Mnr. André Cilliers, ’n sakeman van Krugersdorp, se hart trek van kleins af punt na die boerdery; daarom het hy in 2014 deeltyds op ’n stukkie huurgrond begin boer. Van die begin af het hy agtergekom hy kan praktiese boerepatente uitdink en bou wat hom nie net geld bespaar ten opsigte van wat nuwe werktuie sy klein veeboerdery sou kos nie.

In sy geval is dit dikwels ook meer prakties. Vandag spog hy met toerusting wat die deeltydse boerdery ’n plesier maak. Hy woel en werskaf wanneer hy tyd kry by sy boerdery met vleisbeeste en -skape, ’n hanetree van die geskiedkundige Sterk- fonteingrotte af in die Wieg van die Mensdom, met fossiele waarvan sommige meer as 4 miljoen jaar oud is.

Die lekbak word volgemaak. By mnr. André Cilliers is sy plaaswerker, mnr. Learnmore Sibanda. André se eerste lekbak-prototipe was van twee afgeloopte buitebande gemaak, maar hy het hierdie moderner weergawe professioneel laat vervaardig.

Bak hou lek droog

Die boereplan waaroor André baie opgewonde is, is sy lekbak wat hy self ontwerp het om beeslek droog te hou. “In die somer reën die lek in ’n oop bak dikwels nat. Dit is dan nie net nutteloos nie, maar as die lek ureum bevat, kan dit tot ureumvergifting lei. Beeste mors ook soms in ’n oop lekbak.”

Hy het eers ’n baie basiese lekbak van twee ou buitebande gebou wat hy bo-op mekaar vasgemaak het. Bo-op het ’n ronde rubberdeksel gekom om die reën en beespote uit te hou. Dit is in die middel aan ’n pen vasgebout wat onder in die lekbak geanker is.

Die beeste het gou geleer om die deksel met hul neuse op te lig om die lek te vreet, terwyl die ankerpen keer dat hulle die deksel afgooi. Voëls kan ook nie proteïene wat by die winter-soutmengsel ingemeng is, soos mielies, oppik nie. Hierdie prototipe het André basies niks gekos nie.

Toe hy sien dit werk goed, het hy ’n lekbak van staal laat bou. In die plek van die buitebande is nou ’n staalbak wat op ’n pypraamwerk vasgesit is om die bak sowat 200 mm van die grond af te hou. Dit laat reënwater toe om onderdeur te vloei. Die deksel is steeds gemaak van ’n stuk rubbervervoerband wat 1,2 mm dik is.

Hy is van plan om dit kommersieel te bemark en is nog besig om die koste te beraam.

Die beesdrukgang wat André self gebou het. Dit is in ’n V-vorm en die sye is met rubberstroke bedek om te voorkom dat mense deur beeste met horings beseer word.

André het ook sy eie beesdrukgang van ou boorgatpype gebou. Dit het ’n V-vorm sodat die beeste nie in die drukgang kan omdraai nie.

Die kante is met rubberstroke bedek om mense teen beserings te beskerm wanneer hulle met die beeste werk; veral beeste met horings. Die drukgang het hom sowat R5 000 gekos.

André het hierdie spuitdip vir skape ook uitgedink. Dit is grootliks van afvalma- teriaal gemaak. Die skape word deeglik natgespuit as hulle deur die spuitkas loop.

Spuitdip vir skape

André het ook sy eie spuitdip vir skape van staalplate (1,6 mm dik) gebou. Hulle loop teen ’n loopplank op na die toegeboude diptoestel met ’n in- en uitgang waar spuitstof teen uitwendige parasiete deur 12 spuitkoppe aan die kante en bo sorg dat die skape deeglik natgemaak word. Dit dien die spuitstof teen 20 liter per minuut toe.

Die toestel word deur ’n elektriese 12 V-motortjie aangedryf. “Ek het die staal gekoop en die hele toestel het my sowat R7 000 gekos. Die pomp en spuitkoppe was die duurste onderdele.”

Die spuitstof wat van die skape afdrup, versamel in die voetbad waar hul pote ook deeglik gedip word. Die dipstof vloei met swaartekrag af na ’n ou dieseltenk van ’n vragmotor wat 100 liter kan hou. André gebruik ’n sykous as filter om stukkies mis en ander voorwerpe uit die tenk te hou. Die spuitstof kan dan weer gebruik word.

André se skaapdrukgang wat van afvalpype gemaak is. Hy het die kante met riffelplate bedek
Die hekkie in die skaapdrukgang wat met ’n katrol-en-tou- stelsel gelig en laat sak word.

Hanteerstelsel werk goed

Hy het ook die res van die infrastruktuur vir skaaphantering self gebou nadat hy gekyk het hoe ander stelsels lyk. Dit bestaan basies uit houkrale en ’n drukgang waardeur die skape op pad na die spuit- dip beweeg. Eers word die skape by ’n groot, ronde houkraal ingejaag.

Dit het twee veilingshekke wat aan ’n paal in die middel gemonteer is om die skape te dwing om na ’n kleiner, sirkelvormige kraal te beweeg, wat op sy beurt aan die drukgang gekoppel is. Die kleiner kraal is van ’n ou, ronde wipmatstruktuur gemaak en werk met ’n glyratstelsel sodat die skape nie kan terugbeweeg na die groot sirkel nie.

Op dié manier is dit dan makliker om die skape in die drukgang te kry, waarvan die sye met riffelplate bedek is. Die drukgang se ingang word met ’n valhek beheer deur ’n tou-en-katrolstelsel wat André hanteer.

Hy kan dan in die drukgang met die skape werk, soos om hulle te klas. Aan die eindpunt van die drukgang is nog ’n hek waardeur hy skape kan uitjaag of na die spuitdip stuur. Ook dié infrastruktuur het André min geld gekos.

’n Alpakka pas die skape op. Jakkalse is baie lugtig vir hierdie kameelagtige Suid-Amerikaanse dier.

Alpakka hou skape veilig

André hou ’n alpakka aan om sy skape teen roofdiere, soos jakkalse, te beskerm. Hoewel hierdie kameelagtige Suid-Amerikaanse diere meer bekend is vir hul uitsonderlike haar waarvan kledingstukke geweef word, het hulle ook ’n baie sterk kudde-instink. Wanneer hulle saam met kleinvee aangehou word, waag roofdiere dit nie naby nie.

“Die alpakka is as ’t ware my waghond,” sê André skertsend. Voorheen het hy af en toe ’n skaap weens roofdiere verloor. Nou is sy skape veilig.

Navrae: Mnr. André Cilliers, sel 082 452 4134.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.