Promosie-artikel:

Die Suid-Afrikaanse landboubedryf staar tans 'n stille krisis in die gesig wat veroorsaak word deur die onlangse beduidende verhoging in hoenderinvoere na Suid-Afrika. Invoervolumes is sedert 2009 tien keer meer, vanaf omtrent 3,500 tot 30,000 ton per maand. Hierdie onverhinderde instroming spruit uit die Noord-Amerikaanse en Europese markte se voorkeur vir wit vleis, wat daartoe lei dat bruin vleissnitte in Suid-Afrika gestort word, dikwels teen pryse laer as waarteen plaaslike verskaffers dit kan vervaardig. Die verwoestende impak hiervan op die plaaslike pluimveebedryf is duidelik, met talle plase wat verkoop word, werksaamhede wat opgeskort word en menigte mense wat hul werk verloor.

Indien hierdie groeiende vloed invoere onverpoos voortgaan, sal dit die uiteindelike ineenstorting van die plaaslike pluimveebedryf veroorsaak. As gevolg van die onderafhanklikheid van verskeie industrieë op hierdie bedryf, sal so ‘n ineenstorting baie erger gevolge hê as wat met die eerste oogopslag gesien kan word.

Om hoenders te voer

Vir elke 700 kilogram hoender op die rak, is een ton mielies nodig om die hoenders te voer. Die pluimveebedryf gebruik ‘n beduidende deel van die land se mielie-oes. Volgens die Dierevoer Vervaardigersvereniging, is die pluimveebedryf die grootste verbruiker van plaaslik vervaardigde voer, met mielies wat 48% van hierdie verbruik in die laaste kwartaal van 2016 verteenwoordig.

Die ondergang van die pluimveebedryf sal dus ‘n ernstige impak op industrieë soos die graanproduksie en –hanterings-, bank-, versekerings-, landbouchemiese, kunsmis-, verpakkings-, logistieke en prosesseringsbedrywe hê. Soos wat die aanvraag na produkte en dienste verminder, sal rasionalisering binne hierdie bedrywe plaasvind, wat tot beduidende werksverliese sal lei.

Sodanige werksverliese sal die reeds sukkelende Suid-Afrikaanse bevolking hard tref. Suid-Afrika se amptelike werkloosheidsyfer is 27% en, indien nie-aktiewe werksoekers in ag geneem word, verhoog dié persentasie tot ‘n verbysterende 36%. Vir elke persoon wat ‘n werk het, is daar 10 ander wat op daardie persoon staatmaak om te oorleef.

Landbou skep werk

Die landbousektor het nie alleen ‘n betekenisvolle bydra tot die BBP van die land nie, maar is ook vir werkskepping, veral in die landelike gebiede, verantwoordelik. Die afname in geleenthede vir ekonomiese volhoubaarheid in landelike gebiede sal die tempo van verstedeliking, asook die kostes daaraan verbonde om hierdie verstedelikte bevolking te ondersteun, verder verhoog. Dit sluit die druk in om ekonomiese groei en werksgeleenthede te skep om armoede te verminder.

Voedselsekuriteit kan bedreig word, aangesien ‘n groot deel van die bevolking op kommersiële verskaffingskanale staatmaak vir ‘n veilige, voedsame voedselbron.

Om te oorleef, moet die plaaslike bedryf die geleentheid gebied word om teen ingevoerde goedere te kompeteer. Plaaslike produsente moet egter uitdagings soos inflasie, ‘n verlies aan behoorlike infrastruktuur en basiese dienste insluitend ‘n doeltreffende spoorwegstelsel, hoër elektrisiteitskostes en ingewikkelde arbeidswetgewing die hoof bied. Suid-Afrikaanse produsente het ook die laaste paar jaar ‘n ernstige droogte deurgegaan, wat tot hoër voerpryse gelei het.

