Van dieremonitering en aardverwarming tot hommeltuie en satelliettegnologie gaan bespreek word tydens dié geleentheid wat van 16 tot 18 Oktober by die Allemanskraal-vakansieoord naby Ventersburg gehou word.

Sitplekke is beperk en besprekings is noodsaaklik. Bespreek dus vroegtydig om jou bywoning te verseker. Besoek die Veeskool se webwerf vir meer inligting.

Die tema is: Nuwe tegnologie vir presisieveeboerdery. Inter­nasionale en plaaslike sprekers gaan boere inlig oor hoe hulle tegnologie kan benut om boerdery­praktyke beter en winsgewender te maak.

Die sprekers is:

Mnr. Bertus Kruger is ’n Namibiër wat die graad MSc aan die Universiteit van Pretoria verwerf het oor die uitwerking van veldbelading en beestipe op die Namibiese kameeldoring-savanne. Hy is ’n onafhanklike, veekundige raadgewer. Kruger is al jare lank betrokke by projekte oor veldbelading en -agteruitgang, die verbetering van weiding, ontwikkeling in die kommunale gebiede en mentorskap.

Dr. Stephen Miller is direkteur van genetiese navorsing by Angus Genetics Inc. in Missouri, Amerika. Miller het voorheen ook in Australië gewerk en was direkteur van die sentrum vir genetiese verbetering aan die Universiteit van Guelph in Kanada. 

Mnr. Pim Bijtel, hoof van slaghuise en pluimvee by Pick n Pay, is ’n Nederlander met 15 jaar ondervinding in internasionale kleinhandel. 

Dr. Linky Makgahlela is ’n navorsingspanbestuurder vir diereteelt en genetika by die Landbounavorsingsraad (LNR) se diereproduksiekam­pus by Irene. Haar navorsing is toegespits op genomiese seleksie, en skadelike of resessiewe gene wat vrugbaarheid by vleisbeeste benadeel.

Dr. Hugh Nivison is die besturende direkteur van Abri, die landbousakenavorsingsinstituut in Australië, van waar hy Breedplan- en verwante tegnologiese dienste lewer. 

Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-groep, was in sy loopbaan onder meer ekonomiese beleidsraadgewer van die nasio­nale tesourie, hoofekonoom van die Suid-Afrikaanse gefedereerde kamer van nywerhede, en senior lektor in ekonomie aan verskeie universiteite.

Mnr. Kim Matthews, hoof van diereteelt en produkgehalte in die landbou- en tuinbou-ontwikkelingsraad van die Universiteit van Reading in Engeland, werk sedert 1992 in vleiskunde. Matthews se kundigheid lê grootliks op die gebied van karkas- en vleisgehalte en algemene dierkunde. 

Prof. Michiel Scholtz is ’n spesialisnavorser in toegepaste diereteelt by die LNR se instituut vir diereproduksie by Irene en ’n medeprofessor aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy navorsing is toegespits op klimaatslim produksiestelsels en teeldoelwitte om die gevolge van klimaatsverandering te verlig.

Mnr. Martin Seyfferdt, ’n geakkrediteerde senior beoordelaar en beoordelaareksaminator vir 20 beesrasse, het al 15 beesrasse se nasionale kampioenskapsbyeenkomste behartig en beeste in agt lande beoordeel. 

Dr. Pieter Vervoort is besturende direkteur van die nasionale dieregesondheidsforum. Hy is nou gemoeid met die Suid-Afrikaanse varkvleisbedryf.

Mnr. Isak Staats, die hoofbestuurder vir wol en bokhaar by BKB, is in Port Elizabeth gesetel. Hy werk die afgelope 27 jaar in die landboubedryf en het al verskeie bestuursposisies beklee.

Mnr. Llewellyn Angus boer al 37 jaar lank in die distrik Arlington. Hy het grade in landbou en geesteswetenskappe verwerf. Hy is ’n interrasbeoordelaar en Simmentaler- en Simbra-eksaminator. Angus is ’n vorige voorsitter van die Simmentaler-Simbra-genoot­skap en die LRF.

Me. Alison Sundstrum is die stigter en uitvoerende hoof van CNSRV-X, ’n Kanadese maatskappy wat spesialiseer in navorsing oor die toepassing van blokkettingtegnologie in die landbou. Sundstrum besit verskeie patente vir vernuwende tegnologie en was voorheen verbonde aan die maatskappy wat die GrowSafe-voerstasie ontwikkel het.

Me. Monica Miravalle werk as toepassingsopleidingsbeampte vir Allflex Livestock Intelligence. Miravalle het in veeartsenykundige medisyne in Italië gestudeer en praktiese opleiding in Duitsland ondergaan.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.