Die geleentheid wat deur die Lewendehawe-registrerende Federasie (LRF), Breedplan en Landbouweekblad gehou word, het deur die jare by Aldam naby Ventersburg plaasgevind, maar is verlede jaar weens die beperkinge wat die Covid-19-pandemie op byeenkomste en reise geplaas het, slegs aanlyn aangebied. Vanjaar word die twee metodes gekombineer tydens die Veeskool wat van 13-15 Oktober plaasvind.

Dr. Michael Bradfield, uitvoerende hoof van die LRF, sê reëlings vorder fluks en hulle is baie opgewonde oor die wyse waarop vanjaar se Veeskool aangebied gaan word, met die ondersteuning van vennote soos Molatek (RCL Foods), Zoetis, BKB, Sparta, Unistel, King Price en GrowSafe. “Met die toepassing van Covid-19-reëls kan ons lesings en praktiese sessies inpas wat deur boere bygewoon kan word, terwyl ander belangstellendes die verrigtinge in die gerief van hul huise aanlyn kan volg,” sê hy. Die virtuele deel sal gedoen word met die samewerking van Landbouweekblad, wat dit ook tydens 2020 se Virtuele Veeskool behartig het.

Die tema is “Kritiese suksesfaktore vir ’n inklusiewe en winsgewende lewendehawe-waardeketting”.

Bradfield sê die buitelandse mark vervul ’n deurslaggewende rol in die winsgewendheid van die veebedryf in Suider-Afrika, waaronder die uitvoer van lewende skape deur Al Mawashi en vleisuitvoer deur voerkrale na die Midde-Ooste en China. “Daar is egter nog ’n groter potensiaal om uitvoermarkte te ontgin en die Veeskool gaan die Veeskoolgangers inlig oor hoe Namibië, Brasilië en Australië hierdie markte ontgin.

“ ’n Land se dieregesondheidstatus is belangrik vir uitvoer en staatsamptenare en mense in die beesbedryf sal vertel wat gedoen word om aan hierdie vereistes te voldoen,” sê hy. Lesings sal ook handel oor die rol van dieregesondheid, voorbereiding en voer van klein- en grootvee, die kleinhandel se aanpassing by die verbruikers se veranderende voorkeure, boere se rol daarin en die toekoms van die rooivleisbedryf.

Twee praktiese aanbiedinge word op boere se plase gehou.

Die een is oor kleinveeboerdery en word by mnre. Llewellyn en Gareth Angus tussen Arlington en Senekal gehou. Dit gaan oor die gebruik van ’n intensiewe lamhokstelsel en die ekonomiese voordele wat dit inhou. Die integrering van die stelsel met radiofrekwesie-oorplaatjies en elektroniese sortering van skape sal ook bespreek en gedemonstreer word. Nog sprekers sal optree.

Die ander praktiese sessie is by die Zimeyer Genetics Centre van mnre. Thys en Pieter Meyer van Lindley. Dit sal op die gebruik van GrowSafe-stelsels konsentreer waarmee beeste se doeltreffendheid van voeromsetting gemeet word. Daar sal die lesings en demonstrasies handel oor die ekonomiese voordeel vir die toets van voerdoeltreffendheid. ’n Ruim 80% van speenkalwers in Suid-Afrika word in voerkrale afgerond en voer maak 60% van hul uitgawes uit. Daarom is daar groot druk op die stoetveebedryf om bulle te teel wat nageslag teel wat minder voer nodig het om hul slaggewig te gebruik.

Sprekers sluit twee boere in wat ook die stelsel gebruik, mnre. Mecki Schneider van Namibië en Koos Kooy van KwaZulu-Natal. Prof. Michiel Scholtz sal oor die Landbounavorsingsraad se GrowSafe-stelsel by Irene gesels waar navorsing oor verskillende beesrasse se vreetgewoontes gedoen word.

Die LRF behartig die dierereregistrasies en prestasiedata van nege telersgenootskappe in Suid-Afrika, 38 in Namibië en 24 in Zimbabwe.

Navrae en aansoek vir deelname: Me. Izaan du Ploopy, office@lrf.co.za, 012 667 5258.