Boorgatoplossings

Van ’n boorgat kan jy die Nampo-veteraan mnr. Willie Crous nie veel vertel nie. Dié 81-jarige Klerksdorper en oudonderwyser is al die afgelope 68 jaar met boorgate doenig. Hy het sy 24ste deelname aan die landbouvertoonvenster met ’n verskeidenheid boorgathulpmiddels gevier.

Dit was onvermydelik dat die gogga sy seun, Thinus, gebyt het. Thinus het in die afdeling vir nuwe gereedskap ’n eerste plek gewen vir sy toestel om ’n dompelpomp uit ’n boorgat te herwin. Sy herwintoestel bestaan uit ’n silinderstrook met ’n groter omtrek as die dompelpomp.

boereplanne, nampo

Mnr. Willie Crous

Wanneer dit in die boorgat afsak, sal die kop van die pomp by die silinder se onderkant insteek, en vier skerpgemaakte stafies sal die pomp vasklem wanneer dit opgetrek word. Willie het met ’n oplossing vorendag gekom in die gevalle wanneer ’n dompelpomp nie herwin kan word nie en onder in die boorgat gelaat word.

Hy gebruik ’n stuk pyp wat oor die dompelpomp se plastiekpyp pas. Aan die bokant van die toestel is ’n klepvormige deksel met ’n skarnier aan die kant geheg waaraan die trekkabel geheg word. Die skyfvormige klep is skerp gemaak sodat die snyvlak ’n plastiekpyp kan afsny wanneer dit met alle mag na bo getrek word.  Navrae: Mnr. Willie Crous, sel 082 936 8780.

Worsstopper uit skroot en bruikbare onderdele

Mnr. Christi Prinsloo, voorheen van die plaas Erfpacht in die distrik Steynsrus, maak nuttige gebruiksartikels uit skroot en bruikbare onderdele, soos ’n worsstopper, blareblaser en messlyper wat hy op Nampo vertoon het.

Hier staan Christi en me. Tinkels Prinsloo by die worsstopper wat 7 kg maalvleis per slag kan verwerk en ’n treffer op die dorp se kerkbasaar is. Die buis was ’n verkoelingsgastenkie en ’n meule se oorspronklike worstuit is gebruik.

boereplanne, nampo

Die suierstang, wat die vleislading met behulp van ’n suierskyf voor uit dwing, was eens ’n voertuigstuur se ratstang. Volgens Tinkels is haar spesialiteit dermlose droëwors deur die worsmengsel op ’n plat voorwerp uit te druk en te laat droog word.

Die blareblaser in Christi se hand bestaan hoofsaaklik uit ’n ou stofsuier wat aangepas is om te blaas pleks van te suig. Vir die messlyper is die motor van ’n wasmasjien gebruik, asook die laer van ’n bakkie se waterpomp en ’n spesiale skuurband vir die slyp van metaal. Navrae: Mnr. Christi Prinsloo, sel 082 745 8750.

Roeiboot uit herwonne plastiek

Mnr. Hannes de Wet van die plaas Doornplaat, Hoopstad, is ’n hengelaar wat die plastiek van ’n beskadigde kunsmistenk herwin het vir ’n roeibootjie wat hy al op die Bloemhofdam beproef het. Sy ontwerp bestaan uit panele wat hy aan mekaar vasgesmelt het.

boereplanne, nampo

Vir waterdigting gebruik hy swart besproeiingspyp wat hy met ’n blaasvlam in die lasplekke insmelt. Sy pa, mnr. Francois de Wet, het die geel kano op Nampo uitgestal. Navrae: Mnr. Hannes de Wet, sel 082 374 7900.

Sakpas-boordspuit

Mnr. Mynhardt de Bruin is ’n sakeman en deeltydse boer van Hoopstad wat deur die hoë prys van kommersiële boordspuite afgeskrik is. Sy patent is betreklik bekostigbaar teen sowat R95 000 teenoor die intreeprys van boordspuite van sowat R250 000.

Sy spuit gebruik hy vir blaarvoeding en die toediening van mikro-elemente in sy pekanneutboord. Hy het ’n Italiaanse kragaftakkeraangedrewe pomp met ’n kapasiteit van 150 liter/minuut op ’n staalraamwerk aangebring.

boereplanne, nampo

Verstelbare spuitstukke kan na gelang van die hoogte van die bome en die toedieningsbehoefte gestel word om op of deur die blare te spuit. Volgens Mynhardt is sy spuit die oplossing vir die klein produsent wat ’n trekker van 28 kW het.

