Twee van die wêreld se grootste veeboere, asook 'n voorloper met die toepassing van genomika in diereteelt en een van Afrika se bekendste boereleiers, tel onder die sprekers van buite Suid-Afrika se grense wat lesings op die volgende Aldam-veeskool gaan lewer.

Die Veeskool word van 18 tot 20 Oktober by die Aldam-vakansieoord deur die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) en Breedplan met Landbouweekblad as mediavennoot aangebied.

Swaargewigte

Dr. Michael Bradfield, organiseerder, sê soos elke jaar het hy weer 'n aantal swaargewigte vanuit die buiteland gevra om hul kennis met die boere te kom deel.

Hulle is mnr. Jason Strong en prof. Ben Hayes van Australië en mnre. Don Schiefelbein van Amerika en Mecki Schnieder van Namibië. Unistel borg die vliegtuigkaartjies van die internasionale sprekers.

Ben is die mede-ontwikkelaar van genomiese voorspellings en 'n hoogleraar aan die Universiteit van Queensland. Hy word as een van die voorste kenners van genomika in die wêreld beskou.

Jason is die hoof-uitvoerende beampte van die AA Company in Australië, dié land se grootste beesboerdery (500 000 beeste) en rooivleisprodusent wat bestaan uit eiendomme, voerkrale en plase op sewe miljoen hektaar in die staat Queensland.

Hulle spesialiseer in veld- en voerkraalbeeste en boer ook met ongeveer 60 000 Wagyu-beeste, wat bekend staan as die ras met die beste en duurste vleis.

Suksesvolle boerdery

Don is deel van die familieboerdery Schiefelbein Farms in die Amerikaanse staat Minnesota, wat bestaan uit nege broers, hul vroue en sowat vyftig kleinkinders. Die boerdery besit 1 000 geregistreerde Anguskoeie op 3 000 hektaar grond en voerkrale waarin hulle jaarliks 7 500 beeste afrond.

Mecki besit een van die vasteland se grootste Brahman- en kommersiële kuddes by Grootfontein in Namibië en is die mede-eienaar van 'n beesboerdery in Angola. Hy was in 2007 die Pick n Pay se Suider-Afrikaanse Stoetteler van die Jaar.

Dit kos R6 950 (BTW uitgesluit) om ál drie dae by te woon, insluitend verblyf, alle etes, plaasbesoeke, lesings en afskrifte van die lesings. Bel vir Charmaine Alberts by tel 051 821 1783 of stuur 'n e-pos na: palberts@telkomsa.net om 'n besprekingsvorm te bekom.