Min of geen bewerking, soveel bedekking moontlik en maksimum diversiteit is vereistes vir grondgesondheid, het mnr. Barry Fisher, 'n Amerikaanse grondgesondheidspesialis, gesê.

Fisher het profielgate in lande en kampe op 'n biodinamiese plaas buite Stellenbosch en 'n plaas by Caledon waarop ononderbroke gewasverbouing plaasvind, bespreek en vrae van boere tydens die eerste van Bewaringslandbou Wes-Kaap se twee plaasdae beantwoord.

Fisher beveel aan dat boere 'n gewas vind wat hulle in die somermaande kan plant om grond koel en vogtig te hou, al groei die gewas ook verpot. "Hoe meer biomassa jy bo-op én onder die grond het, hoe gouer kan jy jou grond verbeter."

Hy sê hy besef dat die waarde van dekgewasse een van die moeilikste konsepte is om aan boere oor te dra omdat dit nie iets is wat hulle aan die einde van die seisoen kan oes en 'n inkomste verdien nie. "Ek kan julle belowe julle sal jul geld terug kry."

Hy het ook sterk klem gelê op die waarde van micorrhiza (die simbiotiese verhouding tussen 'n fungus en die wortels van 'n plant) om te help om water en elemente, soos sink, op te neem. Ten einde die verhouding te beskerm, het hy boere gemaan om swamdoders met omsigtigheid te gebruik. Dr. Heidi-Jayne Hawkins, 'n navorser by Conservation South Africa, het bygevoeg dat sekere fosfaatvlakke ook die fungusse nadelig kan beïnvloed.

Fisher het gesê dat dit in die eerste jare nadat daar na verminderde bewerking oorgeslaan word, raadsaam kan wees om kompos, bees- of hoendermis, komposekstrak of probiotika in die vorm van rhizobiale of micorrhizale inokulante toe te dien. "Dit gaan nie gou tot groter opbrengste lei nie, maar onthou, 'n mens kan nie alles oornag regmaak nie." Ander raad wat hy aan die boere gegee het, is om eers die boonste laag van die grond "reg te kry" voordat hulle aan die dieper lae werk omdat dit is waar die transformasie van die grond begin. "Dis belangrik om die biologiese kudde onder die grond te voed, net soos jy jou vee sou voed. Dis waar stikstofbindende peulplante baie nuttig kan wees." Foto-byskrif: Mnr. Barry Fisher (op voorgrond met grond in sy hande) bespreek grond uit 'n profielgat op mnr. Heinrich Schönfeldt se plaas buite Caledon tydens Bewaringslandbou Wes-Kaap se eerste plaasbesoek. Foto: Amelia Genis

BLWKplaasdag