Die strewe om die beste beesvleis in Suid-Afrika te produseer, is ruim twee dekades gelede gebore. Vandag pluk Brian Angus die vrugte van hierdie weldeurdagte besluit en die harde werk wat dit van hom en sy gesin geverg het.

Wanneer die verbruiker vir ’n ete by die tafel aansit, wil hy ’n lekker, sagte stuk vleis op sy bord hê – elke keer. Dít is mnr. Brian Angus van Arlington in die Oos-Vrystaat se visie vir sy boerdery met Wagyu- en Anguskuddes en waarna hy streef met elke bestuursbesluit wat hy neem.

Brian en sy vrou, Maria, en hul dogter, Megan, boer saam en besit ook ’n ontbenings-aanleg. Brian het sy eerste Wagyus 15 jaar gelede ingevoer. Tot in daardie stadium het hy met Angusbeeste geboer. Die Wagyukudde bestaan nou uit sowat 400 vroulike diere en hy bou steeds aan die kudde. Op enige tydstip is daar minstens 180 diere in Brian se voerkraal op Woodview, hoofsaaklik osse wat gewoonlik twaalf maande lank gevoer word.

Megan is by die bemarking van die Woodviewprodukte onder die handelsmerk Woodview Gourmet Foods betrokke. Hul keursnitte is baie gewild, maar hulle maak ook produkte uit die ander dele van die karkas, soos biltong en frikkadelle. Die vleissnitte word hoofsaaklik in Johannesburg, Port Elizabeth, Kaapstad, Stellenbosch en Franschhoek bemark.

Hoë gehalte

Deelnemers aan verlede jaar se Aldamvleisbeesskool het Brian se plaas besoek. Hy het aan hulle gesê mense wat goeie beesvleis wil eet, sal altyd bereid wees om daarvoor te betaal. Daarom verslap hulle nooit hul greep op goeie bestuur en vleis van hoë gehalte nie.

“Ons het 15 tot 20 jaar gelede besluit om die beste beesvleis in Suid-Afrika te produseer. Vandag doen ons dit, danksy ons beleid om te verseker dat elke stukkie vleis op die verbruiker se bord sag en sappig is,” het hy gesê. Megan is in beheer van die ontbeningsaanleg en die vierde geslag van dié familie wat in die vleisbedryf is.

Brian se oupa, Llewellyn Angus, het in 1964 met Angusse begin boer en al in 1965 karkasse uitgevoer. Buiten bemarking is ander bestuursaspekte ook belangrik. Brian het op ’n paar faktore klem gelê om vleis van ’n hoë gehalte moontlik te maak:

¦ Die regte genetiese samestelling.

¦ Die regte rantsoen.

¦ Geen antibiotika in die voer nie.

¦ ’n Spanningsvrye omgewing met koelte en goeie vervoer.

¦ ’n Professionele slagmetode.

¦ Elektriese stimulasie van karkasse om sagtheid te verseker.

¦ Die regte pH van die karkas.

Gradering

Brian sê beesvleis is ’n kommoditeit en verbruikers koop oral dieselfde produk uit voerkrale. “Indien jy jou produk van die ander wil onderskei, moet jy verseker dit is beter as die res. Met die huidige graderingstelsel is daar egter nie ’n onderskeid tussen gewone en voortreflike vleis nie. Daarom gradeer ons Wagyuvleis met sy uitsonderlike marmering. Dit maak dit die gesogste vleis ter wêreld vir ’n nismark waar die verbruikers bereid is om vir gehalte te betaal.”

Met die Angusvleis ding hulle teen alle ander rasse se vleis mee, maar met ’n beter gehalte posisioneer die Angus hom tussen gewone voerkraalvleis en die Wagyu. Die Wagyu is onoortreflik en het nie ’n mededinger nie. Megan het gesê hulle moes eers vasstel wie hul mark is en dié verbruikers se denke verstaan. Hulle is baie gesondheidsbewus en wil weet hoe en waar die vleis geproduseer is.

Verpakking is ook belangrik en die vleis moet goed lyk. Dié verbruikers verdien ook genoeg geld om gesonde kos te koop. Sy lig graag die verbruikers oor die eienskappe (marmering) en herkoms (Japan) van die Wagyubeeste in. “Ons verkoop sowel Wagyu- as Angusvleis wat aan dié vereistes voldoen, maar Wagyuvleis is die kaviaar van beesvleis,” het sy gesê.

Vanjaar se Veeskool vind vanaf 18 tot 20 Oktober by Aldam plaas. Kliek hier vir meer oor die program en koste verbonde.