Die datum om aan te teken, is 11 Oktober en vanjaar sal dus die eerste Nasionale Pinotage-dag wees. Van nou af sal dié dag elke jaar op die tweede Saterdag in Oktober gehou word vir wynliefhebbers van regoor die wêreld wat dié variëteit se unieke smaak ontdek het.

Die eerste kommersieel vervaardigde Pinotage wyn is in 1959 gemaak. Dit is werklik ’n eg Suid-Afrikaanse wyn wat oor dekades verfyn is ná die kruising van Pinot Noir en Cinsaut in 1925 op eie bodem.

Pinotage is Suid-Afrika se bekendste bydrae tot wynsoorte in die wêreld, sê Beyers Truter, voorsitter van die SA Pinotage-vereniging. “Daar is talle redes waarom ons Pinotage sy eie feesdag wil gee. Pinotage definieer die reputasie van die Suid-Afrikaanse wynlandskap.

Daar is soveel om oor Pinotage te sê dat ons nie net ’n dag nodig het nie, maar ’n jaar!” sê hy op www.pinotage.co.za. Besoek ook dié webskakel om meer uit te vind oor wynplase en kelders wat deelneem aan die Pinotage Dag se feesvieringe op Saterdag 11 Oktober.

Spesiale spyskaarte vir die perfekte wyn en kos kombinasie word aangebied sowel as spesiale pryse en groot afslag op geselekteerde Pinotage en Pinotage versnitte.