Weens inperkingsregulasies wat met die Covid-19-pandemie verband hou, word die LRF-Veeskool vanjaar van 14 tot 16 Oktober aanlyn aangebied, pleks van die byeenkoms wat jaarliks by die Aldam-vakansieoord gehou word. Vir ’n eenmalige bedrag van R300 kan mense nou op hul rekenaars of slimfone na ál drie dae se lesings kyk. Al die lesings sal vir sewe dae aanlyn beskikbaar wees en kan enige tyd in hierdie periode gekyk of weer gekyk word.

“Die lewendehawebedryf het hope potensiaal, maar moet mededingend bly. Gevolglik moet die landbou vir sy natuurlike hulpbronne sorg en boerderye professioneel bestuur. Vandaar die tema van vanjaar se Veeskool, naamlik Lewendehaweproduksie: Terug na die basiese beginsels,” sê mnr. Wayne Porter, voorsitter van die LRF.

Die program begin met ’n vooruitskouing oor wat die landbou oor die volgende vyf jaar kan verwag, waarna die basiese beginsels van die bestuur van ’n boerdery aan die beurt kom. Lesings oor die noodsaaklikheid om wisselweiding by die omgewing aan te pas word onder meer aangebied. 

Dr. Bob Weaber, ’n Amerikaanse kenner wat al voorheen aan die Veeskool deelgeneem het, gaan oor die ideale koeigrootte vir die omgewing praat. Dan volg lesings oor belangrike aspekte soos hernuwingslewendehaweproduksie, paringsbesluite, doeltreffende produksie en reproduksie, dieregesondheid, voeding, bul- en koeiseleksie, en waardetoevoeging deur diere vir ’n optimale tydperk uit te groei en aan te pas.

Die laaste deel van die program handel oor ’n vraag wat soms deur die kommersiële sektor gestel word, naamlik of beraamde teelwaardes werk. Drs. Brad Walmsley, Matt Wolcott en Christian Duff, wat as van die beste lewendehawe-kundiges in Australië beskou word, sal antwoorde verskaf. Die wetenskap word daar in soortgelyke toestande as in Suid-Afrika toegepas.

KAARTJIES EN INLIGTING

Vir die volledige program of om kaartjies te koop, besoek Quicket of stuur e-pos na events@landbou.com

BORGE

BKB, Molatek, King Price, Brand Republic, Allflex, Sparta Beef, die RPO, Unistel, Zoetis en Absolute Genetics.

PROGRAM

Woensdag 14 Oktober 2020

Tema: Die beginsels van ’n winsgewende veeboerdery

09:00-09:15 Verwelkoming – Gerrit Bezuidenhout (Landbouweekblad) en dr. Michael Bradfield (LRF)

09:15-09:45 Dr. John Purchase (Agbiz) – Wat veeboere in die volgende vyf jaar kan verwag

09:45-10:15 Prof. Kevin Kirkman (Universiteit van KwaZulu-Natal) – Wisselweiding wat vir die omgewing geskik is

10:15-10:30 Aankondiging van wenner: Koeigroep (Allflex) / Pouse

10:30-11:00 Prof. Bob Weaber (Kansas-staatsuniversiteit, Amerika) – Die ideale koeigrootte vir die omgewing

11:00-11:20 Prof. Dietmar Holm (Universiteit van Pretoria) – Wanneer moet verse gedek word en wat is die ideale kalftyd?

11:20-11:40 Prof. Eddie Webb (Universiteit van Pretoria) – Produksie en reproduksiedoel-treffendheid in ’n winsgewende veeboerdery

11:40-12:15 Mnr. Martin Seyf-ferdt (interrasbeoordelaar) en prof. Frikkie Neser (Universiteit van die Vrystaat) – Bul- en koeiseleksie 

12:15-12:45 Aankondiging van wenners – Opkomende boer (RPO) en Volledigheid van prestasie (Unistel)

12:45-13:00 Paneelbespreking en vrae aan sprekers (vandag se sprekers)

Donderdag 15 Oktober 2020 

Tema: Konsentreer op dié belangrike aspekte wat ’n volhoubare veeboerdery verseker

09:00-09:15: Verwelkoming – Gerrit Bezuidenhout (Landbouweekblad) en dr. Michael Bradfield (LRF)

09:15-09:45 (aangebied in Afrikaans) Dr. Frikkie Maré (Universiteit van die Vrystaat) – Internasionale markte en hul vereistes

09:45-10:15 Mnr. Danie Slabbert (boer van Reitz) – Herlewingslandbou in veeboerdery

10:15-10:30 Aankondiging van wenners – Jongbul (Sparta) en Beproefde bul (Zoetis) / Pouse

10:30-11:00 Dr. Schabort Froneman (Zoetis) – Sleutel-aspekte wat ’n onmiddellike uitwerking op dieregesondheid het

11:00-11:30 Mnr. Johan Mouton (Molatek) – Die basiese beginsels van optimale voedingkundige vereistes

11:30-12:00 (aangebied in Afrikaans) Me. Chéri-Lynn Steyn en dr. Frikkie Maré (Universiteit van die Vrystaat) – Die aanpassing van vee (backgrounding) vir meer wins 

12:00-12:15 Aankondiging van wenner – Stoetteler van die jaar (Molatek/Breedplan/Landbouweekblad)

12:15-12:30 Paneelbespreking en vrae aan sprekers (vandag se sprekers

Vrydag 16 Oktober 2020

Tema: Tegnologiese beginsels vir veeproduksie om internasionaal mededingend te word

09:00-09:15 Verwelkoming – Gerrit Bezuidenhout (Landbouweekblad) en dr. Michael Bradfield (LRF)

09:15-09:45 Me. Izaan du Plooy (LRF) en prof. Norman Maiwashe (Landbou­navorsingsraad) – Die waarde van seleksie gegrond op beraamde teelwaardes ná twintig jaar se resultate 

09:45-10:15 Dr. Brad Walmsley (eenheid vir diereteelt en -genetika, Australië) – Die waarde van seleksie vir voerdoel-treffendheid in voerkrale en op natuurlike weiding

10:15-10:30 Aankondiging van wenners – Duurste bul (King Price) en duurste koei (Absolute Genetics) / Pouse

10:30-11:00 Dr. Matt Wolcott (eenheid vir diereteelt en -genetika, Australië) – Repro-duksietegnologie in Australië met Bos indicus-beeste as voorbeeld

11:00-11:30 Dr. Mario Beffa (Zimbabwe) en mnr. Jaco Maass (BKB) – Diere-identifikasie, naspeurbaarheid en blokketting-tegnologie

11:30-12:00 Mnr. Christian Duff (Angus-genootskap van Australië) – Kan genomika die lewendehawebedryf hervorm? (met die Australiese Angus in voerkrale as voorbeeld)

12:00-12:10 Aankondiging van wenners – Dienste aan die bedryf (BKB)

12:10-12:30 Paneelbespreking en vrae aan sprekers (vandag se sprekers)