Alle inligting oor elke dier verskyn dadelik op skerms sonder dat dit ingelees hoef te word — koordloos en akkuraat — en dit kos R965 per jaar. 

Namibië het streng vereistes vir die identifikasie van beeste. Ter wille van naspeurbaarheid moet beesboere twee oorplaatjies aan elke bees se oor sit; een met visuele inligting aan die dier se regteroor en die ander met ingeboude toerusting vir radiofrekwensie-identifikasie aan die linkeroor (foto 1).

Die byhou van aantekeninge kan egter ’n beslommernis wees as ’n boer met baie vee werk. Dit geld mnr. Mecki Schneider wat met ’n Brahman- en Simmentaler-stoetery, asook ’n kommersiële beeskudde by Grootfontein in Namibië boer.

Die vaartbelynde bestuurstelsel skakel ’n groot klomp papierwerk uit. Voorheen moes Mecki en Brigitte, sy vrou, lyste met data oortik. Buiten dat alles op hul eie stelsel gebêre word, word die data ook in ’n rugsteunstelsel bewaar.

Dus het hy elektroniese toerusting gekoop en saam met Reimo, sy seun, en mnr. Alex de Koning, sy plaasbestuurder, ’n stelsel ontwikkel wat baie moeite uit die byhou van aantekeninge haal. Dit is veral danksy die jongste stuk elektronika wat die volledige stel data van elke bees blitsig lees en op ’n skootrekenaar bêre.

Die span werk só. Mecki skryf die identifikasiedata van ’n bees met ’n onuitwisbare inkpen op die visuele oorplaatjie. Dít bestaan uit die jaartal toe die dier gebore is, saam met die dier se volgnommer, asook ’n letter vir die pa en die ma se identifikasienommer.

Dan kan hy met een oogopslag sien watter kalf dit is en wie sy ma en pa is. Die elektroniese oorplaatjie het ’n transpondeerder waarop elektroniese identifikasiebesonderhede aangebring is.

Dit vorm deel van die amptelike Namibiese naspeurbaarheidstelsel. Omdat dit nie ’n battery het nie, word ’n radiofrekwensiesein van die elektroniese leestoestel (skandeerder) af gestuur en die oorplaatjie stuur die unieke identifikasie van die dier terug (foto 2).

Foto 2.

Die leestoestel stuur die identifikasie van die spesifieke dier dan via bluetooth dadelik oor etlike meter na die skootrekenaar langs die drukgang. Alle gegewens en data van die spesifieke dier verskyn dadelik op die skerm met behulp van die Herdmaster-rekenaarprogram van Agri-BSA (’n internasionale Breedplan-produk) wat spesiaal ontwikkel is as kuddebestuursprogram vir veeboerdery.

Radiofrekwensie-identifikasie is veral belangrik by saamtrekke waar baie beeste is, soos veeveilings. Aantekeninge kan daar met die aankoms en vertrek van diere elektronies gekontroleer word. Dit verg min moeite en maak die hele proses akkuraat en vaartbelyn.

Werk langs drukgang

Voorheen was al moderne apparaat op die plaas ’n skaal aan die eindpunt van die drukgang waarmee die beeste geweeg is. Dan moes Mecki die gewiglesing op die skaal met die hand op sy dierelyste aanbring. Terug by die kantoor is dit dan op die kantoorrekenaar ingetik.

“Op die ou end het dit egter stapels lyste van kontemporêre groepe beeste behels wat ek en my vrou, Brigitte, op die rekenaar moes intik. Dit het baie tyd geverg en frustrasies veroorsaak,” sê hy.

Met die koms van elektroniese skale, radiofrekwensie-identifikasie-oorplaatjies, elektroniese skandeerders en kuddebestuursprogramme (soos HerdMaster) op skootrekenaars kon Mecki die stelsel moderniseer.

Hy het ’n elektroniese skaal (met twee weegselle onderaan die skaalraam wat met kabels aan die elektroniese skaal gekoppel is) en ’n skandeerder aangeskaf. Die skaal en skandeerder is albei via bluetooth-tegnologie aan ’n skootrekenaar gekoppel, met die gevolg dat die gewig van die spesifieke diere outomaties na die rekenaar gestuur word.

Benewens gewigte kan alle inligting ten opsigte van aspekte, soos eienskappe, inentings en behandelings, ook onmiddellik na die kuddebestuursprogram oorgedra word.

Met dié mobiele meettoestel langs ’n drukgang (Crush Side Recording) word alle vee by verskillende veeposte of plase geweeg en punte word aan hulle toegeken. Dit geskied meestal ook onmiddellik in kontemporêre groepe sodat die data in die kuddebestuursprogram gebêre kan word (foto 3).

Foto 3.

As ’n internetverbinding beskikbaar is, kan die nuwe data dadelik na ’n diensverskaffer gestuur word, vanwaar dit dan met alle ander rekenaars en tablette in die boerdery gesinchroniseer kan word.

