Hy en sy familie besit die Limousinstoetery Xourel en boer ook met graan. Le Roux (27) is die jongste stoetteler in die geskiedenis van die kompetisie wat gewen het. Prof. Frikkie Neser, beoordelaar van Bloemfontein wat die finaliste elke jaar besoek, het gesê dit is een van die beste boerderye wat hy deur die jare besoek het. Die presisie waarmee Le Roux boer, asook sy toewyding en geesdrif, het hom opgeval.

Die naaswenner is mnr. André van der Merwe van Wouman Brangus in die distrik Reitz, terwyl die derde plek toegeken is aan mnr. Riaan Theron van RAT Brahmane in die distrik Parys. Die ander finalis was mnr. Zippo Lamprecht van Bloodline Boran in die distrik Dewetsdorp.

Die ander groot toekenning, Landbouweekblad, Breedplan en Zoetis se Skoubul van die Jaar, is gewen deur die Brahmanbul WWH 16-89 van mnr. Wessel Hattingh van die Welcare-stoetery in die distrik Frankfort. Die wenner is gekies uit finaliste op deelnemende skoue. Hattingh se bul was die wenner op 2018 se Brahman-expo op Parys.

Mnr. Lebogang Bonokwane van Vryburg is as Pick n Pay en Rudd se Ontwikkelende Boer van die Jaar bekroon.

’n Merietesertifikaat vir uitsonderlike diens aan die lewendehawesektor is aan Neser oorhandig.