Dr. Michael Bradfield, direkteur van Breedplan, sê aspekte soos embrio’s, selverdeling en geslagbepaling van semen word bespreek.

Dr. Cliff Lamb is ’n kenner van metodes om die doeltreffendheid van produksie in beesboerderye te verhoog. Hy is hoof van die departement dierkunde aan die universiteit van Texas A&M en was voorheen aan die universiteit van Florida verbonde. Sy navorsingsterrein is toegepaste, reproduktiewe fisiologie. Hy het strategieë vir die verbetering van reproduksiebestuur in baie lande ingestel, waaronder Suid-Afrika, Australië, Argentinië, Brasilië, Ethiopië, Hongarye, Kenia, Malawi, Mexiko, Rusland en Uruguay.

Prof. Michael McGowan is ’n hoogleraar in veemedisyne aan die skool vir veeartsenykunde aan die universiteit van Queensland, ereprofessor in plaasdiermiddels en -snykunde aan die Royal-veeartsenykollege van die universiteit van Londen en ’n diplomaat van die Europese kollege van dierereproduksie. Sy navorsingsveld sluit onder meer in hittestres, bulseleksie en bulbestuur, faktore wat reproduktiewe prestasie by beeste benadeel, en die ontwikkeling van metodes om estrus en ovulasie te sinchroniseer.

Dr. Reuben Mapletoft van Kanada was ná sy studie aan die universiteit van Guelph vir drie jaar aan die fakulteit veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria verbonde. Daarna was hy ’n dosent aan verskeie universiteite in Amerika en Kanada voordat hy afgetree het. Gedurende sy loopbaan het hy in reproduksie gespesialiseer en hy word as ’n internasionale kenner van embrio-oorplasing beskou.

Dr. Brad Crook van Australië is bestuurder van die genetiese navorsings- en ontwikkelingspan van die Agricultural Business Research Institute (ABRI) en Breedplan. Sy belangrikste verantwoordelikhede is die toets en inwerkingstelling van gevorderde sagteware om onder meer genomiese inligting te ontleed. Hy verskaf ook tegniese steun vir genetiese evalueringsdienste. Een van sy belangstellings is om stelsels te ontwikkel waarmee beesboere genetiese evaluering op ’n groot skaal kan doen.

Dr. Brad Crook. Foto: Verskaf
Dr. Cliff Lamb. Foto: Verskaf
Prof. Michael McGowan. Foto: Verskaf
Dr. Reuben Mapletoft. Foto: Verskaf

’n Hand vol plaaslike kenners van bees- en skaapboerdery gaan ook optree. 

Goeie waarde

Die Veeskool vind plaas van 17 tot 19 Oktober by die Allemanskraal-vakansieoord tussen Ventersburg en Winburg. Belangstellendes moet opskud as hulle dit wil bywoon, want daar is net vir 200 mense plek. Dit kos R8 632 (BTW ingesluit) om al drie dae by te woon, wat drie nagte verblyf, drie etes per dag en die kursusmateriaal insluit.

Die prys vir ’n enkele dag is R3 664, wat een aand se huisvesting en alle ander koste insluit. Mense wat net die Veeskool wil bywoon en nie wil oorslaap nie, betaal R2 422 per dag. Dit sluit twee etes en die kursusmateriaal in.

Mense wat wil kampeer, betaal R5 589, wat alle etes en die kursusmateriaal insluit.

Veeskool word van 17 tot 19 Oktober deur die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF), Breedplan en Landbouweekblad by die Allemanskraal-vakansieoord tussen Ventersburg en Winburg gehou.

Registreer aanlyn by bit.ly/2oZfqaM of kontak me. Charmaine Alberts by tel. 051 821 1783 of e-pos: palberts@telkomsa.net