Andersins kan die data ook van die drukgang af regstreeks na die telersvereniging se databasis gestuur word om dit onder meer verder te verwerk vir teelwaardes. By afgeleë weegpunte sonder internetverbinding word die data op die skootrekenaar dan eers later deur die diensverskaffer met die ander rekenaartoestelle op die plaas (asook die hoofrekenaar) gesinchroniseer.

Alle nuwe data en gegewens is dus te alle tye vir Mecki en Brigitte op alle rekenaar- toestelle vir die plaasbestuur beskikbaar.

Dalk splinternuut

Die Schneiders het ook met me. Jeanine Labuschagne Izaan du Plooy van HerdMaster by Agri-BSA saamgewerk om die data-aantekeningstelsel in werking te stel. Die netwerk-weergawe, wat toelaat dat ’n paar plase (verwerkingspunte) met een databasis gekoppel kan word, is dalk die eerste in sy soort in Suider-Afrika.

Die eerste keer as Mecki ’n bees se elektroniese oorplaatjie skandeer, vra die rekenaar hom om die dier se identifikasie binne die kudde in te tik. As dieselfde bees later weer geskandeer word, verskyn die regte bees se inligting op die rekenaar se skerm, soos ’n kalf se geboortedatum, wanneer hy ingeënt is, al die weegdata oor jare heen, gewigstoenames, in watter kamp hy is en wie sy pa en ma is.

‘Dis ’n baie nuttige bestuurshulpmiddel as ’n mens langs die drukgang staan. Jy hoef nie tussen papiere rond te krap nie. Jy het dadelik alles op die rekenaarskerm voor jou.’

Dié stelsel, wat die boerdery sowat R965 per jaar aan bestuurstariewe kos (vir ’n netwerk-weergawe), bewaar die inligting ook op die diensverskaffer se rugsteunstelsel vir veilige bewaring. In Mecki se geval kos dit R1 930 per jaar vir twee lisensies. Die netwerkweergawe behels 'n eenmalige fooi van R11 395 om vanaf 'n bestaande stelsel op te gradeer. Die bestaande stoet- en wildweergawe kos eenmalig R6 330 en die kleinveeweergawe kos R5 300, met 'n jaarlike ondersteuningsfooi van onderskeidelik R1 325 en R965.

Dit is belangrik dat die stelsel “mobiel” is sodat Mecki moeitevry van plaas tot plaas kan ry om data in te samel. Mecki en sy swaer en vennoot, mnr. Ebbi Fischer, gebruik ’n soortgelyke stelsel by hul GenTecSol-voertoetsstasie op Ebbi se plaas by Hochfeld, waar bulle vir voerdoeltreffendheid geëvalueer word.

Die enigste verskil is dat skandeerders by die voerbakke geïnstalleer is wat die bul se elektroniese oorplaatjies lees as die bees sy kop in die voerbak steek. Die hoeveelheid voer in die bak word terselfdertyd geweeg om netto voerinname te meet.

Regte toerusting

Die regte toerusting is noodsaaklik vir so ’n moderne stelsel. Dit sluit in:

  • Gallagher se elektroniese skaal met weegselle wat vinnig en doeltreffend is.
  • ’n Gallagher-skandeerder.
  • Radiofrekwensie-identifika- sie-oorplaatjies. Die beeste loop deur die jaar op natuurlike veld en dra die oorplaatjies vir jare.
  • ’n Skootrekenaar wat geskik is vir buitenshuise werk en vinnige data-aantekening.
  • ’n Tablet wat Mecki hoofsaaklik gebruik om punte vir sekere eienskappe van elke dier toe te ken as hy met diere by ’n buitepos werk, soos uier, spene, naelvel, temperament, siektes en beserings, of ander inligting moet aanteken, soos die datum van kalftyd en kalwers se gewig.
  • Herdmaster-sagteware vir kuddebestuur en om onverwerkte data na die telersgenootskap se databasis vir verdere verwerking oor te dra.
  • Die data-sinchronisasiegerief saam met ’n rugsteunstelsel en internetverbinding.

Data word ontleed

Die boerdery is ook saam met verskeie lede van die Suider-Afrikaanse Brahmantelersgenootskap baie betrokke by die vleisbeesgenomikaprojek van die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF). Daarom moet Mecki gereeld data van sy beeste instuur vir ontleding. Dus moet die data en kon- temporêre groepe korrek wees, wat ’n bestuursproses vir gehaltebeheer verg.

Die boerdery se nuwe stelsel maak dié proses nou baie akkurater en makliker om toe te pas. Die Schneiders stuur hul data na die Namibiese Brahman- telersgenootskap se databasis by die Namibiese Stoettelers- vereniging in Windhoek, waar dit dan vir verwerking deur Breedplan beskikbaar is.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.