Die Veeskool word jaarliks deur die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) en Breedplan met Landbouweekblad as mediaborg by die Allemanskraal-vakansieoord naby Ventersburg aangebied. Vanjaar se Veeskool duur van 17-19 Oktober.

Dr. Michael Bradfield, uitvoerende hoof van Breedplan Suider-Afrika, sê daar is geen twyfel nie dat leierboere hul veeboerderye anders begin struktureer het as wat die norm is nadat hulle die skool bygewoon het. Hulle word daar deur van die wêreld en Suider-Afrika se voorste deskundiges op hul onderskeie spesialisterreine onderrig.

Die skool is ook gestig om alle fasette van die waardeketting in oënskou te neem – vanaf die kommersiële boer tot by die handel. Dit is die enigste platform van sy soort waar die voerkraalbedryf saam met die rooivleisbedryf om ’n tafel kan sit en uitwerk hoe hulle saam meer geld kan maak.

Verandering in bedryf

Pick n Pay het as voorbeeld besluit hy sal geen rooivleis invoer om mededingend te bly indien genoeg vleis plaaslik beskikbaar is nie, maar eerder die Suid-Afrikaanse boer sal ondersteun. Indien ’n mens na die afgelope tien jaar se Veeskool-temas kyk, kan ons die verandering in die bedryf sien.

Een tema was vleisgradering en -gehalte, met sprekers uit Amerika, Kanada, Australië en Brittanje om hul graderingstelsels te verduidelik. Saam met die bydraes van Suid-Afrika se eie wetenskaplikes het die veebedryf ongelooflik goeie inligting gekry hoe om hom internasionaal mededingender te maak. Dit het ongetwyfeld alle belangrike rolspelers in die rooivleiswaardeketting aan die dink gesit.

Nog ’n tema was oor voerdoeltreffendheid. Die norm is nou netto-voerinname waardeur beeste dieselfde groei met minder voer handhaaf. Mense by die Veeskool het geleer hoe mnr. Lee Leachman, ’n Amerikaanse boer, wat 1 500 bulle per jaar in sy voerstasie evalueer, nou ’n gemiddelde voeromset van slegs 3,2 vir sy topbulle het. Hy selekteer volgens netto-voerinname en die resultaat is bulle wat nageslag met ’n laer voeromset teel. Dit is uiteraard ook vir die voerkraal baie waardevol.

Vanjaar se tema

Vanjaar se tema lê klem op reproduksie en het twee komponente, naamlik nuwe reproduksietegnologie wat onder meer embrio’s, selverdeling en die geslagbepaling van semen behels, asook die produksiefasette wat met reproduksie gepaard gaan.

Bradfield sê die lesings deur die voorste kenners sal weer eens ’n wesentlike verandering in reproduksie in Suider-Afrika veroorsaak.

“Die veebedryf maak nog min van sulke tegnologie gebruik vergeleke met ander lande omdat veral stoetboere in die grootveebedryf in ’n groef was met die klem op seleksie vir visuele voorkoms. Die bedryf moet vinniger na seleksie gegrond op genetiese meriete beweeg,” sê hy.

Drie voorste embriostasies word by die Veeskool betrek, naamlik Embrio Plus in Brits, Ramsem in Bloemfontein en Invitro Africa in Parys. Hulle belê tans baie geld in uitbreidings omdat die veeboer van Suider-Afrika die waarde van genetiese vordering deur middel van gevorderde reproduksietegnieke begin besef.

Aan die produksiekant is ’n uitnodiging as genooide spreker reeds gerig aan prof. Cliff Lamb van die departement diereproduksie aan die Texas A&M-universiteit in Amerika.

Suider-Afrika is ’n ariede land en indien reproduksie met 10% in die volgende dekade kan styg, sal dit miljarde rande vir die onderskeie lande beteken.

Klik HIER vir die veeskool se program.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.