Die eenmansaak en kleinboerdery gaan moeilik aan die verwagtinge en vereistes vir landbou-ondernemings oor die volgende 10 jaar voldoen. Vennootskappe met ander boere, plaaswerkers, finansiële instellings of hulle almal saam bevoordeel reeds boerderye om die impak van skaalvoordele te benut en groter winsgewendheid te bereik.

Verskeie projekte van dié aard word reeds suksesvol bedryf. Baie eenman-familieboerderye se groeipotensiaal word geknou deur beperkte toegang tot kapitaal. In sommige gevalle is ’n tekort aan kennis van sommige van die belangrike kernvereistes vir die suksesvolle bedryf van landbou-ondernemings ook ’n probleem. Deur vennote te betrek wat gediversifiseerde belangstellings en kennis het, kan waarde tot die gesamentlike onderneming toegevoeg word.

Dit is natuurlik ook die rede waarom bestaansboere sonder toegang tot eksterne kapitaal, kennis of grond wat groot genoeg is, moeilik tot kommersiële boere kan ontwikkel. Potensiële vennote in boerderyprojekte behoort ’n kombinasie van kwalifikasies op die volgende gebiede te hê: Bestuur, finansiële kennis, landboukennis, tegniese vaardighede en menslike hulpbronnebestuur. Geleenthede vir groei moet ook ondersoek word.

Die eiebelang wat voornemende vennote inbind wanneer hulle hul grond en boerderybates in die poel gooi, sal verseker dat die beste “omgee”-benadering tot beter doeltreffendheid sal lei. Die insluiting van plaaswerkers as vennote in die boerdery skep ook groot potensiaal vir “omgee-vennote”. Dié strategie kan gelyktydig verskeie doelwitte help bereik.

Identifiseer ’n lopendesaak-boerdery naby die hoofboerdery wat dan in ’n vennootskap met die plaas se personeel aangekoop word. Die personeel behoort in aanmerking te kom vir finansiering van sowat 50% tot 60% van die grondwaardasie deur handelsbanke of die Land Bank.

Die ander sowat 40% moet dan deur die nuwe vennootskapsboerdery gefinansier word vir hul aandeel in die vennootskapsprojek. Hierdie boerdery skakel dan by die groter boerdery in en geniet die voordele van bestuur, finansiële dissipline, die bemarking van produkte en die gesamentlike aankoop van produksiemiddele.

Die jaarlikse winsverdeling van die personeelplaas sal natuurlik die werkers motiveer om hul bes te doen. Verder behoort die werkers se eienaarskap van grond aan die Regering se bemagtigingsvereistes te voldoen. Dié vorm van bemagtiging skep by die werkers die gevoel van hul eie plaas, soos die ander vennote ook hul eie plase behou, maar as deel van die bedryfsmaatskappy.

Die bestaande kommersiële boerdery trek natuurlik voordeel uit die feit dat sy bestaansreg deur die werkers versterk word wat ten alle koste die voordeel van die vennootskap wil behou. Ons sien reeds by verskeie projekte landwyd dat die werkers verkies om deel van die groter boerdery te wees.

Die betrokkenheid van finansiële instellings sal verseker dat korporatiewe riglyne gevolg word in besluitneming, die begroting en die monitering van resultate. Hierdie streng prosedures is noodsaaklik om die finansiering van uitbreidings sowel as die personeelplaas se finansiering te motiveer. Die sekerheid van bestuurs- en finansiële dissipline sal in elk geval ’n voorwaarde van verdere finansiering vir die vennootskapsboerdery wees.

Stagnasie op Oupa se plaas is nie meer goed genoeg om in die groeiende behoefte aan voedselsekerheid vir Afrika en die wêreld te voorsien nie. Vertikale uitbreiding saam met die verhoogde produksie van plante en diere deur die toepassing van moderne tegnologie gaan beslis in die toekoms ’n vereiste van die landbou wees. Dié groei vereis egter spesialiskennis, finansiering en goeie beplanning.

Al dié vereistes wat aan landbou-ondernemings gestel word, vereis dat nuwe toetreders tot boerdery die beste opleiding moet ondergaan en die beste kwalifikasies moet hê. Met die agteruitgang in plaaslike landbouvoorligtingsdienste sal troonopvolgers enige plek ter wêreld moet gaan studeer om hulself te bekwaam vir die reusetaak wat in die toekoms op die landbou wag.

Die groter vennootskapsboerdery sal finansieel sterk genoeg wees om sy werksmag op die nodige kursusse en studiegeleenthede te stuur. Die seuns en dogters van plaaswerkers en vennootdeelnemers wat na die boerdery wil terugkeer, sal gekeur word op grond van hul skoolprestasie, potensiaal en aanleg en dan vir verdere studie na die relevante instelling gestuur word.

Met die volgende geslag goed opgeleide jong mense wat na die boerdery terugkeer, kan die bestuur van die boerdery oorgaan tot die vestiging van ’n handelsmerk en waardetoevoeging om só die waardeketting van die plaas tot by die verbruiker te beheer. Ongeag die soort boerdery sal die bestuurspan baie goed opgelei moet wees.

Dit is reeds duidelik dat goed opgeleide boere beter geposisioneer is om die standaard van die vorige geslag se boerdery te verhoog. Met dié plan kan die landbou aan die vereistes vir die toekoms voldoen én die voortbestaan van boerdery in Suid-Afrika verseker. — Gerdie Landman

Gerdie Landman, ’n voormalige wenner van die Boer van die Jaar-kompetisie, is ’n vierdegeslag-melkboer van Kookhuis in die Oos-Kaap. Saam met sy seun Chris en 50 werkers bedryf hy die konsep van ’n koeihotel. Ander eienaars se koeie word op dieselfde perseel gemelk en dan gesamentlik bemark om só skaalvoordele te kry. Hy het al twee keer sy grond weens politieke redes verloor. Hy glo vas in die beter benutting van vastekoste en markgerigtheid.

Chris Burgess is tans op sabbatsverlof en sal weer in Maart sy rubriek hervat.