Bultfontein se patentkoning skaaf voortdurend aan sy ontwerpe, wat strek van sy byna ikoniese handmielieplanter en omgeboude koringwerktuie tot kunsmisstrooiers.

Mnr. Michris Janse van Rensburg van die plaas Mooiuitsig, wat onlangs ook op kort kennisgewing ’n baie suksesvolle TED-praatjie gelewer het, het jare gelede al ’n gaping in die mark gesien vir ’n pampoenplanter. Michris is oorval deur versoeke van groenteprodusente, want plantwerk van veral pampoenpitte is ’n gespesialiseerde veld en min voorafvervaardigde werktuie is beskikbaar.

Mnr. Michris Janse van Rensburg

“Die egalige plant van pampoenpitte is ’n wilde perd om op te saal.” Hy sê as jy mooi kyk, sal jy sien die pitte van dieselfde kultivar verskil baie. Party pitte is die helfte kleiner as die ander. “Die saad raak ook net te duur om foute te bekostig. Party kultivars se saad kos al R1 per pit!”

Oorspronklik het Michris sy hand-mielieplanter vir pampoenplant aangepas. Danksy die ontwerp word pitte nou op ’n eenvormige diepte geplant. Die pitte word een-een by ’n kanaalvormige yster, wat as geut dien, ingegooi, en met ’n verstelbare, vierkantige ysterstafie wat aan die handvatsel vas is, in die grond ingedruk.

“Met die aangepaste handmodel was slegs ’n derde van jou gewone arbeidsmag nodig om die pitte te plant.”

Drie rye spore . . .

Meer boere het egter ’n trekkermodel gesoek wat akkuraat is én arbeid bespaar, en Michris het ’n enkelrypampoenplanter ontwerp wat saad egalig kon plant (sien ook “Plant pampoene maklik met dié werktuig”, LBW, 15 Junie 2012).

Nou het hy ’n drierymodel vir ’n Oos-Vrystaatse groenteboer gebou waarvan die plantereenhede met ’n swaaikoppelstuk aan die werktuigbalk geheg is. Al drie funksioneer afsonderlik om die gewenste plantdiepte te behou ondanks die wisseling in die helling van die plantoppervlak.

Die raamwerk van die plantereenhede is van kanaalysterbalke van 76 mm x 38 mm x 2 mm gemaak. Die wiele is van platyster en ronde stawe van 12 mm gemaak, met speke van platyster. Die omtrek daarvan is 1,25 m. Die werktuigbalk is 4,5 m wyd, met die plantereenhede 1,8 m uit mekaar geplaas.

Michris het twee sitplekke aan weerskante van elke draaiskyf, wat van teflon gemaak word, agter die trekkerkoppeling aangebring. Twee operateurs kan dus per eenheid ingespan word om die draaiskyf te voer. Die gewig van die ses operateurs help voorts om die plantereenheid stabiel te hou.

As die skyf oor die skag voor die wiel beweeg, val ’n saadjie in die grond, wat vooraf deur ’n verstelbare planterskoen tot op die gewenste plantdiepte oopgekloof is. Die agterste drukwiel bedek weer die saad met grond.

Reuse-arbeidbesparing

In die geval van waatlemoene en ysterpampoene wat verder uitmekaar geplant word as ander rankgewasse, is die skyf gekalibreer om stadiger te draai, wat maklik deur een man per eenheid behartig kan word. Die afstand tussen kultivars kan van 1 m tot 40 cm wissel, wanneer ’n tweede helper baie help.

Volgens Michris kan die duurste pampoenplanter ter wêreld nie individuele pitte vir die plantproses selekteer nie – ’n eienskap wat syne wél regkry. Die plantestand word nie deur die trekkerspoed bepaal nie, maar met die ratverhouding van die plantereenhede.

Die plantspoed is sowat 5 km/h, wat neerkom op sowat 10 ha per dag in die geval van die drierymodel. Die trekkerkombinasie met ses werkers per drierymodel vervang sowat 60 werkers wat pampoenpitte met die hand plant. Die drierywerktuig kos R30 000.

Korrelkunsmis-toediener

Michris se hoëvolume-kunsmistoediener meet sowat 30 g per keer af vir gebruik in die bosboubedryf. Met die toevoeging van ’n tuinvurkie aan die onderpunt kan die kunsmisdosis saam met die toediening by die stam van jong boompies ingewerk word.

Die werking van die toediener kan in die afmeetmeganisme gesien word. Die waarde van die toestel, wat saam met ’n rugsak met ’n houvermoë van 7 kg kunsmis verskaf word, is R600.

Van Bultfontein-boykie tot TED-sensasie

Wat begin het as ’n wen-inskrywing vir Nampo se boereplankompetisie het tot ’n omwenteling vir kleinboere in Afrika gelei. Kleinboere in Suid-Afrika se buurlande, soos Lesotho, Botswana en Mosambiek, en selfs tot in Zambië en Ghana, trek nou voordeel uit mnr. Michris Janse van Rensburg se patente wat hy onder die naam Backsaver Farming Equipment vervaardig.

Michris het vroeër vanjaar ’n TED-praatjie aangebied oor die ontstaan van sy boereplanne en waar die saadjie vir kleinboer-oplossings geplant is. Hy is egter effens onverhoeds betrap. “Ek het gedog ek praat op ’n boeredag, en toe ek in Johannesburg aankom, is dit net TV-kameras waar jy kyk. En ek moes 12 minute lank Engels praat . . .”

Dié patente bied presisie en spoed, en lei tot hoër opbrengste vir boere wat nie toegang tot finansiering of reusewerktuie het nie. Michris sê dit was ’n ervaring soos min en hy kry baie reaksie danksy die praatjie.

Kyk hier na die praatjie.

Navrae: Mnr. Michris Janse van Rensburg, e-pos: michrisjvr@gmail.com; sel 073 454 4111.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.