Dié katalogusveiling wat op 21 Oktober 2017 in die Atterbury-teater in Pretoria plaasvind, maak ook voorsiening vir telefoniese deelname deur voornemende kopers.

Die beesras het die eerste keer aandag getrek in Suid-Afrika nadat Australiese Wagyu-telers kon bewys dat hul inkomste amper dubbel die normale prys vir ’n karkas van 400 kg was. Dr. Michael Bradfield, hoof- uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Wagyu-telersgenootskap, sê internasionaal en plaaslik neem die vraag na dié gesogte vleis toe. Die vleis se marmering maak dit gesog in veral in Amerika en Australie.

Die beesras raak ook al hoe gewilder onder Suid-Afrikaanse produsente. Die genootskap het sowat 80 lede, maar verwag om binne die volgende drie tot vyf jaar tot ten minste 300 lede te groei.

Kenners van Australië en Amerika

Mnr. Darren Hamblin, ’n boer van Australië, en dr. Aaron Cooper, ’n konsultant van Amerika, sal as sprekers op die veiling optree. Albei het die geskiedenis van Wagyu-teling waarby hulle betrokke was, deeglik gedokumenteer.

Bradfield sê Hamblin is volgens hul inligting die boer met die meeste private inligting. “Hy is ook betrokke by verskillende genetika- en genomikaprojekte in Australië. Cooper is waarskynlik die wêreld se beste konsultant rakende rooi Wagyu. Hy noem dit Akaushi.”

Altesaam 98 beeste, almal Suid-Afrikaans geteelde Wagyus, rooi Wagyus en Japannese swart Wagyus, asook 128 embrio’s en 36 semenstrooitjies, sal opgeveil word.

Nog inligting is op www.wagyu-sa.co.za beskikbaar.