Sedert voëlgriep in Augustus in die Wes-Kaap uitgebreek het, is 2,4 miljoen lêhoenders, 73 000 teelhoenders en 32 600 eende van kant gemaak. In ’n verklaring sê die Wes-Kaap se departement van landbou hy werk onverpoos om ’n oplossing vir dié uitbreking te vind.

Mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse minister vir landbou, sê dat hy vandeesweek week meer inligting oor die situasie van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DLBV) ontvang het. “Ek is ingelig dat die DLBV steeds die bedryf se aansoek om entstof oorweeg. Gesprekke oor moontlike finansiële ondersteuning is nog aan die gang.” Die amptenare van die provinsiale department van landbou sal die Kabinet volgende week ook inlig oor die impak van voëlgriep en die droogte op die landbou.

 

Uitdagende tyd vir pluimveebedryf

“Dit is ’n moeilike tyd vir die Wes-Kaapse pluimveebedryf. Die gevaar dat hul ondernemings gesluit moet word, staar sommige boere in die gesig,” sê Winde. “Werkers is bekommerd oor hul inkomste en oor hoe hulle vir hul gesinne moet sorg. Ons besef ook dat die impak op voedselsekerheid noemenswaardig sal wees. Dit is hoekom ons daartoe verbind is om met die DLBV saam te werk om ’n oplossing te vind.”

Volgens Winde versprei die siekte ten spyte van maatreëls om die verspreiding van die virus te voorkom. Hy sê talle boere het voorkomend hul pluimvee laat toets en van kant laat maak sodra die toetse positiewe resultate gelewer het. Sommige het ook kalk rondom hul plase laat strooi om verspreiding te probeer voorkom.

Boere en die publiek word gemaan om nie paniekerig te raak oor vals boodskappe wat op sosiale media oor die situasie versprei word nie. ’n Gesamentlike operasionele sentrum is gevestig om boere en lede van die publiek van raad te bedien. Die sentrum kan gekontak word vir inligting wat bevestig is.