Op die wyn-en-vrugteplaas Rouxvale het mnr. Marais Brink al alles van sleepwaentjies, wipwakarre en duursame houtkaste tot rottangskinkborde en sy eie koelkamer self gebou. In die meeste gevalle gebruik hy boonop afvalmateriaal of winskopies wat hy op veilings of ander plase oppik.

“As jy bereid is om iets self te doen, kom jy agter hoeveel geld jy kan spaar,” sê Marais. “ ’n Mens kan enigiets maak – jou oë moet net oop wees.” Die Brink-familie boer sedert 1954 in Ashton, toe Marais se pa, Deon, sy eerste 50 morg landbougrond gekoop en wingerde gevestig het.

Hulle het met verloop van jare grond gekoop en met appelkose en perskes uitgebrei, maar is tans weer op veral wyn toegespits. Marais se seun, ook Deon, het in 2011 Marais se praktiese boerderybedrywighede op Rouxvale begin oorneem. Marais woeker steeds met bou- en handwerkprojekte op die plaas.

Eie blaasbalk

Mnr. Marais Brink draai die swaelbalk se slinger.
Só lyk dit in die swaelbalk. Dit word net gebruik om lug deur die pyp te stoot – daar is geen swael betrokke nie.
Die uitlaat op die ploegskottel se bodem (gewoonlik toe onder die kole).
Dié rooiwarm ysterstaaf gaan in ’n stoepbankie omskep word.

Een van Marais se nuutste projekte is ’n blaasbalk om yster mee te verhit en buigsaam te maak. “Ek het destyds een gehad, maar dit het mettertyd tot niet gegaan. Toe ek weer ’n blaasbalk nodig gehad het, kon ek nêrens een kry nie.”

Marais het toe ’n ou swaelbalk, PVC- en ysterpype en ’n ploegskottel gebruik om een te bou.

Swaelbalk. Wynboere het destyds dié stukkie toerusting gebruik om swael in poeiervorm op wingerde toe te dien. “Jy sit die swael bo in en draai die slinger,” verduidelik Marais.

“Dit word dan deur ’n pyp met ’n plat kop uitgeblaas.” By hierdie boereplan is daar egter geen swael betrokke nie – die swaelbalk blaas net lug deur die pyp sodat die kole verhit. Om ’n swaelbalk in die hande te kry, moet boere net hul oë oophou.

“Wingerdswael het half uit die mode geraak – party mense werk nog daarmee, maar hulle gebruik eerder ’n spuitprogram met benatbare swael as die poeiervorm. Jy moet egter net op plase gaan soek – daar lê nog baie swaelbalke.”

Pype. Marais het die swaelbalk se plat kop afgehaal en die pyp met PVC-pype en -elmboë verleng. Sowat 50 cm weg van die rand van die ploegskottel is die pyp van staal sodat dit nie smelt nie.

Ploegskottel. Die pyp heg uiteindelik onderaan ’n ou ploegskottel, wat op drie vasgesweisde bene staan. ’n Plaatjie is oor die opening gesweis. Daar is gaatjies bo-op en aan die kant geboor sodat die wind behoorlik deur die kole versprei. Marais gooi die hele skottel vol smidskole en steek dit met ’n stukkie vuuraansteker aan.

Binne sowat tien minute is die kole reg om yster rooiwarm te maak. Namate die kole in die middel uitbrand, krap hy hulle uit en voeg nuwe kole om die buitenste rand by. Met dié blaasbalk maak Marais onder meer self sy stomp toerusting skerp. Hy buig en bou ook tans aan ’n stoepbankie.

Lae laaibank

’n Stewige laaibank vir vurkhysers, gebou uit afvalyster en ’n vragmotor se vooras.
Die as is tot ’n skrefie bo die wiel se velling laat sak, pleks daarvan dat dit tussen die middelpunt van die twee wiele deurloop.
Die loopplank word met ’n bout vasgepen.

Marais het uit afvalyster en ’n vragmotor se vooras ’n stewige laaibank gebou waarop hy ’n vurkhyser binne ’n minuut kan laai. Die laaibank is 1,35 m breed en 4,2 m lank (loopplank uitgesluit): 2,5 m van die agterkant tot by die keervlak, plus die disselboomgedeelte van 1,7 m. Die maksimum laaivermoë is sowat 2,5 ton.

Vooras. Marais het die draaimeganisme van die vragmotor se vooras verwyder sodat die wiele net reguit loop. Hy het die soliede as (70 mm x 70 mm) tot so na as moontlik aan die grond laat sak. Pleks daarvan dat dit tussen die middelpunte van die twee wiele loop, is dit net ’n skrefie bo die wiel se velling.

Hierdie regaf stuk is ook uit ’n soliede as (70 mm x 70 mm) gemaak en is aan ’n kanaalyster-versterking vasgesweis. Die horisontale as loop onder deur die bakwerk, net sowat 30 cm bo die grond. Dit vergemaklik die laai van die swaar vurkhyser.

Loopplank. Die twee loopplanke is los van die bakwerk en word met ’n bout vasgesteek as dit wél gebruik word. Elkeen is gemaak uit drie U-vormige kanaalysters (100 mm x 30 mm) wat aan mekaar gesweis is.

Bakwerk. Die bakwerk van die laaibank is uit U-vormige kanaalysters (100 mm x 30 mm) gemaak. ’n Dun reling loop al langs die rand.

