Ledigheid hoef nie altyd die duiwel se oorkussing te wees nie. ’n Plaasbestuurder wat begin vanjaar weens reën nie gereeld buite kon werk nie, het die tyd benut om ’n plan te bedink om die plaasvoertuie se lekkende buitebande makliker te herstel.

Mnr. Zane Phomane, voorsitter van die gemeenskapseiendomsforum van die Donkerhoekprojek en ook bestuurder van die naasliggende Heuningkrans-Merinostoetery van mnr. Eddie Prinsloo, is reeds die afgelope 32 jaar by dié boerdery betrokke.

Een van Phomane se take op Heuningkrans is die instandhouding van die voertuie se bande. As hy nie al sukkelende met ’n hamer en beitels ’n lekplek kan herstel nie, is hy die een wat die wiele vir herstelwerk dorp toe moet karwei.

Groot was Prinsloo se verbasing toe Phomane hom op ’n reëndag na die werkwinkel ontbied om sy jongste projek te bekyk.

Phomane het al verskeie boereplanne op sy kerfstok. In 2019 het hy ’n eenvoudige oplossing geprakseer om die gastoestel waarmee jong lammers se sterte behandel word, teen die wind te beskut.

Hy en sy medeboere het ook vroeër ’n blink plan beraam om boetebos uit skaapvag te verwyder. Vir sy jongste plan het hy ’n pyphefboom met ’n skarnierkoppeling binne ’n U-vormige staalbalk geheg.

Die skarnier is sowat 40 cm van die vloer af sodat ’n wiel maklik daaronder kan inpas. ’n Lengte pyp van sowat 50 cm is met ’n tweede skarnier van boute met ’n assie daardeur sowat 30 cm van die eerste skarnier aan die hefboom gekoppel.

Om die wieltoestel te voltooi, is ’n halfmaanvormige stuk yster, wat om die rand van die velling pas, vasgesweis.

Die buiteband kan nou maklik met die halfmaanvormige lip van die velling los gemaak en daarna met ’n ysterstaaf verwyder word. Die proses duur nou enkele minute teenoor die hamermetode, wat baie sweet verg.

“Die eenvoud van die hefboompatent het my verstom. Eenvoud en gemak is tog die sleutelvereistes vir ’n suksesvolle patent,” sê Prinsloo. “Boonop kan die hefboom vertikaal in die U-vorm van die balk weg- gebêre word wanneer die herstelwerk afgehandel is.”

Mnr. Zane Phomane by die werkvlak en windskerms wat hy vroeër geprakseer het om te keer dat die gas-sterttang deur wind belemmer word. Die werkvlak bied genoeg plek vir denneteer, wondaërosol en insekdoder wanneer die sterte van lammers afgesny word. Hy het ’n vierkantige werkvlak van sowat 30 cm van dun metaalplaat in ’n raam van hoekyster geprakseer. Aan die een kant is hakies gesweis, groot genoeg om op werkhoogte aan ’n kraalheining te haak. ’n Vertikale stut is aan dieselfde kant aangebring wat die werkvlak teen ’n heiningpaal kan ondersteun.
Die hefboom kan maklik in die U-vorm van ’n balk versteek word deur die bopunt met ’n stukkie ketting vas te haak.
Die plaas Donkerhoek waar die nuwelingboere nou hul eie skape aanhou.

SPANPOGING OP DONKERHOEK

Sewe manlike plaaswerkers en een vrou was in 2018 die eerste begunstigdes in die Vrystaat wat volle eiendomsreg ingevolge die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Wet 62 van 1997, ook bekend as Esta) ontvang het.

Dié geskiedkundige grondhervormingsinisiatief Prinsloo beteken die agt begunstigdes het die meerderheidsaandeel in Heuningkrans se buurplaas Donkerhoek gekry.

Onderhandelinge oor die transaksie het twee jaar geduur. Prinsloo het die 1 500 ha grond aan die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling verkoop, en die administratiewe proses het onder meer die stigting van ’n vereniging vir kommunale eiendomsbesit vir die nuwe eienaars beteken.

Die oordrag van die titelakte van die grond aan die nuwe boere sloer egter steeds.

’n Praktiese juweeltjie van 2013 se boere­planne was die boeteboskam waarmee mnre. Zane Phomane en sy kollega Tsebe Sphaphathi vorendag gekom het om die wol van die Heuningkrans-Merino’s voor skeertyd skoon te kry. Die boeteboskam bestaan uit ’n blokkie hout met kepe in die hout gesaag, waarin stukkies lem van ’n vleissaag met die gladde kant teen ’n helling na bo ingevoeg word. ’n Jong ooi kan binne sowat twee minute van kop tot stert skoongemaak word – sonder beserings.

Prinsloo en die werkers bedryf die plaas ingevolge ’n samewerkingsooreenkoms met winsdeling. Die werkers se aandeelhouding is 51%. Die groep het reeds sowat 400 hamels en 50 Merinoooie bekom. Hul vee se aanwas word vanjaar die eerste keer op Heuningkrans se produksieveiling op 25 Februarie bemark.

Die 41-jarige mnr. Zane Phomane, gedugte planmaker en voorsitter van die gemeenskapseiendomsforum op die plaas, se 15-jarige tweelingseuns, Tanki en Tankiso, volg nou dieselfde pad as hul pa deur van kleins af by die boerdery ingelyf te word, met die verskil dat hulle eersdaags op hul eie grond betrokke kan wees.

Hulle sal na verwagting in 2022 landbouvakke aan die plaasskool Voorwaarts op Van Stadensrus begin volg.

NAVRAE: E-pos: heuningkrans@shisas.com; mnr. Zane Phomane, 083 316 9907; mnr. Eddie Prinsloo, 083 279 2677.

Vertel ons jou plan!

Laat hoor asb. van jou as jy ook ongewone, vindingryke planne met gebruikte buitebande het. Stuur ’n e-pos na lbw@landbou.com met foto’s en ’n kort beskrywing.