Die ranteveld vol klippe was eintlik die rede waarom hulle ’n ander plan moes maak, sê mnr. Gideon Coetzee.

“Ons het voorheen brandpaaie teen ons grense geskraap, maar tussen die rante en klippe kan jy net só ver kom. So ’n brandpad was net 4 m breed, wat min beskerming is. Tussen die rante, waar ons nie kon skraap nie, sou ons moes spuit en die stroke afbrand. Dit lyk egter aardig en ons het gesien hoe swak die veld in sulke dele herstel. Daarby kos al hierdie pogings jou ’n klompie geld."

Verlede jaar het Coetzee begin om hul beeste te gebruik om die veld al teen die grensdrade langs af te vreet.

Drukbeweiding

“Ons pas basies drukbeweiding toe. Die stroke is gewoonlik 100 m lank en 30 m breed en word met ’n elektriese draad afgespan. Ons sit sowat 135 beeste in só ’n strook en skuif hulle sodra ons sien hulle het die veld kort genoeg gevreet. Dit hang baie af van hoeveel gras of klippe daar is.”

Die koeie, Bonsmara en Simbra, is nie gewoonlik in drukbeweidingstelsels nie en Coetzee sê dit kos hulle sowat ’n week om daaraan gewoond te raak. “Die diere stamp en stoot aan die begin ’n bietjie en probeer uitbreek, maar ná ’n week loop dinge glad. Ek het wel gesien die kondisie van koeie met kalwers neem vinnig af in só ’n drukbeweidingstelsel.

“Ons gebruik dus net dragtige koeie of koeie wat nie kalwers het nie en hul kondisie bly goed. ’n Mens hou jou diere baie beter dop in so stelsel. Jy sien makliker en gouer ’n fout raak en ook dadelik as ’n koei gekalf het.”

Die beeste op die Coetzees se plaas Rhebok­laagte by Vredefort in die Vrystaat raak binne ’n week aan die stelsel gewoond. Foto’s: Jo West

Mobiele waterpunt

Met water het Coetzee ook ’n slim plan beraam. Hy het vier 5 000-liter-tenks bo-op ’n sleepwa en ’n krip wat agter aan die sleepwa vasgesit is. Die mobiele waterpunt kan dus net verskuif word. Geen krippe hoef ingerig te word nie. “Die stelsel werk goed, is maklik en net een werker is nodig om dit aan die gang te hou.”

Dit duur wel ’n rukkie om die 13 km lange grens te laat bewei. Coetzee het middel Maart begin en is nou klaar met net meer as 9 km. “Ons het baie reën die afgelope tyd gehad en dit meng ’n bietjie in met die plan. Jy kan nie daardie diere op ’n stuk nat turfgrond laat saambondel nie. Ons moes hulle dus meer ruimte gee of na klipperiger dele verskuif.”

Belangrike voorsorg

Coetzee, wat ook aan die stuur van die plaaslike brandbeskermingsvereniging is, sê min boere doen die moeite om brandbane op hul plase te maak. “Dit is ’n groot probleem, veral in ons gebied waar dit elke winter brand. Sonder beskerming langs jou grense versprei die brand baie vinniger en dit gee die brandbestryders nie kans om voor te kom nie.

“ ’n Ander probleem is dat daar dan nie ’n skoon gedeelte is waar jy maklik met ’n voertuig kan beweeg nie. Jy kan glad nie die klippe in lang gras raaksien nie. Ons voertuie verniel verskriklik wanneer ons brande moet gaan blus. My bakkie is verlede jaar afgeskryf van al die skade aan die onderstel. “Boere moet ook onthou jy kan groot eise teen jou kry wanneer ’n vuur uit jou veld, waar daar nie brandbane gemaak is nie, na jou buurman toe versprei,” sê Coetzee.

NAVRAE: Mnr. Gideon Coetzee, 082 773 4714.