Alles loop reg met dié robuuste bossiekapper wat sy man staan oor erosiewalle. Hoe anders as sy  middelpunt ’n kanniedoodbakkie se ewenaar is? 

Vertel ons van jou plan!

Laat hoor asseblief van jou as jy ook ongewone, vindingryke planne het. Stuur ’n e-pos na lbw@landbou.com met foto’s en ’n kort beskrywing.

Boereplanne maak ook TV-buiging

Landbouweekblad het oor die jare al merkwaardige boereplanne geplaas — party daarvan boer nou nog onder die mees geleesde stories op Landbou.com.

Van vandeesweek af is daar maandeliks ’n spesiale insetsel oor boereplanne op Landbouweekblad se TV-reeks, Landbouweekliks, op Via (DStv-kanaal 147).

Kyk op Dinsdagaand 14 September om 19:30 na ’n gesprek met mnr. Louis Strydom van Omnia oor dié reeks wat die room van die boereplanne-oes nuwe TV-lewe gee.

Heruitsendings is Woensdae om 01:30 en 07:30, Donderdae om 13:30 en 18:30, Vrydae om 00:30 en 06:30, Saterdae om 07:00 en Sondae om 17:00.

Dit is nie altyd nodig om die wiel te herontwerp nie. Mnr. James Nel van Koffiefontein het ’n paar duisend rand bespaar met die maak van sy eie bossiekapper, en dit is aansienlik sterker as die model waarmee hy voorheen oor erosiewalle gesukkel het.

Die nuwe werktuig loop op sy eie wiele op die veld se kontoere. Danksy die gebruik van ’n aangepaste ewenaar van ’n Hilux-bakkie “is my model heelwat meer betroubaar teenoor dié van kommersiële bossiekappers se ratkaste”.

Nog voordele is dat dit gesleep kan word, en sy boukoste van sowat R15 000 was aansienlik minder as dié van ’n gebruikte bossiekapper, wat teen sowat R24 000 op die mark is.

Nel het jare gelede as deeltydse boer probleme gehad met gras wat die veldpaadjies toegroei. Hy het toe ondervind dat bossiekappers wat aan die trekker se hyser gekoppel is, in rowwe veld erg rondskommel en nie doeltreffend oor erosiewalle gebruik kan word nie.

Mnr. James Nel
Die onderkant van die bossiekapper met vier swaailemme aan ’n draaiskyf wat aan die enjinkant van die bakkie-ewenaar gekoppel is. Die raam waaraan die beskermende omhulsel van plaatmetaal vasgebout is, is van hoekyster.
Skorte van plaatmetaal is aan weerskante van die as aangebring om te voorkom dat vlieënde klippe en plantaardige materiaal beserings en skade veroorsaak.

Loop op sy eie wiele

“Ek wou ’n soort sleepwa-snyer bou wat op sy eie wiele loop om die veld se kontoere te volg.” Nel het die konvensionele ratkas vervang met dié van ’n aangepaste Toyota Hilux-ewenaar.

Alles loop reg met dié robuuste bossiekapper wat sy man staan oor erosiewalle. Hoe anders as sy  middelpunt ’n kanniedoodbakkie se ewenaar is? 

Die hoogteverstelling kan gedoen word sonder die gebruik van die trekker se hysmeganisme. Die snyer loop op sy eie wiele en hang nie van die trekkerhyser af nie. Die aandrywing is van die trekker se aftakkerpunt, en is met ’n standaard-dryfas verbind.

Die lemme en skyf is aan die enjinkant van die ewenaar geheg wat die omwentelings aanjaag. Nel het toentertyd sy Vaaljapie ingespan en die trekker se kragaftakker is aan die wielkant van die ewenaar gekoppel.

’n Bak van gegalvaniseerde plaatmetaal hou die afval bymekaar en voorkom beserings. Hy sê sy eerste model was ’n kanniedood waarvan net die lemme van platyster (40 mm x 5 mm) vervang moes word.

Lyk skoon komieklik met die breë wiele.
Die voorkant van die herboude Austin Mini wat mnr. James Nel in sy werkwinkel aangepak het. Dié “monster-Mini” word nou deur ’n Ford se V8-enjin aangedryf. Die agterkant van die Mini

G’n sprake van aftree

Nel se vrou, Jackie, bedryf ’n gastehuis op Koffiefontein. Toe hy op 69-jarige leeftyd begin dink het aan aftree, was haar idee eerder “aantree” om onder meer die onderhoud van die plek te behartig.

“Dit is gelukkig vir my kinderspeletjies, aangesien my stokperdjie die versamel van gereedskap is,” sê hy. Hy het toegang tot ’n goed toegeruste werkwinkel by sy huis wat hy in 2008 ingerig het toe hy ’n ysterwarewinkel op Koffiefontein verkoop het.

Nel se handvaardigheid eindig nie by werktuie en instandhouding nie. Hy het selfs ’n “monster-Mini” met ’n V8- enjin gebou wat die inwoners van Koffiefontein se koppe laat draai wanneer hy straat-af ry.