Droogtes het die vorige dekades ál gereelder in Suider-Afrika toegeslaan. As die reën wegbly, raak die veldweiding minder en word mettertyd heeltemal uitgeput. Dan moet die boere ten duurste voer koop.

Al is daar later nie meer gras oor nie, is daar egter altyd struike en bosse wat in ruvoer omskep kan word. Sodoende het boskos in dié langdurige droogte menige Namibiese boer van ondergang gered. Dit behels die fynmaal van indringerbosse se takke waarby noodsaaklike bestanddele gevoeg word om ’n droogte-, oorlewings- of onderhoudsrantsoen te vorm.

Mnr. Piet Gouws, voorsitter van die Namibiese Landbou-unie (NLU) en voorheen voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO), reken die benutting van indringerbosse as ’n alternatiewe voerbron moet ’n permanente deel van veeboere se voervloeiprogram word. Die waarde wat hy uit sy Bos-tot-Kos-werktuig kry, is volgens Gouws gelykstaande aan nóg ’n plaas om meer weiding te hê.

Groot dele van Namibië is deur indringerbosse ingeneem. Nou besef hy en baie ander boere dié bosse wat voorheen as ’n las beskou is, het vir hulle ’n belangrike bate geword. Dis nie te sê indringerbosse moenie uitgeroei word nie, want dit lê beslis die grasweiding se groei aan bande.

Boskos kos hom gemiddeld sowat R1,15/kg vir ’n rantsoen wat uit 80% gemaalde bosse en 20% bygevoegde bestanddele bestaan. Die prys wissel na gelang van die prys van brandstof, bestanddele wat hy koop, en die hoeveelheid voer wat gemaak word. Die werktuig gebruik sowat 2 liter brandstof per uur en vervaardig ongeveer 400 kg voer in dié tyd.

Gouws betaal die werkers meer geld hoe meer mengsels hulle op ’n dag maak, om produktiwiteit te verhoog: R45 vir die eerste drie mengsels van 400 kg elk, R55 vir die vierde mengsel en R65 vir die vyfde en sesde mengsels. Die getal mengsels wissel omdat tussen vier en ses werkers gebruik word.

Brande en droogte

Gouws en sy seun Pieter boer saam met kommersiële Simbrabeeste en Van Rooyskape, asook ’n Brahmanstoetery, Etobra. Die plase Nimmerrus en Uitkoms is 80 km noordwes van Outjo. Gouws het die grond in 1990 gekoop nadat hy eers vir die Bonadei-familie geboer het wat plase in verskeie dele van Namibië besit het. Hy het driehonderd “maer, wilde koeie met kalwers” gekoop en ook met Van Rooyskape begin geboer.

In 1991 het twee derdes van Nimmerrus afgebrand en hy moes van die beeste verkoop omdat daar nie genoeg weiding was nie. Dit is deur drie droë jare gevolg. Toe dit weer reën, het kommandowurms alles opgevreet wat groen was. Gouws moes weiding huur. Na ’n jaar het hy in 1996 teruggetrek Nimmerrus toe. Voorspoediger jare het gevolg. Buiten 2007 het dit van 2000 tot 2012 uitsonderlik goed gereën en die veegetalle het toegeneem.

Boskos se begin

In September 2012 het die spaarkampe op Uitkoms weer afgebrand. Dit het ’n nuwe hoofstuk in die Gouwse se manier van boer ingelui, naamlik die benutting van alternatiewe bronne van ruvoer wat tot in daardie stadium as ’n las beskou is, naamlik indringerbosse, veral !Ngabbabos (Catophractes alexandri), ’n natuurlike weidingstruik, en mopanie.

’n !Gabbabos word deur mnr. Lazarus Haoeb afgesny sodat dit tot boskos verwerk kan word. Daarmee voer Gouws sy vee al vir die laaste sewe jaar.
Hierdie mopanietak het sommer nog heelwat vog ondanks die lang droogte en kan uitstekend tot goeie ruvoer omgeskakel word.

Die huidige droogte het in 2013 begin en hulle beleef nou hul sewende jaar van ondergemiddelde reënval. Die gemiddelde reënval word as 370 mm aangedui, maar die afgelope sewe jaar het daar gemiddeld net 115 mm geval. Dit was ook wisselvallig; in 2013 87 mm, in 2016 198 mm wat swak verspreid was en verlede somer 61 mm.

“Op ’n boeredag het ek van die benutting van bosse geleer. Ek het gedink aan die moontlikheid om die bosse met ’n werktuig in die veld te oes en fyn te maal, eerder as om dit na die plaaswerf aan te ry, daar te maal en weer terug na die veeposte te neem,” vertel Gouws.

Kort daarna het hy in Landbouweekblad ’n artikel gelees oor mnr. Piet Simpson van Dwaalboom in Suid-Afrika wat ’n werktuig gebou het wat dit doen, die Bos-tot-Kos-masjien. Gouws en sy vrou, Mariana, het op Dwaalboom na die masjien gaan kyk en een gekoop.

Gebalanseerde rantsoen

Gemaalde bosse bevat nie alle noodsaaklike voedingstowwe nie en Gouws het met die Namibiese veevoermaatskappy Feedmaster saamgewerk om ’n gebalanseerde rantsoen uit te werk. !Ngabbabos bevat ongeveer 6% proteïen en 7 mJ energie, maar dit wissel deur die jaar.

Mopanie se proteïeninhoud is onbekend. Aanvanklik was die verhouding 60% boskos en 40% ander bestanddele, maar in ’n langdurige droogte is geld skraps en die verhouding is na 70:30 en uiteindelik na 80:20 verander.

Nadat die !Ngabba-takke afgesny is, kom daar in die somer weer sagte, jong lote uit wat deur die vee en wild gevreet word. Die meeste bosse word met ’n Bosvreter afgesny. Daar is ook ’n Simpson-werktuig op wiele met ’n petrolenjin en saaglem wat onder die bosse ingestoot word om dit af te sny. Hulle gebruik ook petrolsae en kapmesse.

’n Mobiele kragopwekker dryf die boskosmasjien se elektriese motors aan. Die afgesnyde takke word by die invoergeut ingedruk, deur ’n kerwer in kleiner stukkie gekerf en dan deur ’n hamermeul fyngemaal. Die vesels moet sowat 8-12 mm lank wees. Dit word dan in die masjien se mengertenk (inhoudsmaat 400 kg) met melasse, mieliesemels en ureum gemeng.

Die menger wat sorg dat die ruvoer en bygevoegde bestanddele van die rantsoen deeglik vermeng word.
Só lyk die rantsoen nadat dit deur al die pro- sesse gegaan het.

Uitgewerkte rantsoen

’n Mengsel van 400 kg bevat 10 kg ureum (2,5% van die totale rantsoen), 80 kg mieliesemels (20%) en 50 liter melassestroop (12,5%) wat tot 100 liter verdun word om die rantsoen te bind en energie te verskaf. Hulle voeg nie ’n tannien-inhibeerder by nie en het ondanks die aanvegbaarheid van dié beleid nog nooit verliese weens tannienvergiftiging gely nie.

Gouws sê dit lyk of !Ngabbabos min tannien bevat, veral die jong lote. Die bestanddele wat by die bosruvoer gevoeg word, word vooraf in emmers of sakke afgemeet sodat die regte hoeveelhede by die ruvoer gevoeg kan word.

Hulle maak 2,8 ton boskos per dag en die masjien staan vir twee dae op een plek voordat dit na die volgende deel van ’n kamp verskuif word. Nadat ’n mengsel gereed is, word dit in sakke getap. Die beeste in die krale kry elke dag boskos, terwyl die veldbeeste ses dae per week boskos ontvang. Wild vreet saam met die veldbeeste boskos. Die skape kry soggens boskos en gaan dan vir die dag veld toe om blare op die grond onder die bosse te soek en aan dun takkies te peusel.

Toe die bosse verlede somer nog effens groener was, het ’n produserende koei 3 kg boskos per dag gekry, maar nou 5-6 kg omdat die bosse droër is. Die skape kry bietjie minder as 1 kg boskos per dag en hul rantsoen bevat nie ureum nie, omdat hulle maklik ureumvergiftiging opdoen. Een boer het 156 skape binne ’n uur aan ureumvergifting laat vrek, nadat hy die ureum in sy rantsoen van 2% tot 4% verhoog het.

Behou veegetalle

Danksy dié oorlewingsrantsoen het Gouws se koeie en ooie die afgelope vyf jaar nooit opgehou kalf en lam nie. Daar was soms ligte reënbuie, maar nooit in die veld se groeitye nie en ook nie genoeg nie. Die bietjie grondvog het getaan totdat die grond nou baie droog is. Hy kon die rantsoen se verhouding later weer na 70:30 aanpas danksy ’n skenking van 36 ton mieliesifsels deur ’n barmhartige Samaritaan van Suid-Afrika.

Gouws is uit sommige oorde oor die “uitroei van bosse” gekritiseer, maar sy antwoord was dat die beeste daardie bosse in elk geval sou benut. Hy maak dit nou net vir hulle makliker en die koeie hoef nie onnodige energie te gebruik om kos te gaan soek nie.

Hulle kry dit nou in krippe by die veeposte. Hy vertel die benutting van boskos het hom in staat gestel om sy normale veegetalle te behou. Hy het nog nie nodig gehad om noodbemarking te doen nie en is dus nie aan die laer veepryse onderwerp wat menige veeboer getref het toe baie teeldiere geslag moes word nie.

Of dit gaan reën of nie sal leer of hy later vee moet verkoop. Produksiekoste het die afgelope jare kwaai toegeneem. Veeboere het eers mieliesemels vanaf Zambië ingevoer, maar dié kraantjie is deur daardie land se regering toegedraai omdat hulle ook droogte het. Gouws en ander boere moet dit nou in Suid-Afrika koop, wat weens die groot afstand wat dit vervoer word, twee keer duurder is.

