak.

Hoewel die land ’n klein teenwoordigheid in die internasionale vleisuitvoerbedryf het, verdien Namibië ’n groot deel van sy vleisinkomste uit uitvoer. Net 7,1% van Namibië se vleis word na Noorweë uitgevoer, maar die Noorweegse uitvoer verteenwoordig 27,18% van die land se verdienste uit vleis. Ander uitvoerbestemmings, soos die Europese Unie, Brittanje en Suid-Afrika volg dieselfde neiging, terwyl die Namibiese plaaslike gebruik net 10,62% van die land se verdienste uit vleis verteenwoordig al neem dit 31,7% van die produksie op.