Die Australiërs is oortuig daarvan dat hul vleisgraderingstelsel maklik in Suid-Afrika toegepas kan word, sê dr. Pieter Prinsloo, ondervoorsitter van die Nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), na aanleiding van die jaarlikse Veeskool wat vandeesweek by Aldam gehou word.

“Prof. John Thompson, ’n senior lektor in vleiskunde in Australië wat meegewerk het aan die ontwikkeling van die Australiese graderingstelsel (MSA; Meat Standards Australia), het my dié versekering gegee, want hulle het dit reeds by hul ander invoervennote gedoen. Die stelsel is hoofsaaklik gerig op verbruikers om ’n aangename eet-ervaring te voorspel.

"Dis vir die RPO belangrik dat groot voerkraalondernemings, asook ander handelsmerke en gehalte-aanduiders, soos die Veldvleisvereniging(GFASA), almal toegang moet hê tot so ’n graderingstelsel om sodoende ’n aangename eet-ervaring vir verbruikers te voorspel volgens ’n standaardprotokol.

“Vir die primêre produsent om ’n premie te kry vir sy vleis van topgehalte, moet albei opsies beskikbaar wees om waarde by sy produk te kan voeg,” sê Pieter. Hy glo dat ’n handelsmerk wat hoë gehalte aandui, soos dié van GFASA, by die selektiewe toepassing van so ’n stelsel sal baat vind. Dit sal egter moet gepaardgaan met ’n program om verbruikers op te voed sodat hulle ingeligte besluite oor hul vleisaankope kan neem.

 

In gesprek tree

Op verlede jaar se Vleisbeesskool (wat nou die Veeskool heet) het me. Sara Strachan van Australië óók te kenne gegee Suid-Afrika kan die Australiese stelsel volg, “en ek droom daaroor dat ons formeel in gesprek met hulle sal tree en die program as ’n steekproef in Suid-Afrika begin”, sê Pieter.

Die MSA-stelsel is gegrond op die voorkeure van meer as 100 000 verbruikers in agt lande en werk met ’n indeks wat gewigte aan ver­skillende faktore toeken wat vleisgehalte beïnvloed: sagtheid (30%), smaaklikheid (30%), sappigheid (10%) en algehele eet-ervaring (30%).

Pieter sê dit gaan egter geld kos en die abattoirs moenie self die koste dra nie. Moontlik kan ’n tipe heffing gevra word om die proses te finansier. Die verbruiker sal uiteindelik daarvoor betaal. Lede van die GFASA betaal ’n bedraggie per kilogram vleis gelewer om die handelsmerk te gebruik.

Met die inwerkingstelling van die MSA-stelsel sal geld bestee moet word om gradeerders op te lei en Australiese kenners hierheen te bring. ’n Besoek aan Australië om formeel met hulle in gesprek te tree en te kyk hoe die stelsel werk, is ook broodnodig.

 

Klem swaai na hoëwaardeproduk

Dr. Michael Bradfield, organiseerder van die Veeskool, sê grootskaalse veranderings vind in internasionale markte plaas waar ’n skeiding ontstaan tussen lande wat rooivleis bloot as kommoditeit verkoop en markte wat dit as ’n hoëwaardeproduk beskou. Aan die een kant is daar die grootliks Derdewêreldlande wat rooivleis as ’n kommoditeit in ontluikende markte verhandel en gewoonlik weens die swak valuta wat hierdie opkomende lande beleef, ’n uitvoermark probeer stig.

Aan die ander kant het Westerse lande dit reggekry om vleis as ’n hoëwaardeproduk te posisioneer en as deel van hul uitvoer-aksies uit te voer na lande wat ’n besliste premie daarvoor betaal.

Toe die Aldam Veeskoool nog in sy kinderskoene was, is hoofsaaklik gekonsentreer op die produksie van rooivleis en die produksie-eienskappe wat dit doeltreffender en mededingender maak, soos voerdoeltreffendheid, vrugbaarheid en ’n beter uitslagpersentasie van karkasse. Deur bekendes, soos die internasionale beesbeoordelaar mnr. Martin Seyfferdt, te gebruik, is altyd verseker dat strukturele korrektheid van beeste ’n hoë voorrang geniet.

Daarmee saam is boere dit op die hart gedruk dat weiding- en voedingbestuur, genetiese vordering, dieregesondheid en die ekonomie van ’n vee-eenheid almal meewerk om ’n beter boerdery met vleisbeeste moontlik maak.

 

Meet voerdoeltreffendheid

Mnr. Kobus Bester, voorsitter van die Lewendehawe Registrerende Owerheid (LRF), sê Suid-Afrika het ’n paar jaar gelede opgemerk dat die Amerikaners deur middel van hul voerdoeltreffendheidstelsels en die wyse waarop hulle dit benut, bulle begin identifiseer wat ’n voeromsetting van minder as 4 (4 kg voer per 1 kg vleis geproduseer) realiseer. Dit het daartoe gelei dat twee toonaangewende boere van Namibië, mnre. Mecki Schneider en Ebbie Fischer, hul eie moderne meetstelsel vir voerdoeltreffendheid uit Kanada ingevoer het, terwyl Suid-Afrika se Landbounavorsingsraad ook onlangs so ’n stelsel aangeskaf het.

“As die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf dit in die volgende tien tot twintig jaar kan regkry om die gemiddelde voeromsetting in die land tot onder 4 af te bring, sal dit vleis as ’n produk baie mededingend met ander proteïenbronne maak.

“Ook belangrik is die vermoë van ’n koei om elke jaar ’n kalf te lewer. Ons het die Veeskool gebruik om die benutting van koeie saam met voorste internasionale sprekers in diepte te bespreek. Prof. Bob Weaber van Amerika het byvoorbeeld lesings oor koeigrootte en -produktiwiteit gelewer. Dr. Dietmar Holm het boere raad oor die waarde van ’n enkele teeltyd en die praktiese toepassing daarvan gegee,” sê Kobus.

 

Hele waardeketting

Verlede jaar se Veeskool was uniek deurdat dit na die hele waardeketting gekyk het. Onder leiding van vyf vooraanstaande plaaslike vleiskundiges en vyf internasionale kenners is die kwessie van klassifikasie, gradering en die kwessie van vleis as ’n hoëwaardeproduk bespreek. Daaruit was dit duidelik dat die MSA-graderingstelsel loshande die beste ter wêreld is.’n Weldeurdagte graderingstelsel kan binne- én buitelandse verbruikers aanmoedig om méér te betaal mits vleis se gehalte gewaarborg kan word.

Suid-Afrikaanse boere tel onder die bestes in die wêreld, maar ten opsigte van die klassifikasiestelsel het die land die afgelope 30 jaar gestagneer. Die geld wat aan navorsing en ontwikkeling bestee word, is net ’n fraksie van wat internasionale eweknieë spandeer. “Dit sal ongelukkig veroorsaak dat ons nie in die toekoms met ons produk met Eerstewêreldlande sal kan meeding nie,” sê Kobus.