“As jou grond se klei en slik oor 22% is, kan jy die sprong maar waag,” sê mnr. Adriaan Dreyer, grondkundige van die konsultasiediens SGS Nvirocrop.

Hy was spreker op een van die paneelbesprekings op Landbouweekblad se konferensie oor oplossings vir die landbou, wat oor twee dae by die Vrystaatse Universiteit in Bloemfontein gehou is. Dreyer is by langtermyn-bewaringslandbouproewe buite Ottosdal in Noordwes betrokke, waar geenbewerking-praktyke vir dié gebied onder meer getoets word.

Sy navorsing daar het die 22%-drempelwaarde (van klei en slik) bevestig. Hy het egter ook op die konferensie na ’n boer verwys wie se grond ’n klei-inhoud van minder as 6% het, maar wat die afgelope drie jaar al welslae met geenbewerking behaal.

Dreyer het benadruk dat alle wortelontwikkeling-probleme in ’n geenbewerk-stelsel nie noodwendig deur die geenbewerking veroorsaak word nie. Een oorsaak kan wees dat geplant is terwyl die grond nog te nat was. ’n Ander kan te min kalsium en magnesium wees.

Hy het ook beklemtoon dat nie sonder meer aangeneem kan word oorsese praktyke sal ook hier in Suid-Afrika werk nie. Argentinië se geenbewerk-sandgronde het byvoorbeeld ’n baie hoër kalsium-inhoud as ons sandgronde hier. Een Argentynse grondmonster wat hy laat ontleed het, het amper twaalf keer meer kalsium bevat as ’n monster vanaf een van sy Noordwes-proewe.