Dié eerbewys is op ’n glansgeleentheid tydens die Aldam-veeskool in die Vrystaat aan dr. Joggie Briedenhann van die Hartebeesloop-stoetery oorhandig.

Die naaswenner is mnr. Christopher Sparks (Mount Olive-stoetery, Harrismith) en die derde plek is deur nog ’n Namibiër, mnr. Ebbi Fischer (Okawatuta, Hochfeld), beklee.

Pick 'n Pay, Landbouweekblad en Breedplan se Suider-Afrikaanse Stoetteler van die Jaar: Dr. Joggie Briedenhann (middel), met die naaswenner mnr. Christopher Sparks (regs) en mnr. Ebbi Fischer (Namibië) derde. Foto: Johan Norval

Vir Briedenhann span die eerbewys die kroon op jare se teelwerk. Hy skryf sy sukses daaraan toe dat hy daarin slaag om ’n wetenskaplike benadering in sy stoetteling toe te pas. “Ons aanvaar niks bloot op sigwaarde nie, maar vors alle aspekte van ons vleisboerdery na. Nog  ’n suksesfaktor is die benutting van kundigheid,” sê hy. “Ons probeer kort-kort die grense van ons mikpunte verskuif, nie net in die allerdaagse boerdery nie, maar ook die benutting van die akademie en wetenskap in die stoetteleing.”

Een van die ander telers wat tydens die veeskool vereer is, is mnr. Hans Bester van die Witbekstoetery by Vrede wie se Braunvieh-bul, Witbek Salute BS 15/0011, as die Zoetis-bul van die Jaar aangewys is.