Bultfontein se patentkoning, mnr. Michris Janse van Rensburg van die plaas Mooiuitsig, steek nie lyf weg as dit by hande-arbeid kom nie. Sy boereplanne pas kleinskaalse boere soos ’n handskoen, maar dit stuit nie groter boere om uit sy praktiese ervaring voordeel te trek nie.

HEININGS HERSTEL

Die algemeenste stuk gereedskap wat boere in hul bakkies aanhou, is sweerlik ’n draadtang. Wanneer heinings egter herstel moet word, moet hulle dieper in hul gereedskapskis krap vir ’n draadspanner om die individuele heiningdrade snaarstyf te span.

Janse van Rensburg spring dikwels self in om sy plaasheinings te herstel. Derhalwe het hy jare gelede al begin om sy eie draadspantoestelle te bou. “Oor die afgelope honderd jaar het draadspantegnologie nog nie baie verander nie,” sê hy.

’n Vinnige soektog op die internet lewer verskeie modelle op wat op die sperrat-beginsel werk en omgereken uit Amerikaanse dollar sowat R400 en aansienlik duurder kos. Soortgelyke toestelle op plaaslike winkelrakke beloop sowat R800 elk.

Janse van Rensburg pas sy ontwerpe voortdurend aan. Sy jongste draadspanner werk volgens hom aansienlik beter as die vorige een. “Die vorige draadspantoestel het gewerk, maar daar was dinge wat gepla het, soos dat dit die gebruiker nie genoeg ruimte gegee het om die draad te knoop nie omdat sy ketting in die pad was.

“Dit het beteken ’n mens moes gewoonlik die draad ekstra spanning gee om te vergoed vir wat jy verloor het omdat daar nie ruimte vir die draadlas was nie.”

Die G-klampagtige draadspantoestel met al sy onderdele.
Die sperrat-wiel wat die spanning behou om die heiningdraad styf te span.

Nog ’n krapplek met die ou toestel was dat dit nie ’n fyn verstelling toegelaat het nie, veral as jy met ouer draad gewerk het. Wanneer die draad met die volgende hakies van die toestel stywer getrek is, het dit dikwels gebreek.

Die nuwe ontwerp werk met ’n ratelsleutel wat fyn verstellings aan die spanning moontlik maak. Nou is daar ook genoeg ruimte waar die draadwerker die koppeling tussen die twee punte van die draad kan maak sonder om die spanning te verloor wanneer die toestel ontkoppel word.

Deur ’n ratelsleutel te gebruik wat vir dié doel aangeskaf of uit die werkwinkel geleen word, geskied die opwenproses van die heiningdraad vinnig. ’n Bykomende stukkie pyp is aan die toestel gesweis indien ’n tang as hefboom vir die opwenslag ingespan word.

Janse van Rensburg het ’n ou soksleutel as ’n permanente koppeling vir die ratelsleutel op die toestel se slinger-as vasgesweis. Nou kan die vierkantige koppelstuk van die ratelsleutel vir die draaislag bloot in die sok se agterkant ingedruk word.

’n Staalkabel in ’n plastiese omhulsel met ’n deursnee van 3 mm en ’n lengte van sowat 1,5 m op ’n roller word vir die trekwerk gebruik.

Een van die grootste voordele van die nuwe ontwerp is die gemak waarmee die draadspanner nou draad by trekpale kan span, veral as die drade baie na aan mekaar is. Met die outydse toestel sou die werker die draadhaak laer moes koppel vir vasmaak teen die paal en dan was daar steeds nie genoeg ruimte om die knoop gemaklik te maak nie.

“Met die nuwe ontwerp kan jy dit in lyn haak waar die draad moet wees, met oorgenoeg ruimte om die knoop gemaklik en netjies te maak.”

Die koppeling aan ’n hoekpaal. Aan die agter­kant is die ratelsleutel te sien waarmee die draad styfgetrek word.

SÓ WERK DIT

Die draadspantoestel lyk amper soos die raam van ’n G-klamp en bestaan uit drie stroke dik platyster. Die kort basis is reghoekig met die langer sykant verbind, terwyl die boonste been in die vorm van ’n haak gesweis is. Die basis het ’n assie waarom ’n staalkabel opgewen kan word.

Aan die een kant van die as help ’n sperrat om die spanning van die kabel te behou wanneer die heiningdraad gespan word. Aan die ander kant van die as is ’n sok-koppeling vasgesweis, asook ’n vertikale stukkie pyp waarin ’n plaastang as ’n hefboom gebruik kan word. Die haakkant van die klampstruktuur kan om ’n hoekpaal pas.

Om ’n stukkende lyndraad te herstel, word die weerhakies van die basiskant aan die een stuk los draad gekoppel, waarna die staalkabel afgerol en aan die ander los kant verbind word. Nou kan die operateur die staalkabel begin opwen deur die sperrat aan die basiskant met die ratelsleutel vas te draai. Dan volg die eenvoudige proses om die stukkende draad vas te knoop en die toestel te verwyder.

Die gifspuit en sy rugsakhouer van 16 liter. Aan weerskante is skyfwiele met ’n dikte van 2 mm en ’n deursnee van 300 mm te sien. Dié metaalskywe is met ’n ring van ronde yster (6 mm) oorgetrek.

GIFSPUIT

Janse van Rensburg het al verskeie gifspuitontwerpe op sy kerfstok, en die jongste toevoeging tot sy spuitreeks maak dit moontlik om onkruid tussen rye te bekamp sonder om die gewasse wat in die naasliggende rye geplant is, dood te spuit.

“Boere wat die onkruid betyds met só ’n toestel bespuit, kan baie op arbeid bespaar. Die arbeidskoste om ’n landery te laat skoffel, kan meer as R4 000/ha beloop.”

Deur die onkruid te bespuit, word die grond ook nie versteur nie.

Die spuit is in wese ’n verbetering van ’n vroeëre model, en spuit 40 cm breed.

Die nuwe model het groot skyfwiele aan weerskante en die enkele spuitstuk plaas die gif uit ’n rugsakspuit van 16 liter teen ’n hoek van 80° op die grond tot teen die wiele. Die skerm aan die voor- en agterkant is sowat 5 cm van die grond af, maar stroke seil keer dat die gifsproei uit die bak na die naasliggende plante versprei.

Die draadspantoestel kos R700 en die spuite R2 500 elk. 

NAVRAE: Mnr. Michris Janse van Rensburg, e-pos: michrisjvr@gmail.com, 073 454 4111.