Suid-Afrika se bloukraanvoël-bevolking groei fluks en boere in die Wes-Kaap word geprys vir hul aandeel hierin, sê die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT).


Me. Karryn Morrison, bestuurder van die Afrika-bloukraanvoëlprogram, sê dié spesie se getalle neem veral in die Suid-Kaap fluks toe.


“Ons skryf dit toe aan die opofferings en ondersteuning wat ons van die boere daar kry. Sonder hulle sou dié voëls se getalle nie toegeneem het nie,” vertel Morrison.


Die totale bevolking staan op nagenoeg 25 000, hoewel dit steeds stadig toeneem.


Bedreigings

Morrison sê verskeie bedreigings bestaan steeds vir die voëls, waarvan die jongste die oprigting van windplase is.


“Ons is nie seker wat die impak van windplase en die oprigting van turbines op die voëls se optrede en gewoontes sal wees nie. Dalk verlaat hulle die gebiede waar hulle hulleself nou gevestig het, of dalk pla dit hulle nie. Ons hou tans bietjie asem op oor dié kwessie.”


Kragdrade en die gebruik van gif is van die ander bedreigings vir dié voëls wat hoofsaaklik koring vreet.


Intussen het mnr. M.G. Lotter van die Arolela-gasteplaas naby Caledon met groot opgewondenheid foto’s van die eerste eiers vir die seisoen wat op sý plaas gelê is, op Landbou.com se Facebook-blad gewys.


Opgewondenheid

Hy sê die boere is baie opgewonde oor die feit dat die voëls se getalle die afgelope 15 jaar toegeneem het. “Elke boer wat op ’n nes afkom, merk dit met ’n vlaggie ’n ent daarvandaan, of met ’n hopie klippe om aan te dui dat mense nie oor die nes moet ry of dit uitmekaar moet haal nie.”


Lotter bly al 11 jaar op sy plaas. Hy sê aan die begin van dié tydperk het die voëls elke jaar in die winter na die vleilande en panne van die distrik Bredasdorp toe gegaan. Deesdae is dit egter nie meer die geval nie – die voëls is regdeur die jaar op die plaas.


Die nuwe nes is in die middel van ‘n droë dam gebou, waar die kraanvoëlpaar naby aan die water is en ’n goeie uitsig oor die omgewing om hulle het. Lotter sê hy is wel verbaas dat die nes naby aan sy huis is.


18 Oktober 2011