Disselboom. Die disselboom moet “bitter sterk” wees om die gewig van ’n vurkhyser te dra. Marais beskou U-vormige kanaalyster (50 mm x 100 mm) as die minimum vereiste. Die laaibank is uit afvalyster gemaak en die grootste uitgawe was die sweisstawe en slyplemme (grinder blades).

Ander projekte

Gelykmaker. Marais het ’n gelykmaker (leveler) vir paaie en lande vir minder as R5 000 gebou. Die wiele was die grootste uitgawe, en hy het verder net afvalyster en ’n pad- skraperlem daarvoor gebruik. Die werktuig is 3,2 m lank en 2,4 m op sy breedste punt (die padskraperlem).

ie gelykmaker se wiele het die meeste gekos.
Die padskraperlem word met twee stutte versterk.

Die breedte van die wielgedeelte is 1,6 m. Die wiele is klein, want die las daarop is minimaal. Dit is omdat die skraper die meeste van die gewig dra. Die skraper bestaan uit twee hoekysters (80 mm x 120 mm) bo-op ’n soliede padskraperlem. Benewens die stutte, wat van soliede ronde yster gemaak is, is die werktuig van hoekyster (10 mm x 70 mm) gemaak.

Die disselboom moet veral sterk wees. Stoele. Toe sy kleinkinders se skool ’n nuwe bus gekoop en die motorhuis skoongemaak het vir staanplek, het Marais ’n stel erg gehawende skoolstoele gekoop. Hy het die stukkende sitplekke en ruglenings afgehaal en nuwes gemaak.

Om die ruglening se ronding te kry, het hy een stuk hout om ’n 2 000 l-dieseltenk gedraai, vasgetrek en met lym gesmeer. Toe draai hy ’n tweede stuk hout om die tenk. Toe hy dit later losmaak en in stukke saag, het dit die regte geleidelike ronding gehad.

Marais het ’n stukkende tenk met glasvesel laat oortrek en dié netjiese onkruiddoderpomp self gemaak.

Onkruiddoderpomp. ’n Onkruiddoderpomp kan jou tot R50 000 kos. Marais het dié stukkende tenk vir R2 000 gekoop en vir R3 500 met glasvesel laat oortrek. Hy het die onderstel uit afvalyster gemaak en die pomp apart gekoop en opgesit.

Laaste dae van Ashton se drive-in

As jy in die 1960’s en vroeë 1970’s op ’n Saterdagaand niks gehad het om te doen nie, is jy na Ashton se drive-in toe om John Wayne, Debbie Reynolds en Doris Day te sien, sê mnr. Marais Brink.

“Daar was plek vir sowat 200 karre. Jy kon nie bespreek nie, so as daar iets besonders speel, het jy ’n piekniekmandjie gepak en al halfvyf gery om daar te wag.”

Toe Suid-Afrika egter televisie kry, het die inryteaters een-een toegemaak — ook Ashton s’n. Marais het ’n geleentheid gesien en die inryteater se drie aandeelhouers ’n kis brandewyn elk aangebied in ruil vir die skerm, ’n reusestaalstruktuur wat maklik 12 m hoog was.

“Hulle sê toe nee, dankie – hulle wil eerder elkeen R100 hê.

“Ons hou toe by die drive-in stil — 18 bymekaar en elkeen met ’n spanner. Almal klouter daar op; dis net te lekker. Maar teen die derde dwarsbalk steek die helfte vas, kyk terug en begin stadig afklim. Op die ou end het net drie mans tot bo gekom en die hele ding losgedraai: 120 sinkplate van 12 voet elk, en dwarsysters van ses by twee duim, die lieflikste goed.”

Vier reusestutpale het oorgebly, en dié kon danksy ’n gelukskoot weggelaai word. ’n Kelder waar een van Marais se vriende ’n rekenmeester was, het ’n hyskraan uit die Kaap laat kom om tenke te help installeer, maar dié hyskraan het ’n dag te vroeg opgedaag en R200 ’n uur gekos soos hy daar staan.

Marais het die koste vir twee uur gedra en die hyskraan kon die stutpale veilig op ’n lang Mercedes-lorrie laai. Van die Ashton-inry se staalpale is vandag nog op Marais se erf te sien.

Hy het onder meer ’n stewige staalskuur daarmee gebou.


Vleg só met rottang

Mnr. Marais Brink het in die Laerskool Goudmyn, ’n plaasskooltjie by Ashton, die kuns van rottangvleg geleer. Só vleg ’n mens ’n wynkan toe: Sit die rottangstroke in water om hulle klam, sag en buigsaam te maak. Tien minute is genoeg; oornag is beter.

Knip die vertikale rottangstroke op die regte lengte af en steek hulle onder vas. Hulle staan aanvanklik skeef, maar word reguit namate ’n mens vleg.

As jy met een horisontale rottangstrokie vleg, moet daar ’n ongelyke aantal vertikale rottangstroke wees. As jy met drie vleg — wat netjieser en stewiger is, sê Marais — maak dit nie saak hoeveel vertikale rottangstroke daar is nie.

Hoe nader die vertikale stroke aan mekaar is, hoe netjieser is die eindproduk. Begin met die agterste rottangstrook en slaan twee oor — en herhaal tot die rottangstroke opraak en jy ’n volgende stel van drie stroke gebruik. Deur dunner stroke te gebruik namate jy boontoe werk, het jy op die ou end ’n netjiese eindproduk. Steek die vertikale rottangstroke onder mekaar vas.

Navrae: Mnr. Marais Brink, sel 072 278 6920.