Ek het onlangs twee baie lekker dinge gedoen. Die eerste was om ’n paar dae in Spanje deur te bring en die tweede om 240 km op ’n bergfiets in my bekende jagwêreld naby Graaff-Reinet, Aberdeen, Klipplaat en Steytlerville rond te ry. Langs die pad was daar dikwels wild te sien en oral op die paaie was daar jagbakkies. Saans by ons slaapplekke kon ek met jagters gesels.

Ek was behoorlik jaloers, want vanweë verskillende redes het ek vanjaar nog nie eens my geweer uit die kluis gehaal nie. Daar kom mos maar soms sulke droë jare.

Maar wat het Spanje met jag te doen? ’n Gesprek met ’n Spanjaard buite een van die stiergeveg-arenas het my baie aan die dink gesit oor wat jag werklik vir my beteken.

Die Spanjaarde is self baie lief vir jag, veral veerwild en wildevarke en hulle bou baie mooi haelgewere en ander wapens. In Toledo kon ek ook hulle pragtige handgemaakte messe van Damaskus-staal bewonder. Tog het my gesprek met hom glad nie oor jag gegaan nie, inteendeel, ons het oor stiergevegte gepraat.

Ritueel en kunsvorm

Baie mense in die wêreld, en deesdae selfs in Spanje, sien die stiergeveg as ’n wrede en bloedige mishandeling van diere wat so gou moontlik stopgesit moet word. Vir baie Spanjaarde is dit egter so deel van hulle menswees dat hulle dit nooit sal wil beëindig nie. Selfs een van die vroulike gidse het gesê: “It is not my cup of tea, but…”. Sy het inderdaad al verskeie stiergevegte bygewoon en beplan om nog te gaan sien.

Die man met wie ek gesels het, het die saak in perspektief gestel toe hy vir my sê: “Onthou net die stiergeveg is geen sport nie, dit is ’n ritueel, ’n kunsvorm.” Dit het my dadelik aan jag laat dink, want vir my was jag ook nog nooit ’n sport nie. Net so min as wat die bulle in die arena volgens die fynproewers vir sport doodgemaak word, net so min skiet ek diere dood vir die sport daarvan. Wat ek dit wil noem weet ek self nie, maar tog nie sport nie… dalk maar net jag.

Daarmee wil ek geen afbreuk doen aan jagters wat dit wel as ’n sport sien nie. Elkeen volg sy of haar oortuiging. Die jag van wilde diere is immers reeds eeue gelede deur konings en edelmanne as sport gesien en beoefen. Ook by ons eie landgenote soos die Zulu, Xhosa en ander groepe was daar, behalwe die jag van wild vir hulle vleiswaarde, ook jag vir sport. Dikwels is ’n man se plek in die samelewing bepaal volgens sy dapperheid in die jagveld. Hierdie vorm van sportjag was natuurlik grootliks gemik op gevaarlike wild soos buffels en leeus.

Dieper betekenis

As ek dit dan nie as sport sien nie, maar ook darem nie net as ’n geleentheid om vleis te oes nie, wat beteken dit vir my? Ek kan dit ongelukkig nie onder een woord saambring nie, maar die naaste beskrywing is dat dit ’n ervaring is wat baie dinge omvat.

Die heel eerste is om te besluit waar om te gaan jag en watter spesie dié jaar gejag sal word. Dán die keuse van ’n geweer vir die spesifieke jagtog, die skoonmaak van die doppies, die uitwerk van die perfekte lading met die regte koeël vir die spesifieke jagterrein. Nou kom nog die laai van patrone, die uittog skietbaan toe om te gaan toets en uiteindelik die laai van genoeg patrone vir die jagtog self. Verder is daar die wik en weeg oor watter messe gevat word en so kan ’n mens aangaan.

In die veld self is daar die reuk van die bossies, die manier hoe die son vroegoggend teen ’n berghang val, die eerste spore wat jy sien en die skielike flits van die son op ’n koedoebul se horing. Kilometers se stap met stewels wat lekker pas en al ingeloop is. Dan die kruishaar wat op ’n bladknop of sierlike nek vassteek, die skop teen jou skouer en die dankbaarheid as die koeël reg klap.

André P. Brink beskryf in sy boek Olé ’n uitsonderlike goeie stiergeveg wat hy bygewoon het en daar ’n besondere band tussen matador en bul geheers het. Toe die matador die finale doodsteek uitvoer, was dit met trane in sy oë.

Wanneer die koeël reg tref en die bok val is daar ook by my ’n stuk weëmoed oor ’n pragtige dier wat dood is, maar onder die dood van die bul was daar geen ware stiergeveg nie en sonder die dood van jou wildbok ook geen ware jagtog nie.

Inderdaad vir my geen sport nie, dalk liewer ritueel.