"Ag, daar is meer as tien van my planne in Suider-Afrika en seker derduisende modelle verkoop. Ek mik daarna om die John Deere van Afrika vir die kleinboer te wees.”
Selfs in sy vakansies ontwerp mnr. Michris Janse van Rensburg van die plaas Mooiuitsig, Bultfontein, nuwe patente of pas hy ou modelle aan. Die afgelope feestyd by Amanzimtoti het hy juis ’n nuwe toepassing van ’n gifspuit uitgedink waaroor hy baie opgewonde is. Hy meen dat sy toestel ’n “verskil vir boere kan beteken”.
Hy is bekend vir ’n uiteenlopende reeks spuittoestelle. Die nuwe spuit mik fyn sonder om gif te mors of nie-teikenplante te benadeel danksy ’n pomptoestelletjie wat in huishoudelike houers gebruik word om onder meer sjampoe of handeroom aan te wend. Buiten die toediening van gif, onder meer om indringerbos te bestry, word dit ook gebruik vir blaarvoeding en vloeibare kunsmis. “Aanvanklik het ek dit ontwikkel om insekte en swamsiektes op gewasse, soos kool en pampoene, te bestry. In ’n vroeë groeistadium word baie gif vermors deur gewone rugsakspuite of trekkermodelle te gebruik.”
Met die kolspuit is dit nie die geval nie. Die gekonsentreerde spuitkol is nou baie doeltreffender om onder meer wurmbesmetting in die kelk van koolplantjies te voorkom. “Een produsent wat die kolspuit beproef het, het byvoorbeeld 4 ha pampoene per dag teen roes bespuit.”
In die geval van indringerbosse kan korrelgif doeltreffend met Janse van Rensburg se toedieners gebruik word. Daar was egter ’n behoefte onder boere om ’n gifspuit vir dié doel te bekom. “Ek weet nie van nog só ’n toediener vir die beskikbare vloeibare middels nie.”
Sommige produsente gebruik duur veedoseerspuite waarvan die vervangende O-ringe ook duur is. Die doseerspuite slaag ook nie daarin dat die gif die moederstam bereik nie. Ná talle probeerslae en slapelose nagte kan Janse van Rensburg se kolspuit nou telkens 5 ml gif by die plant se moederstam plaas. Deur die spuit se pompie te vervang, kan die toediening vanaf net 2 ml beloop.
Só werk die spuit
Die operateur hou die spuit aan ’n handvatsel vas en elke keer as hy met die ander hand ’n kabel trek, word 5 ml vloeistof vrygestel. Die kabel is aan die spuitkop gekoppel wat die vloeistof in die pompie deur die sproeipunt vrylaat. Die spuitkan op die rug bevat 5 liter vloeistof, en met toedienings van 5 ml elk, word dit ná elke 1 000 trekslae hervul. “Die kolspuit se presiese toedienings beteken in baie gevalle ’n besparing van tot 90% van die gifverbruik van ’n trekkerspuit.”
Volgens hom besorg onkruid veral die groenteprodusente hoofbrekens. “Die enigste oplossing is arbeidsintensiewe skoffel wat telkens die grond rondom die plantjie versteur. Dit beteken dat nóg onkruidsaad in die proses ontkiem, of dat plantjies meganies beskadig word.”
Sy teenvoeter hiervoor is ’n metaalskerm van 33 cm x 33 cm wat keer dat gifsproei die naburige groenteplantjies benadeel. Nege toedienings met die skermkolspuit beslaan sowat 1 m².
Volgens Janse van Rensburg se berekenings is 90 000 toedienings per hektaar nodig, maar op die tradisionele manier van bestryding, sowat 400 000 kappe met ’n skoffelpik. Vir elke toediening met die kolspuit is tot ses kappe met die skoffelpik nodig. Die kolspuit sonder die gifhuls kos R1 100 en die kolspuit met die verwyderbare gifskerm R1 700 elk.
Voerplanter
Met ’n onlangse besoek aan Namibië het hy beleef hoe duisende hektaar veld met vliegtuie bespuit word omdat boere indringerbosse wil bestry. Daarná kan trekkers egter nie tussen die dooie bome inkom om grassaad te saai nie. Dit het Janse van Rensburg laat besluit om sy voerplanter aan te pas as grassaadplanter. Sy buksie-saadplanter is basies die helfte van dié Afrika-werkesel, ’n tefplanter gemik op die Ethiopiese mark. “Die ligte werktuig is maklik beweegbaar op sy een wiel en kan die grassaad tussen die bosse hervestig.”
Die uitmeetmeganisme is vir sowat honderd saadjies per meter gekalibreer, “genoeg saad sonder om dit te vermors”. Die saad word voor die ysterwiel met sy hoekyster-uitstulpings geplaas en vasgetrap. Die saadhouer bevat genoeg saad sodat die operateur sowat 3 km kan stap voor dit hervul moet word. In teenstelling met dié boere se tradisionele praktyke is die jongste neiging ook om gewasse in rye te plant en kunsmis saam met die saad te saai. Die grassaadplanter kos elk R3 000 en die groter stootplanter vir tef- en sesamsaad R6 000 elk.
Kunsmistoediener
Janse van Rensburg se enkelrykunsmistoediener is oor die jare verfyn en ’n stewiger wiel is aangebring. Dit word veral gebruik om bykomende bobemesting toe te dien as trekkers nie in nat toestande gebruik kan word nie. Bykomende kunsmis kan doeltreffend voor die mielie se pluimstadium ná goeie neerslae toegedien word.
Ná ’n boer van KwaZulu-Natal op dié manier ’n bykomende 2 ton/ha mielies geoes het, het dit Janse van Rensburg aangespoor om sy toediener se vermoë te verdubbel. Die enkelrytoediener kan 2 hektaar per dag bemes. “Dit is sweerlik die stuk toerusting waarvan die koste deur die produsent die gouste verhaal kan word.”
Die twee kunsmisbakke op die dubbelrymodel kan elk 10 kg kunsmis hou en in mielierye met ’n spasiëring van 91 cm kan sowat 2 hektaar per dag herbemes word. Die enkelry-toediener kos R1 800 elk en sy groter model R4 000.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET
LANDBOUWEEKBLAD EN NETWERK24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier