Die byegogga het dr. Arend de Waal beetgekry nadat hy as mediese patoloog aan die Universiteit van die Vrystaat afgetree het. As dosent is sy tyd meestal deur teorie opgeneem en daarom was sy grootste wens om ’n praktiese toestel te ontwerp waarvan jy kan sê: Dit wérk.

Een van sy toestelle wat sy man kan staan, is ’n aangepaste stofsuier met ’n versamelbuis waarmee hy bye kan verwyder en hervestig. Hy noem dit die Imkerstelsel – na aanleiding van die Nederlandse woord “imker”, wat byeboer beteken.

Sy Nederlandse kennisse verwys selfs na hom as dr. Imker danksy sy intense belangstelling in dié insekte!

Sy plan bestaan uit drie dele: ’n stofsuier, ’n versamelbuis met ’n slurp en ’n byekas.

Die stofsuier

Arend gebruik ’n ou vaatjie-stofsuier. ’n Klep teen die stofsuier se suig-inlaat (onderaan die foto hierbo) help om die suigkrag in die pyp te verminder om byvrektes te voorkom. Die bye beweeg nie deur die stofsuier nie, maar word in ’n pasgemaakte buis aan die voorpunt van die suigpyp versamel (in die man se regterhand). Om te verseker die bye beland net in die buis, is ’n membraan aan die agterkant daarvan aangebring.

.

Nadat al die bye opgesuig is, word die buis ontkoppel en kan die swerm na ’n byekas oorgeplaas word. Die versamelbuis Die versamelbuis waarin die bye beland, bestaan uit ’n stuk PVC-pyp met ’n deursnee van 110 mm. Albei kante van die pyp word met PVC-deksels diggemaak.

Die stofsuierpyp word met plastiekkoppelstukke aan albei dekselkante verbind. Aan die voorkant van die byevanger is ’n plastiekboogtuit (in die linkerhand van die man op die heel bo) geheg wat hy by die ongewenste korf indruk om die bye op te slurp. ’n Skakelaar is ook by die tuit aangebring om die suigkrag met die hand te beheer.

Sodra die versamelbuis vol is, word die stofsuierpyp ontkoppel en ’n pasgemaakte deksel oor die boonste opening van die buis geskuif om die bye binne te hou.

foto 3

Arend gebruik meer as een versamelbuis om die aksie af te handel. Ondervinding het Arend en sy dogter, Helena, geleer om die korrekte hoeveelheid bye op te suig sonder om hulle te versmoor. Daarna word die bye in ’n byekas oorgeplaas.

Die byekas

Arend se byekas is toegerus met ’n verwyderbare deksel waardeur die bye maklik in die korf oorgeplaas kan word.

foto 4

’n Gewone deksel word daarna oor die inlaatgat geplaas en die korf is gereed om na ’n permanente standplaas verskuif te word.

Nuttige wenke

Ken jou perke. Die stofsuier is opgewasse vir maklik bereikbare swerms, soos aan ’n boomtak, teen ’n muur of op plase in die omhulsel van ’n dompelpomp, maar nie moeilik bereikbare plekke nie. Van die plekke wat Arend die meeste hoofbrekens besorg, is die ruimte tussen stene in ’n dubbelmuur.

Skei tydelik van jongbykoeke. Die stofsuier kan wel gebruik word wanneer ’n swerm reeds heuning- en jongbykoeke gemaak het. “Die bye word eers in die versamelbuise gehou totdat die jongbykoeke na ’n korf verwyder is. Daarna word die bye deur ’n spesiale deksel na die korf oorgeplaas om die jong bye te versorg.”

Beheer die krag. Arend waarsku dat die stofsuier se suigkrag nie te sterk moet wees nie en ook nie aanhoudend toegepas word nie, anders kan die bye inmekaar gesuig word. Om dit te voorkom, is die stofsuier met ’n kraan na buite toegerus om die suigkrag te verminder.

Indien te veel bye met een sessie opgesuig word, kan die drukking tussen die bye so groot word dat die opgegaarde heuning uitstort en die operateur ’n pak taai, dooie bye kry. “Die doel van die byvanger is die bymekaarmaak van ’n kleiner getal aktiewe bye in die versameldrom wat telkens met leë drommetjies omgeruil word,” sê Arend. “Ek gebruik gewoonlik drie.”

Moeilik bereikbare swerms

Vir bye in moeilik bereikbare ruimtes, soos onder ’n fontein, het Arend raad. Hy het ’n vangkas ontwikkel waarmee hy gereeld sukses behaal.

foto 5

Dit is gegrond op byevangers se tegniek waarvolgens ’n tregtervormige sif oor die opening van ’n ongewenste nes geplaas word, met ’n leë byekorf daarnaas. Die bye verlaat die nes deur die tregter en kan nie met hulle terugkeer die nou punt van die tregter vind nie en versamel aan die wye kant en daarna in die broeikas.

Met Arend se stelsel bepaal hy eers die opening waar die bye hul nes verlaat, en maak seker dat daar geen ander openinge of gleuwe is nie. Die vangkas se opening word met ’n pyp of tonneltjie aan die uitgang van die nes verbind. Deur ’n opening aan die voorkant van die kas kan die bye vrylik heen en weer beweeg.

“Die enigste verandering vir die bye is dat die posisie van die ingang verander het en dat hulle deur die vangkas moet beweeg. Hulle raak vinnig daaraan gewoond, asook aan die wasvelle wat in die kas aangebring is.”

Ná ’n paar dae word die deurgang na die koningin afgesluit en die bye in die kas word dan verplig om binne te bly en heuningkoeke in die wasvelle te maak. Die versperring word bewerkstellig deur ’n swaaiklep in die swart pyp wat met dun draadjies beheer word.

Wanneer die koningin na die bye begin beweeg, loop sy haar teen die versperring vas. Langs die versperring is ’n opening na ’n siftonnel (die dwarsbuis op die foto) waardeur die koningin kan beweeg tot tussen die res van die bye. Daarmee is die vangproses afgehandel en kan die bye na ’n ander korf oorgeplaas word.

Bye só hervestig

Arend gebruik polistireenhouers vir sy bykaste waarin hy die bye hervestig. Hulle kan ook maklik na ander korwe oorgeplaas word deur die nuut gevormde heuningkoeke aan die houtstafies uit te haal. Die polistireenhouers is maklik hanteerbaar en bestand teen koue en hitte. Om die houers te plaas het Arend staanders laat maak.

foto 6

’n Ysterpen word in die grond ingeslaan, ’n staander word opgesit en dan word die houer met bye daarop geplaas. Vir stabiliteit word die houer met ’n rubberband aan die staander geheg. Dit kan dus maklik verwyder word as die boer sy gewasse met gif wil bespuit.

Wen R1 000 met jou boereplan! Nog ’n inskrywing in ons kompetisie vir boereplanne en -patente wat werk. ’n Wenner word elke maand aangewys en hy of sy wen ’n kontantprys van R1 000.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.