“Ons as die vrugtegemeenskap moet alles in ons vermoë doen om ons boere by te staan om die huidige situasie te hanteer,” het mnr. Anton Rabe, uitvoerende hoof van Hortgro (die sagtevrugtebedryfsliggaam), in ’n verklaring gesê.

Die organisasie is bekommerd oor die druk wat boere ervaar, wat tans deur die droogte vererger word.

Rabe meen boere moenie net bygestaan word met “praktiese, tasbare produksie-uitdagings waar meer met minder gedoen moet word” nie.

“Dit moek ook gedoen word op die psigiese terrein waar produsente, hul gesinne en landbouwerkers werklik swaar kry.”

Ingewikkelde en private saak

Rabe sê Hortgro vermoei hom nie gewoonlik met psigiese gesondheid nie, want dit is ’n ingewikkelde en private saak, maar “hierdie is abnormale omstandighede en ons moet die struikelblokke buite ons verwysingsraamwerk takel.”

Die organisasie ondersoek tans verskeie hulpskemas. Boere word intussen aangemoedig om hulself, hul gesinne en werkers ingelig te hou oor geestesgesondheid.

Vir meer inligting en hulp, kontak die Suid-Afrikaanse depressie- en angsstoornisgroep (Sadag) by www.sadag.org of 0800 21 22 23.