Ottosdal se tweede jaarlikse bewaringslandbou-konferensie, op 11 en 12 Maart, beloof twee dae propvol nuttige en belangrike inligting vir saaiboere.

Onder die sprekers op die Woensdag se program is mnr. Cobus Burger van die onafhanklike adviesdiens SGS NviroCrop, wat oor grondgesondheid sal praat, twee kenners wat die gedrag en beheer van nagmuise sal bespreek, en mnr. Tony da Costa, bekende bewaringsboer van die plaas Manjoh Ranch by Nigel.

Dr. Ernst Janovsky van Absa sal sy mening oor die toekoms van die landbou in die volgende vyf tot tien jaar gee, en dr. André Nel sal die Landbounavorsingsraad se jongste resultate van sy proewe by Ottosdal bespreek. Die proefpersele sal die middag besoek word.

Boere-sprekers op Donderdag se program is mnre. Gert van Aarde, Willem Grobler, Naas Britz en Gert van Rensburg, almal van Noordwes. Mnr. Kallie van der Merwe, ’n onkruidbeheer-kenner en ook ’n  boer, sal oor chemiese onkruidbeheer in bewaringslandbou praat, en mnr. Wessel van Wyk, sojaboon-konsultant vir die Proteïennavorsingstigting (PNS) oor hoe sukses met dié gewas al in planttyd bepaal word.

Van regeringkant sal mnr. Klaas Mampholo van die Departement Landbou, Bosbou en Visserye oor belangrike aksies op nasionale vlak praat. ’n  Argentynse afgevaardigde sal oor bewaringslandbou in dié land praat.

Die konferensie sal Donderdagmiddag met ’n paneelbespreking afsluit.

Ottosdal se geenbewerking-klub bied die konferensie met die hulp van Graan SA en die Mielietrust aan. Landbouweekblad is ook as ’n  media-borg betrokke, en sal vanjaar weer ’n  toekenning aan die beste spreker borg.

Bespreek vóór 1 Maart om jou plek te verseker.

* Navrae en besprekings: Chandré Rudolph, tel. (018) 571 0900 of 079 203 4080, rudolphchandre@gmail.com.