Die geleentheid word die elfde keer deur die Lewendehawe-registrerende Federasie (LRF), Breedplan en Landbouweekblad aangebied en vind van 16 tot 18 Oktober by die Allemanskraal-vakansieoord tussen Winburg en Ventersburg in die Vrystaat plaas.

Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer vir die Optimum-groep, is bekend as iemand vir wie die landbou ná aan die hart lê. Hy gaan oor strategieë en tegnologie praat wat nodig is om die Suid-Afrikaanse ekonomie uit sy huidige laagtepunt te lig. Uiteraard sal hy die landbou betrek en aandui wat dié sektor te doen staan, asook hoe belangrik die boere en hul bedryf vir die ganse ekonomie is.

Dr. Pieter Vervoort, uitvoerende hoof van die nasionale dieregesondheidsforum, beywer hom baie sterk vir biosekerheid op plase. Hy gaan vertel hoe belangrik dit is dat boere dié aspek verskerp, veral met die oog op die uitvoer van landbouprodukte na die ryk lande in die Noordelike Halfrond waar waardevolle valuta verdien word. As siektes soos bek-en-klouseer egter uitbreek, slaan daardie lande hul deure vir Suid-Afrika toe.

Twee gerekende wetenskaplikes van die Landbounavorsingsraad (LNR) se Diereproduksie-instituut in Irene is ook sprekers. Prof. Norman Maiwashe, hoofbestuurder van die instituut, gaan vertel wat die LNR en department van landbou in die mou voer om die landboutoekoms te versterk.

Prof. Michiel Scholtz, ’n spesialisnavorser in toegepaste diereteelt by dié instituut en ’n medeprofessor aan die Universiteit van die Vrystaat, doen al baie jare lank navorsing oor klimaatslim produksiestelsels en teeldoelwitte om die gevolge van klimaatsverandering te verlig. Hy gaan vertel hoe goed van die diererasse hulle by Afrika se klipharde toestande aangepas het, wat boere in staat kan stel om die toekomstige, ongunstiger klimaat met sy minder reën en langer droë tydperke die stryd aan te sê.

Dit kos R9 149,81 om die Veeskool by te woon. Dit sluit al drie dae se lesings, ’n bundel met lesings, verblyf, etes, ’n gala-dinee en ’n plaas- of voerkraalbesoek in. Daar is plek vir net 200 mense.

Navrae: Me. Charmaine Alberts, 051 821 1783, palberts@telkomsa.net.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.