Hierdie tegnieke help hulle om ’n groter nageslag van ’n beter genetiese gehalte te teel.

Die tiende Aldam-veeskool, wat van 17-19 Oktober deur die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF), Breedplan en Landbouweekblad by die Allemanskraal-vakansieoord tussen Ventersburg en Winburg gehou word, konsentreer derhalwe vanjaar sterk op reproduksie en sy twee komponente, naamlik nuwe reproduksietegnologie wat onder meer embrio’s, selverdeling en geslagbepaling van semen behels, asook die produksiefasette wat met reproduksie gepaardgaan.

Dr. Michael Bradfield, ‘n direkteur van Breedplan Suider-Afrika, sê drie van Suid-Afrika se voorste kenners op hierdie gebied is genooi om boere wat die veeskool bywoon, te onderrig sodat hulle meer waarde tot hul boerderye kan toevoeg. Hulle is dr. Fanie Steyn, besturende direkteur vir embriospoelings en laparoskopieprogramme by Ramsem buite Bloemfontein, dr. Morné de la Rey, mededirekteur van Embrio Plus op Brits, en dr. Neil van Zyl, direkteur van In Vitro Africa op Parys.

Belangstellendes moet opskud as hulle nog plek vir die veeskool wil bespreek. Daar is net vir tweehonderd mense plek. Dit kos R8 632 (BTW ingesluit) om ál drie dae by te woon, wat drie nagte verblyf, drie etes per dag en die kursusmateriaal insluit. Die prys vir ‘n enkele dag is R3 664, wat een aand se huisvesting en alle ander koste insluit. Mense wat net die veeskool wil bywoon en nie wil oorslaap nie, betaal R2 422 per dag. Dit sluit twee etes en die kursusmateriaal in. Mense wat wil kampeer, betaal R5 589, wat alle etes en die kursusmateriaal insluit.

Mense kan aanlyn registreer op dié webwerf of kontak me. Charmaine Alberts, e-pos: palberts@telkomsa.net; tel. 051 821 1783.