Vir Altyd vertel die storie van liefde, vriendskappe en verhoudings. “Ons ploeg graag terug. Hierdie belegging in die fliek ondersteun Afrikaans en Suid-Afrikaanse kunstenaars. Só help ons ook om vermaak te bring aan die gemeenskappe waar ons besigheid doen. Dit is deel van ’n groter doel wat ons as maatskappy in glo,” sê mnr. Corne Liebenberg, besturende direkteur van Laeveld Agrochem.

“Ons is ook beïndruk met die fliek se tema oor verhoudings. As verhoudings reg is tussen mense gaan dit goed met individue maar ook goed met die land, en dít is vir ons baie belangrik. Dit is ook die tweede keer wat dié landboumaatskappy saam met die akteurs, me. Donnalee Roberts en mnr. Ivan Botha, werk.

“Ons is meer as vennote, ons voel al soos familie,” het Roberts tydens die premièrevertoning by Irene Village Mall gesê. Die eerste fliek, Pad na my Hart, het in ’n Afrikaanse lokettreffer ontpop en Vir Altyd se liefdesverhaal is oor Valentynsnaweek vrygestel. “Ons wil ook later die fliek na plattelandse gemeenskappe bring en beplan ’n reeks buitelugvertonings as deel van ’n kleindorpietoer,” sê Liebenberg.

“Ons gee ook nie om as dit reën tydens die kleindorpietoer nie, dit sal fantasties vir ons boere wees!”

Vir Altyd het op Vrydag 12 Februarie by rolprentteaters landwyd begin draai.