Die spuitraam word hidroulies opgelig en het 14 spuite aan elke kant. Die giftenk se inhoud van 2 000 liter is voldoende vir ’n boord van 2 ha. Navrae: Mnr. Mynhardt de Bruin, sel 082 573 8424.

Roterende braai

Mnr. Bertus Goosen van Matlakeng, Botswana, se naam is al sinoniem met Graan SA en Omnia se boerepatentkompetisie op Nampo. Hy het vanjaar die 19de keer aan die kompetisie deelgeneem, wat nou al 29 jaar aangebied word.

Sy roterende braai is enige braaier se droom: Die braaistukke kan met die draai van ’n slinger omgekeer word. Dit is geskoei op die beginsel dat die hoogte bokant die kole nie verstel word om die verlangde braaitemperatuur te verkry nie, maar wel gereelde omwentelinge van die braaigoed.

boereplanne, nampo

Hy plaas die vleis in toekniproosters, maak voorsiening vir ’n spit vir hoenders of ’n skaapboud, asook mespunte vir aartappels, uie en mielies. ’n Ketting word om fietsratte van dieselfde grootte gevleg, asook om ’n rat by die slinger. Navrae: Mnr. Bertus Goosen, tel. 00267 716 80498.

Brandsmoor vir voorbrande

Mnr. Jannie Myburgh, ’n boer van Ermelo wat al bekend is vir werktuie, soos ’n krathanteerder en slangbosroller wat hy ontwerp en vervaardig, het sy teenvoeter vir veldbrande op Nampo vertoon. Volgens hom is die maak van voorbrande ’n riskante, maar noodsaaklike praktyk.

Hy gebruik ’n brandbestande vervoerband om die vlamme te smoor. Eerstens word ’n strook veld met ’n 1,8 m-bossiekapper gesny waarna die lang gras langs die baan aan die brand gesteek word. Sodra die brand die middel van die kort gras bereik, sleep hy die vervoerband oor die vlamme.

boereplanne, nampo

Jannie is trots daarop dat die brandstof nie op ’n ongeleë tyd kan opraak nie en die aansittou breek ook nie af soos wanneer ander toerusting gebruik word nie. Hier sit hy op die stroke brandmat van 2 meter by 6 meter wat met behulp van ’n lang staaf langs die voertuig gesleep word.

Die plan is eenvoudig en doeltreffend. Volgens hom is die enigste nadeel dat die mat swaar is en dat mannekrag vir die oplaaislag nodig is. Navrae: Mnr. Jannie Myburgh, sel 082 417 0175.

Bekamp onkruid tussen besproeiingspype

Mnr. Gerrit Smith van Klerksdorp gebruik ’n tandrol-eg om klaar te speel met onkruid tussen drupbesproeingspype in ’n groentebedding. Die roltande bestaan uit stroke platyster van 16 mm x 3 mm wat op ’n naafring vasgesweis is en op ’n as in groepe van vyf ingeryg en verbind is.

boereplanne, nampo

Die tandwerking veroorsaak dat die bolaag van die grond met die onkruid omgedop word sodat die onkruidsaad kan uitdroog.

Meetstaaf vir 'n netjiese heining

Mnr. Jannie Myburgh van Ermelo het na houtpale oorgeslaan vir sy nuwe heinings sedert hy ’n toestel ontwerp het waarmee die pale sonder intensiewe handearbeid geplant word. Sy draadspanwerkers gebruik ’n meetstaaf langs die teerpale wanneer hulle die drade op bepaalde hoogtes vasheg.

boereplanne, nampo

Sodoende kan hulle vinnig werk sonder om hoogtes te meet. “Die netheid van ’n heining word aan die draadspanners oorgelaat,” sê Jannie. “As die spasiëring van die dwarsdrade presies op dieselfde hoogte is, lyk die heining sommer na ’n professionele projek.”

Kompakte werkwinkel

Soek en sukkel is iets van die verlede met die mini-werkwinkel van mnr. Gerrit Smith van Klerksdorp, nóg ’n staatmaker in die kompetisie wat gereeld met aangepaste gereedskap vorendag kom. Sy gereedskapkarretjie hou al die gereedskapstukke byderhand.

Dit bestaan uit ’n raam van hoekyster wat wigvormig na bo loop sodat die gereedskap, soos bore en hoekslypers, beter teen die skuins oppervlakke kan lê.

boereplanne, nampo

Hy het lang laaie van plaatmetaal aangebring waarin nutsgoedere, soos boorpunte en sweisstafies, gebêre kan word. Daar is ook plek vir die sweismasjien bokant die agterwiele. Gerrit het ook ’n klein aambeeld bokant die agterwiel aangebring en ’n bankskroef aan die voorkant. Navrae: Mnr. Gerrit Smith, sel 083 400 8041.