Mnr. Christo Schoonwinkel, ’n dagbestuurslid van Graan SA en sameroeper van die beoordelingspaneel, sê hoewel vanjaar se 38 inskrywings in vyf afdelings minder was as in 2018, was die standaard van die planne oor die algemeen hoog.

“Wat my vanjaar opgeval het, is dat inskrywings wat maklik oor die hoof gesien sou kon word en niemand se aandag sou trek nie, die gees van ondernemerskap en ware planmakery beklemtoon,” sê hy. 

Voorbeelde hiervan is mnr. Piet Badenhorst van die plaas Almoro, tussen Ventersdorp en Derby in Noordwes, se damskoonmaker wat op die oog af net uit ’n halwe konka bestaan, en mnr. Gerrit Smith van Klerksdorp wat ’n halwe buiteband as ’n kalf-immobiliseerder inspan.

Vanjaar was die gewildste onderafdeling oudergewoonte vir aangepaste masjinerie, werktuie en landboutoerusting, met altesaam 13 deelnemers wat om die eerste prys meegeding het. 

Mnr. Jan Grobler van die plaas Unie by Vierfontein, noord van Bothaville, het met die louere vir sy meerdoelige beesspuit-brandbestryder weggestap.

Mnre. Henk Aggenbach en Dirk Uys, twee van Nampo Kaap se organiseerders, het vanjaar op Nampopark kom kers opsteek om die boerepatente-resep van 4 tot 6 September op Bredasdorp met dieselfde borge en reëls vir die Wes-Kaap te herhaal. Landbouweekblad is by Nampo én Nampo Kaap ’n mediaborg.

Prysgeld van altesaam R55 000 is aan die boereplanwenners op Nampo uitbetaal.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.