Suzuki brei sy sportnutsvoertuigaanbod uit met ’n kompakte, kruisgeteelde stoftrapper wat ewe tuis in stadsverkeer as op grondpaaie is. Die Ignis spog in sy kort lewe reeds met ’n paar internasionale toekennings waaronder ’n tweede plek as die wêreld se beste stadsvoertuig vir 2017.

’n Mens moet jou egter nie vaskyk teen die mooi, stewige voorkoms en bougehalte nie, want daardie grondvryhoogte van 180 mm beteken dat dit ook heeltemak skaflik op grondpaaie behoort te vaar. Al die modelle word met vyftienduim-wielvellings toegerus.

Die nuweling vul ’n belangrike leemte in die plaaslike Suzuki-aanbod. Dit bied ’n liggewig-konstruksie op ’n stewige onderstel. Dit weeg minder as 850 kg en word aangedryf deur Suzuki se beproefde K12M 1.2 l-viersilinderenjin, wat onder meer ook in die Swift-modelle ingespan word. Hierdie enjin lewer 61 kW drywing en 113 Nm se wringkrag teen sowat 4 200 r/min.

Lig op brandstof

Die vyfganghandratkas-Ignis kan van stilstaan tot 100 km/h in 11,6 sekondes versnel terwyl die weergawe met die vyfgang outomatiese ratkas 13 sekondes nodig het om dieselfde te doen. Volgens Suzuki is die maksimum spoed 155 km/h.

Suzuki sê ook die handratweergawe verbruik sowat 5,1 l/100 km in ’n gekombineerde siklus terwyl die outomatiese model met ’n verbruiksyfer van 4,9 l/100 km nóg suiniger met brandstof werk!

Vir sy grootte en plek in die mark spog die Ignis met ‘n hele rits geriefs- en veiligheidskenmerke. Dit word vir drie jaar of 100 000 km gewaarborg en daar is ’n diensplan vir twee jaar of 30 000 km. Die diensintervalle is elke 15 000 km of 12 maande. Die drie modelle se pryse (BTW ingesluit) strek van R169 900 tot R204 000.

Die Ignis is waarskynlik nie geskik vir Botswana se boendoes nie, maar is wel ’n ligte en ekonomiese ryding vir Sus of Daan wat in die stad leer of werk en naweke die grondpaaie plaas toe aandurf.