Die klimaat strem

Landboukundige toestande in Suid-Afrika is van nature stremmend as gevolg van ons klimaatstoestande. Groot dele van ons mielie-oes word op droëland in woestynagtige omstandighede verbou en daarom is die opbrengspotensiaal laer as in baie ander lande. Om hierdie uitdaging te oorkom, moet Suid-Afrikaanse boere daarom wêreldklas ondernemings bestuur en wetenskaplik boer met ‘n groot begrip van die impak wat sy aktiwiteite op grondgesondheid en volhoubare produksie het.

Daar is oor die algemeen gesonde kompetisie wat meer doeltreffende werksaamhede en, baie belangrik, laer pryse vir die verbruiker tot gevolg het. Wanneer kompetisie egter ‘n onregverdige voordeel verkry, neem die vermoë van die plaaslike bedryf om te kan kompeteer af. Landbou word in heelparty lande waar die hoenderinvoere vandaan kom gesubsideer, wat goedkoper voer tot gevolg het en dié lande in staat stel om plaalike pryse te ondermyn. Die meeste van hierdie ingevoerde hoender word ook onder kosprys verkoop, aangesien wins reeds op die wit vleisverkope oorsee gemaak is. Dit gee geloofwaardigheid aan die bewerings dat ingevoerde hoender in die plaaslike mark ingestort word. Wanneer hierdie faktore in gedagte gehou word, is dit moeilik om te sien hoe ons plaaslike bedryf volhoubaar teen gesubsideerde, gestorte hoenderinvoere kan kompeteer.

Sodra ons plaaslike produksiekapasiteit verwoes is, sal dit jare neem om weer te herstel. Gedurende hierdie tyd sal Suid-Afrika van ingevoerde voedsel afhanklik wees. Dit laat ons kwesbaar vir prysverhogings vanaf beweeglike uitvoerders wat gaan waar hulle die hoogste wins kan verkry. Dit is waarom plaaslike voedselproduksie so ‘n belangrike aspek van ons land se voedselsekuriteit is.

Goedkoop invoere

Dit is daarom betwyfelbaar of die onlangse goedkoop hoenderinvoere regtig plaaslike voedselpryse verlaag. Sit dit nie eintlik werks- en voedselsekuriteit, sowel as volhoubaarheid en die selfvoorsiening van die plaaslike bedryf in gevaar nie?

Die langtermyn implikasies van onverstoorde hoenderinvoere is gewigtig. Ons is besig om broodnodige plaaslike werksgeleenthede na internasionale voedselprodusente toe “uit te voer”, terwyl ons mense se afhanklikheid van werk buite die landbousektor deur verhoogde verstedeliking verhoog.

Sterk politieke en industriële leierskap is nou van die uiterste belang om volhoubare maatreëls in te stel om ons plaaslike industrieë, ons ekonomie en ons mense te beskerm. Dit is nie net ‘n eenvoudige geval van die beskerming van die pluimveebedryf nie, maar dit het verreikende implikasies op die groter landbou-ekonomie en werksgeleenthede. Dit is egter noodsaaklik om dringend op te tree aangesien die situasie vinnig besig is om uit te rafel en slegs deur vinnige, beslissende aksie reggemaak kan word.

Bronne:

Animal Feed Manufacturers Association. 2016. Bedryfstatistiek April 2016 tot September 2016 verslag. Beskikbaar by http://www.afma.co.za/industry-statistics/. Op 10 Februarie 2017 verkry.

Meer oor Omnia Kunsmis:

Ons deel ‘n passie met ons kliënte, ‘n passie om dinge te sien groei. Dit is waarom ons Nutrilogie®, die wetenskap vir groei, ontwikkel het. Ons reeks gespesialiseerde produkte en dienste word deur die eiesoortige Nutrilogie®-aanbieding onderskryf, wat kliënte bystaan om opbrengs en gehalte te verbeter. Hierdie passie sluit nie net plante in nie, maar reik ook na ons mense, ons besigheid en ons kliënte se winsgewendheid uit. Daarom belê ons op groot skaal in navorsing, ontwikkeling en ingenieurswese soda tons kunsmis van die hoogste standard kan vervaardig, wat ons toelaat om hierdie passie te volbring. Omnia Kunsmis is ‘n afdeling van die Omnia Groep (Edms) Bpk.