Goeie vleis kan ’n mens nie mors deur dit net te braai nie, meen mnr. Willie Bester van die plaas Tweedam by Bredasdorp. Die vleisberoker wat hy gebou het van materiaal wat hy meestal op sy plaas gehad het, is iets wat vleissmulpape groen van jaloesie sal maak. “Ek hou daarvan om my vleis te verwerk, en dit het my effens gepla dat ons Suid-Afrikaners net altyd vleis braai. Daar is soveel meer gaarmaakmoontlikhede.”

Bester het ’n voorliefde vir goeie, gerookte vleis en hy het begin kyk na berokerkonsepte en veral planne van Amerikaners. “So baie soos ons Suid-Afrikaners van braai hou, só erg is die Amerikaners oor berookte vleis. Eers het ek TV-programme gekyk en daarna op die internet en YouTube begin krap. Veral een plan, wat die Amerikaners ’n off set-beroker noem, het my beïndruk. Dit is ’n horisontale vleisberoker waarvan die vuurkas effe laer as die berokingskamer is.

“Daarin maak die warm rook die vleis van onder af gaar en dit verseker ’n egalige hitteverspreiding. Ek het my beroker op dié beginsel geskoei.” ’n Mens kry ook koue berokers, maar Bester wou ’n warm beroker hê.

In die berokingskamer (links) is die rooster waarop die vleis lê as dit berook word. Buite is nog ’n rooster aangebring vir benodighede tydens die voorbereiding. Die vuurkas (regs) se klap is oopgeslaan. Links is die uitlaatpyp.
Die vuurkas het ook ’n sydeur vanwaar die houtvuur gepak word.

Basis ’n gratis kompressortenk

Nadat Bester foto’s fyn bekyk en sover moontlik “met die oog gesteel het”, het hy vroeg verlede jaar die bul by die horings gepak. Hy het ’n tenk of drom van dik staal van minstens 3 mm dik as basis gebruik. “Die Amerikaners gebruik meestal ou propaangastenks hiervoor, maar dit is nie volop plaaslik beskikbaar nie.”

Op Bredasdorp het hy op ’n ou kompressortenk van dik genoeg staal afgekom wat hy gratis in die hande gekry het. “Ek het die vuurkas se plate by die koöperasie laat buig, en ook in dié tyd ’n termometer uit Amerika bestel. Dit is iets wat ek nie self kon maak of in die land kon koop nie.”

Hy het die kompressortenk uitmekaar gehaal en al die onnodige gate toegesweis. Aan die een kant het hy die ronding van die drom só oopgesny sodat die vuurkas daar gemonteer kon word. “Daarna het ek ’n deksel uit die bokant van die kompressor gesny en ’n ekstra plaat om die rand van die deksel gemonteer om seker te maak dit sluit dig en hou die rook binne.”

Aan die linkerkant het hy ’n uitlaatpyp aangebring. In die vuurkas is ’n deur gesny waar die hout ingesit kan word.

Dié termometer is uit Amerika ingevoer en was die duurste onderdeel.

regulering van temperatuur belangrik

In dié deur is ook ’n verdere skuifgat gemaak waarmee Bester die lugvloei kan reguleer. “Hoe meer die luggat toegehou word, hoe hoër is die temperatuur in die roker, en andersom. Verskillende soorte vleis verg verskillende temperature om behoorlik berook te word, en dit is ’n kuns om die regte temperatuur deurentyd te handhaaf.

“Varkvleis word byvoorbeeld drie tot ses uur lank teen sowat 150 °C berook, terwyl hoender heelwat vinniger en warmer – teen 180 °C tot 200 °C vir een tot twee uur lank – deur die proses gaan.”

Bester het twee rubberwiele wat aan die kompressor was, behou en gebruik dit om die beroker rond te beweeg. Omdat feitlik alles van yster en staal is, weeg die kalant sowat 115 kg. Die berokertenk is 1,9 m lank en die struktuur is 1,3 m hoog (die uitlaatpyp is hoër). Die vuurkas is 500 mm lank, 450 mm breed en 450 mm hoog. “In die beroker het ek ’n skuifrooster aangebring waarop die vleis gepak en soos ’n laai uitgetrek kan word om die proses te vergemaklik. Op die werksvlak aan die voorkant is ’n pakrooster vir allerlei benodigdhede wat in die voorbereidingsproses gebruik word.”

'n Hittebestande, roeswerende verflaag maak die beroker duursaam.

Nog ’n opening is in die sydeur aangebring waarmee die temperatuur in die vuurkas gereguleer kan word.
Die handvatsel is aangebring om die sydeur van die vuurkas oop en toe te maak. Die handvatsel is van ’n outydse strykyster – die soort waarin ’n mens nog warm kole ingesit het vir hitte. Dit is dus ’n geskiedkundige deeltjie wat gebruik is.

Lig op hout

Bester verkies appelhout om vleis te berook. “Dit gee die vleis nie daardie effens bitter smaak wat sommige ander houtsoorte soms veroorsaak nie. Ek gebruik ook glad nie houtskool (charcoal) nie, om dieselfde rede. Die beroker is ook baie lig op hout. Ek gebruik maar sowat 10 kg appelhout om vleis tot ses uur lank te berook.”

Die vleisberoker het Bester min gekos om te bou. “Die heel duurste ding was die ingevoerde termometer, wat maar R1 400 gekos het. Al die ander materiaal saam het waarskynlik minder as R2 800 gekos. Ek het feitlik alles self gedoen. Vandag het ek waarskynlik een van die doeltreffendste klein vleisberokers wat enige vleisliefhebber kan begeer!”