Verander bemarking

Hy het wel sy bemarkingstruktuur verander deur nie meer die koeikudde met sy aanwas te vergroot nie. Hy is nou ’n speenkalfprodusent en maak nie meer osse groot nie, omdat hulle so lank op die veld moet bly. Tot ’n ruk gelede was die speenkalfprys redelik goed en het ’n goeie inkomste gebied.

Dit het intussen egter gedaal nadat bek-en-klouseer in Suid-Afrika uitbreek het, wat veroorsaak het dat Suid-Afrika nie langer vleis kon uitvoer nie, wat die speenkalfprys in Namibië laat daal het.

Boonop het Gouws nou te veel koeie, waarvoor daar nie ’n goeie mark is nie. Gouws sê boskos hou die koeie in produksie, al is hulle nie in ’n optimale kondisie nie. Nogtans het die kalfsyfer nie noemenswaardig gedaal nie en is tans 82%. Omdat die droogte al so lank duur, volg hy nie ’n dekseisoen nie, maar hou die bulle regdeur die jaar by die koeie. Die skape behou ook hul kondisie en gaan voort met aanteling. “Dis asof hulle makliker by die boskos aanpas.”

Plaasproef

Die Gouwsfamilie het ’n plaasproef saam met Feedmaster gedoen. Dit het getoon of beeste 60% of 80% bosruvoer in hul rantsoen het, maak nie ’n noemenswaardige verskil aan hul gewigstoename nie.

Feedmaster verwerk nog die syfers, maar Gouws se syfers toon die verskil in groei beloop slegs enkele gram per dag. Hulle het twee groepe van twintig tollies en verse in die proef gebruik. Aan die begin van die proef was die twee groepe se gewig gemiddeld 184,5 kg per dier. Albei groepe het ad lib boskos gekry; die een groep teen 60% bosruvoer in die rantsoen en die ander groep teen 80%.

Hier gee mnr. Piet Gouws sy beeste boskos in krippe. Dit word van die dunnerige takke van indringerbosse gemaak deur dit fyn te maal en met noodsaaklike bestanddele te meng.
Simbra-tipe beeste wat al vir jare boskos ontvang. Hul kondisie is glad nie te versmaai nie, as die uiters droë toestande in aanmerking geneem word.
Dié bol beesmis wys die voeding is reg. Dis boonop vogtig.

Die teikeninname was 3% van die liggaamsgewig per dag. Elke oggend is die voer wat in die voerbak oor was, geweeg en afgetrek van die hoeveelheid voer wat uitgeplaas is, om die werklike inname te bepaal. Hulle is weekliks geweeg, waarna die hoeveelheid voer verhoog is om met die groeitempo tred te hou. Ná drie maande het albei groepe steeds ewe veel geweeg.

“Die inname van die rantsoen met 60% bosruvoer was hoër omdat dit smaakliker is, maar die groei was soortgelyk aan die groep wat die rantsoen met 80% bosruvoer ontvang het.” Gouws beklemtoon dié resultaat is op jong, groeiende diere van toepassing en nie op produserende koeie nie. Volgens sy syfers het albei groepe gemiddeld 551 gram per dag gegroei. Hy sê beeste kan dus permanent op kraal gehou word met ’n 80%-rantsoen én deurgaans groei.

Die pad vorentoe

Gouws sê ná reën kan ’n boer aangaan met die voer van boskos om die plaas se weiding kans te gee om te herstel. “Vorentoe kan dit deel van die bestuurs- en weidingsprotokol word. Dan kan jy die veld in die somer bewei en in die winter boskos benut. Dit is wenslik om regdeur die aktiewe groeistadiums boskos te maak.”

Só ’n beleid sal nie net die druk op die weiding verminder nie, maar kan ook tot swaarder speenkalwers, koeie in ’n goeie kondisie en ’n hoër dragtigheidsyfer lei. Dit geld ook kleinvee. Met boskos kan ’n osboer sy osse reeds op 18 maande laat slag en hoef nie tot 24-30 maande op die veld te wag nie. Dit sal die produksiekoste verlaag en die wins verhoog – die regte medisyne in ’n droë land.

Mnr. Piet Gouws (foto verskaf)

LBW vra . . . Mnr. Piet Gouws

Watter tegnologie is onmisbaar? ’n Selfoon (wanneer ons sein het).

Wat is die beste raad wat jy al gekry het? Moet nooit ’n besluit in ’n emosionele toestand of uit vrees neem nie.

Wat is die grootste boerderyfout wat jy gemaak het? Om nie betyds nóg grond te koop nie en nie deurgaans in harmonie met die natuur te boer nie.

Wie was jou mentor? Verskeie mense het op verskillende stadiums van my lewe belangrike insette gemaak. Ek probeer altyd om by almal iets te leer.

Wat is jou grootste kwessies in die boerdery? Tans om die droogte te oorwin, maar op lang termyn is dit om die familieboerdery doeltreffend en suksesvol uit te bou; dus om die volle potensiaal van die familie, arbeidsmag, natuur en hulpbronne te ontsluit.