Die program vir die komende Veeskool is propvol pitkos vir skaap- en beesboere, met ’n gesonde balans tussen lesings en praktiese aktiwiteite wat besoeke aan plase en ’n voerkraal insluit. Daar is dié keer ook ’n baie sterk kleinveekomponent op die program.

Die Veeskool vind van 18 tot 20 Oktober by Aldam naby Ventersburg in die Vrystaat plaas. Dr. Michael Bradfield, organiseerder van die geleentheid wat deur die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) en Breedplan met Landbouweekblad as mediavennoot aangebied word, sê hulle het geen moeite ontsien om die wêreld se beste veekenners te identifiseer en na die skool te bring.

“Vir boere is dit ’n geleentheid om by die wêreld se beste spesialiste op hul vakgebiede te leer en vir ons eie voorste kundiges bied dit ’n kans om met hul internasionale eweknieë skouers te skuur. Die meeste deelnemers aan die Veeskool is bona fide kommersiële veeboere wat daarna mik om hul doeltreffendheid en kuddebestuur na ’n hoër vlak te neem. Daarom is die skool se tema vanjaar deelname aan die vleiswaardeketting deur middel van verbeterde bestuurspraktyke,” sê hy.

Internasionale en plaaslike kenners

Woensdagmiddag kan deelnemers op ’n voorkeurbasis (wie eerste inskryf, kry eerste keuse) kies tussen een van drie besoeke: Sparta se voerkraal by Marquard, mnr. Llewellyn Angus van Arlington se stelsel van aangeplante weidings en ’n intensiewe lamhokke met Merino’s en mnr. Brian Angus, ook van Arlington, wat besoekers sal leer oor seleksie vir vleiskwaliteit en waardetoevoeging.

Donderdagmiddag se praktiese sessies sluit onder meer besigtiging van verskeie bees- en kleinvee en praktiese lesings in. Vir gevorderde stoettelers word ’n werksessie oor genomika onder leiding van prof. Ben Hayes, wêreldkenner van genomika van Australië, gehou.

Dit kos R6 950 (BTW uitgesluit) om ál drie dae by te woon. Dit sluit verblyf, alle etes, plaasbesoeke, lesings en afskrifte van die lesings in. Bel vir Charmaine Alberts by tel 051 821 1783 of stuur ’n e-pos na: palberts@telkomsa.net om ’n besprekings vorm te bekom.