Miniatuur-hommeltuigies wat met ’n taai jel bedek is, kan die antwoord op die wêreld se bestuiwingskrisis wees, meen Japanse navorsers. Hul toetse wys sulke klein robot-“bye” kan ingespan word om plante kunsmatig te bestuif.

Dr. Eijiro Miyako, ’n chemikus van die nasionale instituut vir gevorderde nywerheidswetenskap en -tegnologie, berig in die vaktydskrif Chem dat hy en sy span ’n spesiale, ioniese vloeibare jel daarvoor ontwikkel het. Die vlieënde robotjies is met perdehare bedek, om die haartjies op ’n by se lyf na te maak, en dit is met die jel bedek.

Die hommeltuigies is met radiogolwe beheer. Hulle het op dié manier bamboes-lelies (Lilium japonicum), ’n skaars blomspesie inheems aan die westelike dele van dié land, suksesvol bestuif. Die tuigies het eers stuifmeel op een blom versamel, en is toe na ’n tweede blom gevlieg waar dit die stuifmeel neergesit het.

“Bestuiwer-insekte, soos heuningbye, speel ’n noodsaaklike rol in die bewaring van ons natuurlike omgewing,” skryf Eijiro. “Die ineenstorting van heuningbybevolkings is ’n wêreldwye probleem met betekenisvolle nagevolge vir die bestuiwing van plante.

“Sulke ingenieursontwerpte, kunsmatige plantbestuiwers behoort aanleiding te gee tot die ontwikkeling van hoëprestasierobotika wat eendag kan help om die afname in heuningbybevolkings teen te werk.”

Hy voeg by dat onlangse vordering in biorobotika beloof om die prestasiegaping tussen sulke robotte en diere te oorbrug. As ingenieurs daarin kan slaag om die hommeltuigies selfstandig te laat werk, kan regte bye en hul robot-eweknieë eendag sy aan sy werk.

• Dié artikel is geborg deur GWK. Besoek GWK se webblad by http://www.gwk.co.za/

GWK top flag