’n Mens kan bykans nie glo 10 jaar het verstryk sedert Great Wall Motors (GWM) sy eerste waarde-vir-geld Steed-enkelkajuitbakkie in Suid-Afrika bekendgestel het nie. Dié bakkie het van die kante en van agter af só effe getrek op die veel ouer Isuzu’s en van voor af was hy pure Nissan Hardbody.

Die enjinkeuse was tussen ’n 2.2 liter petrol en ’n 2.8 liter diesel. Daar is destyds sterk bespiegel dat dit bloot Chinese weergawes van onderskeidelik ’n bestaande Toyota- en Isuzu-kragbron was.

Die Steed-bakkiereeks is mettertyd uitgebrei terwyl ander modelle die produkaanbieding uitgebrei het. Met die onlangse toevoeging van die Haval-reeks tot die GWM-stal, is die GWM-handelsnaam na Haval Motors South Africa verander.

Derduisende voertuie verkoop

Hoe dit ook al sy, GWM het die afgelope 10 jaar meer as 55 000 nuwe voertuie in Suid-Afrika van die hand gesit. Dit is immers mos meer as genoeg bewys dat die mark vir waarde-vir-geld-voertuie heeltemal gesond is.

GWM bied vandag ’n reeks wat strek van die H5 sportnutsvoertuig (SNV) tot die luukse Steed 6 dubbelkajuitbakkie teen pryse wat talle mededingers meestal frustreer. Maar dit is veral die reeks se eentonner-werkesel, die Steed 5 2.0 WGT 4X2 enkelkajuitbakkie, wat steeds ’n gewilde keuse by beide boere en kontrakteurs bly.

Dit word aangedryf deur ’n betroubare 2.0 liter turbo-dieselenjin met 78 kW drywing teen 4 000 rpm en 225 Nm se wringkrag wat tussen 1 400 and 2 800 rpm beskikbaar is. Die Steed 5 2.0 WGT 4X2 enkelkajuit het 16 duim staalwielvelling, misligte, kragstuur, ‘n bverstelbare stuurkolom, lugversorging èn volgens GWM verbruik dit slegs 8,1 liter diesel per 100 km.

En as GWM se spesiale tienjaar-herdenkingsgebaar is die prys R179 900 wat ruim R20 000 minder is as die normale prys! Dit sluit ’n waarborg van drie jaar of 100 000 km is. Daar is die keuse van ’n diensplan en die diensintervalle is 15 000 km. Maar, herinner GWM, onthou sy Steed 5-eentonnerreeks se intreevlakmodel, die enkelkajuit 2.2 Mpi 4X2 kos ’n skamele R149 900… èn dit is self mos genoeg rede om nóg ’n bottel vonkelwyn oop te maak!