Sonder twyfel is die meeste boere op hul knieë vir goeie reëns die komende somer, maar waar gaan klop ’n mens aan as jy voorbereiding vir ’n droë somer wil tref?

Een plek is ’n webwerf vir weervoorspellings, hoewel die juistheid van hierdie hulpbronne meestal ook maar ’n saak van gebed is.

Dr. Rikus Kloppers, senior bestuurder van gewasdienste by Pannar Saad, beveel ’n kombinasie van weerwebtuistes aan om die meeste van die onsekerheid uit die weg te ruim. “Ek gebruik meestal www.meteoblue.com, want sy radius vir ’n enkele voorspelling is van die kleinste en dus van die mees gekonsentreerde inligting wat beskikbaar is.

Wanneer die radius van voorspelling groter raak, word die data van ’n groter aantal weerstasies tot ’n gemiddelde verwerk. ’n Meer algemene voorspelling word dan vir ’n groter area bereken.”

Vir hul algemene boerderybesluite, soos tydsberekening vir optimum bespuiting, gebruik hulle dié webblad, sê Rikus. Dan vind hy dit ook dienlik om een of twee ander weerwebtuistes, soos www.yr.no en www.accuweather.com, daarmee saam te gebruik.